Hy was reeds op borgtog weens verskeie vorige oortredings en het 'n besonder ongure reputasie.

Twee polisiebeamptes het Richard Pusey (41) Woensdagnag op Melbourne se oostelike hoofweg afgetrek nadat hulle hom in sy sportmotor sien jaag het.

Paneelbordkamera-videomateriaal wat voor hierdie voorval vasgelê is, het reeds gewys hoe sy motor meer as een keer roekeloos en ver bo die spoedgrens verby ander motoriste jaag.

Pusey het positief getoets vir dwelmgebruik toe die twee beamptes hom Woensdagnag in sy Porsche 911 voorkeer. Hulle het besluit sy motor moet geskut word en hulp ontbied.

Kort nadat twee lede van Melbourne se hoofwegpatrollie daar opgedaag het, het 'n groot vragmotor van 'n pluimveemaatskappy in die vier beamptes ingeploeg.

"Dis nog te vroeg in die ondersoek om die presiese bewegings van die vragmotor te beskryf, maar dit lyk asof dit uit een van die verkeersbane in die noodlaan inbeweeg het, vir 'n kort afstand, voor dit teen omtrent 100 km/h in die twee polisiemotors en die Porsche vasgery het," het hoofpolisiekommissaris Graham Ashton van die deelstaat Victoria verklaar.

Twee senior konstabels – 'n man en 'n vrou – en twee manlike konstabels het gesterf.


Pusey het volgens die polisie hierna foto's van die toneel geneem voor hy te voet gevlug het. Hy het boonop die foto's op Facebook geplaas, wat dit intussen verwyder het. Ashton het dit as "afstootlike" gedrag verdoem.

"Van daardie foto's het aanlyn gesirkuleer."

Die botsing verteenwoordig die grootste enkele lewensverlies in die Victoriaanse polisie se geskiedenis.

Pusey, wat intussen gearresteer is, het 13 vorige strafregtelike klagtes teen hom, insluitend diefstal, opsetlike saakbeskadiging en aanranding, en was juis op borgtog terwyl hy gewag het om oor twee maande weer in die hof te verskyn. Teen Donderdag laat was hy steeds in aanhouding.

'n Ondersoek is ook uitgevoer om te bepaal of die vragmotorbestuur onder die invloed van dwelms was, en die polisie het sy huis deursoek.

Benewens sy misdaadrekord het Pusey se aanstootlike persoonlikheid intussen ook in selfoonvideo-opnames van sy gedrag teenoor ander na vore gekom. In een hiervan vloek hy 'n kankerlyer – die vrou van 'n vakman aan wie hy geld skuld vir opknappingswerk – en skree hy hoop sy gaan dood aan haar toestand.

Pusey, 'n huisleningsmakelaar en ywerige sosialemedia-gebruiker, laai ook gereeld video's waarin hy wys hoe hy in sy Porsche resies jaag. Hy het ook al gespog dat hy sy spoedreëlaar inspan sodat hy sosiale media in die ry kan gebruik.

Intussen het een van die slagoffers, Josh Prestney, se ouma Eliza Anderson vertel hoe die jong konstabel net die dag voor sy dood by die patrollie-eenheid begin werk het, vir 'n kort tydperk voor hy na 'n nuwe kantoor oorgeplaas sou word.

"Hy was so trots om sy gemeenskap te dien. Ons was so trots op jou. God seën jou Josh. Ons sal jou vir altyd mis," het sy op Facebook geskryf.


Bronne: 7news.com.au, abc.net.au, theguardian.com, dailymail.co.uk