Hulle het ook ’n verdere 10 jaar tronkstraf gekry vir die mishandeling van ’n vyfjarige seuntjie.

Kobus en Louise Koekemoer is op 6 Desember 2017 skuldig bevind aan die moord.

Regter Bert Bam het gesê daar is baie onbeantwoorde vrae.

“Hoe kan ’n ma en pa dit aan ’n kind doen?” het hy gesê.

Bam het ook gesê kindermishandelaars moet vir ’n baie lang tyd uit die samelewing verwyder word, en Poppie se moordenaars het min tot geen berou getoon nie.

Die tragedie van Poppie van der Merwe

Poppie (3) is op Woensdag, 25 Oktober 2016, met haar aankoms by die Brits-hospitaal, dood verklaar nadat sy op 'n plaas naby Mamogaleskraal deur haar stiefpa aangerand is.

Lt.kol Pelonomi Makau, provinsiale woordvoerder van Noordwes, het destyds aan Huisgenoot bevestig dat die kleuter beserings oor haar hele lyf gehad het.

Op 6 Desember 2017 is haar ma en stiefpa in die hooggeregshof in Pretoria deur regter Bert Bam skuldig bevind op aanklagte van moord, kindermishandeling en aanrandig met die doel om ernstig te beseer.

Hy het beslis: "Nie een van die twee beskuldigdes het die kinders beskerm nie. Albei was teenwoordig toe die noodlottige hoofbeserings aan Poppie toegedien is en albei ouers het geweet die ander een mishandel die kinders."

Volgens die lykskouing het Poppie bloeding op die brein gehad wat deur 'n hou teen die kop veroorsaak kon word, vermoedelik enkele ure voor haar dood.

Die beserings oor haar liggaam is waarskynlik deur 'n skoen, 'n volwassene se plat hand en vuis oor 'n tydperk toegedien. Poppie se boetie (toe 5) het getuig Kobus Koekemoer het Poppie die laaste hou toegedien. Hy het ook getuig hoe hy haar kop in die toilet gedruk en dit gespoel het.

Kobus en Louisa is aan die einde van 2005 op Orania getroud en het 'n maand voor Poppie se dood daarvandaan na die plaas naby Brits getrek.

Een van hul Orania-bure het Kobus destyds verkla omdat hy na die bewering die kinders uitermatig slaan. In 'n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot het Louisa dit as "jaloesie" afgemaak.

Kobus is op 23 Oktober 2016 in hegtenis geneem vir die moord op Poppie. Daar is luidkeels in die hof aan hom gesê dat hy "gaan vrek".

Louisa het in November 2017 getuig sy kon nie vir Kobus beheer toe hy Poppie aangerand het nie.

Sy is deur 'n woedende groep mense, onder wie haar gewese man en Poppie se biologiese pa, Christo van der Merwe, toegesnou toe sy op 19 Desember 2016 in die hof verskyn het nadat sy op Donderdag, 15 Desember, in hegtenis geneem is vir die moord op haar dogter.

Op 15 Januarie 2017 verskyn die twee beskuldigdes vir die eerste keer saam in die hof. Kobus se kop was kaalgeskeer nadat hy dae in die hospitaal moes deurbring. Hy het glo probeer om sy eie lewe te neem.