Marietjie van der Leeuw het ná die dood van haar m
Marietjie van der Leeuw het ná die dood van haar man, Koos, in 2015 haarself een ding beloof: Sy sal nié gaan lê nie – en vandag is haar beeskudde groter as syne. Foto: Lubabalo Lesolle

Soggens, dikwels douvoordag, is dit meestal die luidrugtige gebulk van die beeste wat haar uit haar slaap laat ontwaak – nog lank voor die wekker se alarm skril.

Met voertyd staan Marietjie van der Leeuw (72) dikwels en uitkyk oor die eindelose vlaktes van haar beesboerdery wat voor haar uitstrek.

Die boerdery buite Potchefstroom met sy meer as 2 000 slagbeeste is haar trots. Op sulke oggende bewonder sy alles om haar: hoe die plaaswerkers die groot trop voer; hoe die son oor die geil raaigras hang.

Hier is sy tevrede; hier kan sy die vrugte van byna 50 jaar se arbeid geniet. Maar dan vorm ’n wrang glimlag soms om haar mondhoeke. Want die afgelope vyf jaar – sedert haar man, Koos (toe 68), wreed van haar weggeruk is – beleef sy hierdie dinge sonder hom.

Wanneer ’n neerslagtigheid oor haar uitsak, stap sy na die store op die plaas. En hoop sy om hom weer hier te sien . . .

“Maar vergeefs,” sê Marietjie. “Ek soek na hom daar in die stoor; na hom of na iéts – ’n boodskap of ’n teken. Maar daar’s niks. En dan besef ek weer van voor af: Dis tyd om te aanvaar hy is werklik weg.”

Voor sy dood het sy en Koos nog saam gedroom oor hul planne met die familieplaas en vir mekaar gesê hoe haas ondenkbaar dit klink om eendag die lewe hier agter te laat.

Van aftreeplanne was daar geen sprake nie, selfs nie met albei amper 70 jaar oud nie.

Inteendeel: Koos het pas nuwe trekkers aangeskaf; selfs ’n nuwe sportnutsvoertuig waarmee hulle nog lank die plaaspaaie kon aandurf.

Marietjie en Koos was 48 jaar getroud. Foto versk
Marietjie en Koos was 48 jaar getroud. Foto verskaf

Toe gebeur die ondenkbare. Hy sterf op 18 Augustus 2015 nadat hy tydens ’n gewapende rooftog by die Potchefstroomse slagpale geskiet is – een keer in die rug en nog ’n keer in die kop. Wreed vermoor in sy goue jare.

Maar net twee dae later – haar man nog nie eens ter ruste gelê nie – was Marietjie terug op die plaas waarop die egpaar meer as vier dekades lank gewoon het; terug in haar huis waar sy haar twee kinders grootgemaak en haar vier kleinkinders en vier agterkleinkinders sien grootword het.

Keuses was daar min: Sy moes die bedrywighede en die plaas oorneem; sy moes self begin boer – ’n plig wat sy met liefde aanvaar het, maar waarvoor sy nooit gevra het nie.

Op 22 September vanjaar is Bibi Ngca­mphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi – drie van die sewe beskuldigdes in haar man se moordsaak – oplaas skuldig bevind.

Een rower is destyds op die toneel doodgeskiet; nog twee uit dié groep is later tydens ’n ander rooftog in Sandton doodgeskiet, en ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Tefo Mohua, die vierde oorlewende beskuldigde, is uitgereik ­nadat hy nie vir die uitspraak opgedaag het nie.

Marietjie sê sy het nou – vyf jaar ná Koos se dood – eindelik vrede.

“Ek moes hierdie vraag vir myself eerlik beantwoord: Wat sou dit my baat om jare aaneen te bly tob?” wil sy weet. “Dit sou vir my niks beteken nie – ook nie vir ons kinders en kleinkinders nie. Daarom doen ek dit nie.”

Want sy het eerder self ingespring, en self verder geboer.

Ná haar man se dood het Marietjie haar een ding voorgeneem: Sy sal nie gaan lê nie – selfs nie op die dae wanneer dit voel asof die verlange haar versmoor nie.

Ons gesels op ’n koel oggend onder hoë akkerbome by Marietjie se kantoor op Die Bult in Potchefstroom oor daardie noodlottige dag.

Koos moes vroegoggend ’n faktuur by die slagplaaskantoor aflaai, maar die egpaar het onwetend midde-in die kruisvuur van ’n rooftog beland: Vier gewapende rowers het meer as R75 000 gebuit en hulle in Marietjie-hulle vasgeloop wat toe pas in die parkeerterrein stilgehou het.

Twee skote is op Marietjie afgevuur; ­albei het haar rakelings gemis.

Die verheugde Van der Leeuws in die hof nadat drie
Die verheugde Van der Leeuws in die hof nadat drie beskuldigdes onlangs skuldig bevind is aan die moord op haar man. Van links is Mor­nette, Marietjie en Karel. Foto: Susan Cilliers

“Ek onthou hoe die stukke glas teen my gesig geskiet het soos die koeël die voorruit versplinter het,” sê sy.

Koos het sy sitplekgordel losgemaak, uit die bakkie geklim en self ’n paar skote afgevuur. Met die koeëls wat soos haelkorrels neerreën, het Marietjie platgeval en haar gesig toegedruk.

Binne oomblikke was daar stilte, en toe die skreeuende bande van die wegkommotor.

“Ek het nie eens gedink aan myself nie; ek wou net weet of Koos oukei is. Maar toe ek uitklim, het hy bebloed by die agterwiel gelê. Hy is in die koeëlvuur getref – een in sy rug en nog een in sy kop.”

Koos is met ’n lugambulans na die Mediclinic Sandton geneem, en Marietjie en hul familie het gevolg. Hy is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar.

“Ons het gedink hy leef, maar toe sê die spesialis vir ons hy is dood. Niemand kon dit glo nie. Dood? Hoe? Hy lê dan so vreedsaam daar; hy is nog warm. My skoondogter moes die spesialis seker 10 keer vra: ‘Are you sure?’ ”

Eindelik moes hulle die skoknuus aanvaar. Maar tob kon sy nie. En, sê Marie­tjie, dis buitendien nie wat Koos, haar man van 48 jaar, sou wou hê nie.

Al het die groot huis met haar terugkeer twee dae later leër as ooit tevore gevoel, was wegtrek nie ’n opsie nie.

Ek kon nie toelaat dat vrees my beheer nie; ek was nog nooit ’n bang mens nie. Nou bly ek net hier, alleen, en ek gaan nêrens nie.

“Ek moet eerlik wees: My familie sou my nooit alleen op die plaas laat woon nie.”

Gelukkig het haar kleinseun JB Schonfeld (30) net drie maande voor Koos se dood op die plaas kom werk, en hy en sy vrou kon by haar intrek. Met sy en die res van die familie se hulp is sy nou aan die stuur op die plaas.

“Drie maande later het ons vir hom sy eie huis gebou. Ek kon nie toelaat dat vrees my beheer nie; ek was nog nooit ’n bang mens nie. Nou bly ek net hier, alleen, en ek gaan nêrens nie.”

En sy boer.

“Ek is elke Maandag daar wanneer die vragmotors vol beeste gelaai word. Ek maak seker die voerkarre en die krale bly vol; ek help die slagbeeste laai en kyk na die werkers; en ek doen sommer die boeke ook.”

Marietjie moes noodgedwonge leer om dikwels besluite op haar eie te neem.

“Ons het altyd net voerkallers gehad. Dit beteken ons koop die kallers wanneer hulle 250 kg weeg. Ons voer hulle in die krale en laat hulle dan slag. Maar nou het ons ook C-graad-koeie – ons maak die kallers groot voor ons hulle laat slag.”

Marietjie en JB het spilpunte op die plaas laat aanbring. “Ons groei nou self ook hawer en mielies vir die diere. Op ’n ander gedeelte van die plaas groei ons nou raaigras waar die diere kan wei.”

Sy het ook twee graansilo’s op die plaas laat aanbou om dié voer in te berg.

“Ons het baie dinge hier laat gebeur,” vertel sy trots.

Moenie ’n hartseer storie skryf nie. Sê eerder hoe ek opgestaan het, hoe God my dra en hoe my familie my deur alles ondersteun.

Maar die lang dae op die plaas is nie dieselfde sonder Koos nie, erken Marie­tjie.

“Jinne, ek wens nog elke dag hy was hier. Hy was briljant, het altyd ’n oplossing vir alles gehad. Male sonder tal kom ons voor ’n hindernis te staan en dan dink ek: Ek wens Koos was hier; hy sou ’n antwoord hê. Maar dan besef jy weer hy’s nie hier om raad te gee nie. Hy is nie meer hier nie – punt.”

Toe ons begin groet, staan Marietjie op.

“Onthou nou,” sê sy dan skielik met ’n stokstywe wysvinger. “Moenie ’n hartseer storie skryf nie. Sê eerder hoe ek opgestaan het, hoe God my dra en hoe my familie my deur alles ondersteun.”

Want al is die verlange blywend, het sy berusting gevind.

“Ek wil nie vir ewig treur nie. Dit sou nie Koos se goedkeuring wegdra nie. Ek ken hom so goed soos ek myself ken. Seker die belangrikste is dat hy God geken het. En dis waar my troos vandaan kom: om te weet hy is by die voete van die Here.”

Buitendien, sy het heeltemal te veel werk om bedroef te wees. Dan maak sy verskoning: Die boeke is laat; sy sal moet opskud.

“Ek dink ou Koos is geweldig trots op sy vroutjie,” sê sy. “Ek sal liewer nie vir hom sê ek het nou meer beeste op die plaas as wat hy gehad het nie. Hy hoef darem nie álles te weet nie.

“Solank hy net weet ek is oukei en ek het opgestaan – en dat sy ou vroutjie hom eendag weer by die hemelpoorte sal ontmoet.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe