Die grootskaalse soektog na Klarissa het Donderdag tot ná middernag geduur.
Roeibote, hommeltuie, mikroligte vliegtuie, helikopters van die polisie se soek-en-reddingspan in Kimberley en die gemeenskap het onverpoos help soek tot dit te gevaarlik geraak het om aan te gaan.
Die soektog na Klarissa is Vrydagoggend vroeg hervat.
Awie Greyling, Klarissa se swaer, het Vrydagoggend aan Huisgenoot bevestig sy skoonsussie is nog nie gevind nie.
“Dit gaan bitter sleg met die familie,” het hy vertel. “Dis nie ’n lekker ding dié nie.”
Hy vertel sy het by haar ouers in Orania gewoon en sou weens die inperking aanlyn met haar tweede jaar van studie in sielkunde aan die Noordwes-universiteit voortgaan.
Hy het vertel sy vrou, Charlize, is stukkend.
Karlie Lubbe, ’n vriendin, sê Klarissa kom oorspronklik van Ermelo in Mpumalanga.
“Sy het in 2019 aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Haar ouers het toe na die Noord-Kaap verhuis. Sy is ’n pragtige mens en ’n ongelooflike hokkiespeler,” vertel Karlie.
Meegesleur
Volgens Joost Strydom, die uitvoerende hoof van die Orania-beweging, is Klarissa se ouers nuwe intrekkers.
Hy het bevestig die voorval het Donderdag kort voor donker gebeur.
“Ons veiligheidspanne is omstreeks 19:00, sowat ’n uur voor die laaste lig, gemobiliseer,” sê hy. “Klarissa en ’n groep vriende het met bande by die Oranje-rivier afgedryf. Sy het in ’n fratsongeluk van die binneband afgeval en die stroom het haar meegesleur.”
Hy vertel toe die vriende weer aan land kom, het hulle dadelik hulp ontbied. “Die gemeenskap het in hul honderde opgedaag om te help soek,” vertel Joost.
“Een ou het sy mikroligte vliegtuig ontplooi, ervare roeiers het kom help en boere het tot laatnag by hul pompstasies met flitse waggehou.”
Ben Almero, wat ’n veiligheidsmaatskappy besit en by die soektog betrokke geraak het, het aan Huisgenoot gesê: “Dit lyk nie goed nie.”
Ook hy het vertel die rivier loop tans baie sterk en na wat verneem word, is Klarissa met die stroom meegesleur.
“Ek het verstaan nadat sy afgeval het, het sy eers verbete aan een van haar vriende se bande probeer vashou. Maar later was sy só gedaan dat sy gesê het sy gaan los. Van daar is sy nog nie weer gesien nie.”
Volgens Ben is ook die polisie in Kimberley se soek-en-reddingseenheid ontplooi, en gaan hulle na verwagting sluise toemaak in ’n poging om Klarissa te vind. Karlie het verder vertel hulle as vriende is baie bekommerd.
“Dit is al meer as 11 ure. Klarissa is ongelooflik talentvol, tog nederig. Sy het die vermoë om binne sekondes in jou hart te kruip en ’n leeftyd daar te bly.”
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET