Dis soos 'n riller wat snags keer op keer in haar drome afspeel: 'n Blonde kleuter steek haar handjies na haar uit terwyl trane uit haar rooigehuilde ogies oor haar wange rol.

En elke keer – net voor die droom eindig – sê die fyn stemmetjie vir haar: “Mammie, help . . .”

Marlise Els is nie die klein blondekoppie se ma nie; sy is haar ­ousus. Nou, drie jaar ná die wrede moord op die driejarige Poppie van der Merwe, leef Marlise steeds met die hartseer en selfverwyt saam.

Die vermoorde kleuter, Poppie van der Merwe. Foto:
Die vermoorde kleuter, Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

“Poppie het my dikwels mamma genoem,” vertel Marlise (18). Haar stem is skor.

“Maar ek was nie haar mammie nie. Want as ek was, sou sy dalk nooit soos ’n vuil ondier doodgeskop gewees het nie.” 

Vir die eerste keer sedert die nuus die land in 2016 geruk het dat Poppie se stiefpa, Kobus Koekemoer (45), haar in 'n woedeuitbarsting doodgeskop het, praat Marlise in 'n eksklusiewe ­onderhoud met Huisgenoot haar hart uit oor die gebeure.

Die pyn van die verlies en die hartseer oor die lot wat haar kleinsus getref het, laat haar “soos 'n ­halwe mens” voel.

“Ek was soos 'n ma vir Poppie, want ons eie ma kon nie na haar omsien nie,” sê sy oor Louisa Koekemoer (47) wat ­toegekyk het terwyl haar man haar jongste aanrand.

 “Ek het haar liewer gehad as net ’n sussie. Daarom kan ek soms nie help om myself te verwyt nie – of om te wonder of ék nie iets kon gedoen het om haar lewe te red nie.” 

Kobus en Louisa dien nou albei ­lewenslank tronkstraf uit vir die moord op die kleuter. Intussen probeer Marlise die stukke van haar eie jong lewe optel.

Louisa en Kobus Koekemoer tydens die hofverrigting
Louisa en Kobus Koekemoer tydens die hofverrigtinge. Albei is in 2018 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Soos sy sê: “My ma sit in die tronk, my sussie lê in 'n graf – en ék is die een wat nog elke liewe môre die lewe in die oë moet kyk.”

Hier in haar pa, Freddie Els, se huis op Despatch in die Oos-Kaap skiet haar bruin oë vol trane toe sy vertel van Poppie se sterfdag, 25 Oktober 2016.  

Sy het die tyding skuins ná vyfuur gekry toe haar ouma aan moederskant, Susan Bothma, bel. “Poppie is dood . . . Sy is weg. Hulle kon niks vir haar doen nie,” het sy gesê.

“Ek was so verslae. Ek wou so graag hê iemand moet my vasgryp en vir my sê: ‘Marlise, skrik wakker! Dit was net ’n ­nagmerrie . . .’ ”

Maar die afgelope drie jaar duur die nagmerrie voort terwyl sy die pynlike werklikheid probeer verwerk.

Sowat 11 maande voor Poppie se dood het Marlise hier by haar pa kom woon nadat Kobus en Louisa 'n dag ná hul troue in November 2015 vir haar gesê het sy moet ander blyplek soek.

Marlise saam met Poppie op haar eerste verjaardag.
Marlise saam met Poppie op haar eerste verjaardag. Foto: Verskaf
Op dieselfde verjaardag saam met hul ma, Louisa Ko
Op dieselfde verjaardag saam met hul ma, Louisa Koekemoer. Foto: Verskaf

“My ma het in daardie stadium by 'n kettingwinkel in Orania gewerk. Dis waar sy Kobus ontmoet het. Ek het ­dadelik 'n weersin in hom gehad. Hy het wilde oë gehad – ek was bang vir hom.”

Louisa het 'n paar jaar tevore na ­Orania getrek nadat sy van Poppie se ­biologiese pa, Christo van der Merwe (40), geskei is. Sy wou daar met ’n nuwe lewe vir haar, Marlise, Poppie en ’n seun (nou 7) begin. (Die seun se identiteit word kragtens ’n hofuitspraak beskerm.) 

“Ek is vroeg in my lewe gedwing om ’n volwassene te word,” vertel Marlise van haar eie jeugjare.

“My ma het baie lang ure gewerk, en ek was die een wat Poppie en (die seun) skool toe moes neem. Ek moes hulle tuis versorg, vir hulle kos maak, vir hulle 'n bad tap.

“Ek was nog nie eens op hoërskool nie toe Poppie eendag na my kyk en sê: ‘Mamma, help my . . .’ Ek het vir haar gesê ek is haar sussie, nie haar mamma nie. Toe huil sy en sê: ‘Jy ís, jy’s my mamma.’ ” 

Marlise hou haar pasgebore half­suster in haar arm
Marlise hou haar pasgebore half­suster in haar arms vas. Foto: Verskaf

Marlise en Poppie was baie geheg aan mekaar.

“Sy het die mooiste lag gehad – ­suiwer soos net 'n onskuldige kind kon lag. Ek het haar in 'n boks gesit en haar die hele huis vol getrek. Ons het dit treintjie-­treintjie genoem. Dan het sy uitbundig gelag; sy wou nooit hê dit moes ­ophou nie.”

In die sowat 'n jaar voor Kobus met haar ma getroud is, het Marlise hom leer ken as ’n humeurige man, maar eers ­nadat sy daar weg is, het hy Poppie begin mishandel.

Kobus en Louisa se huwelik het ál storm­agtiger geraak. Regter Bert Bam het ­tydens die vonnisoplegging in die hooggeregshof in Pretoria gesê Kobus het Poppie in dié tyd fisiek begin mis­handel.

“Ek het 'n paar maande voor Poppie se dood vir haar gaan kuier,” vertel Marlise. “My ma-hulle het toe pas uit Orania na Brits getrek. Poppie was angsbevange . . . ­ Selfs toe ek haar in my arms vasgehou het, het sy die hele tyd rondgekyk, so asof sy wag dat iets kom.

“Ek het merkies aan haar lyf gesien. Maar ek was ’n kind – wat kon ek doen?

“En Pops het net haar kop geskud toe ek haar daaroor vra. My ma het my verseker sy het seergekry omdat sy nie ­versigtig was toe sy gespeel het nie. 

‘Ek kan nie glo ek was nie daar om haar te beskerm nie’

“Ek weet nie hoekom ek nie meer vrae gevra het nie. Ek huil elke aand by God omdat ek nie weet hóékom ek nie meer aandag aan die flikkerende gevaarligte ­gegee het nie.”

Op dieselfde dag dat Poppie in die provinsiale hospitaal op Brits waarheen ­Kobus en Louisa haar geneem het oor­lede is, is hy in hegtenis geneem.

Later, tydens die hofsaak, is getuig dat sy weens ’n harde hou teen die kop dood is. Die ­beserings is deur ’n vuis en ’n skoen veroorsaak.

“Ek sukkel vandag nog om daaroor te praat. Ek kan nie glo ek was nie daar om haar te beskerm nie. 

“My ma het my vertel Kobus het ­Poppie die aand voor haar dood teen die kas vasgegooi. Die volgende dag, toe sy nie wou eet nie, het hy haar teen die kop geskop. Voor hy haar geskop het, het hy glo gesê: ‘Ag, sy speel weer dood . . . Ek sal haar wakker kry.’ ”

Dít was toe sy met haar lyfie seer en gekneus van die vorige aand se mis­handeling lusteloos op die mat gelê het.

“Op haar begrafnis het ek en my ma saam gehuil. Maar skielik het my trane plek gemaak vir woede. Ek wou weet hoe sy dit kon toelaat. Maar sy het verskonings aangebied, soos dat sy nie van hom kon ontsnap nie; dat sy bang was. 

“Toe ek geroep is om in die hof te getuig, het ek vir die regter gesê: ‘Sluit hulle toe – hulle verdien nie vryheid nie.’ En ek voel steeds so.”

Daardie dag in die hof was die laaste keer dat Marlise haar ma gesien het. Sy het haar nog nooit in die gevangenis besoek nie. Hulle gesels wel een keer per week wanneer Louisa haar uit die tronk bel.

“Maar ons praat glad nie oor Poppie nie. Ek weet dit sal ’n wraak binne my wakker maak,” sê Marlise.

Haar pa en haar kêrel van die afgelope jaar, Freddie Siebert (20), staan haar by terwyl Marlise nou daarop fokus om haar hoërskoolloopbaan te voltooi.

“Ná Poppie se dood was ek nooit weer dieselfde nie. Ek was bang dat ek vir altyd 'n halwe mens sal wees. Maar in die laaste maande kon ek vir die eerste keer weer asemhaal en sê: ‘Marlise, nou moet jy ­terugbaklei teen die dinge wat jou so ­onderkry – vir jou en vir Poppie.’ ”

  •  Foto's: Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier, verskaf
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.