Nooit sou sy op daardie dag kon voorspel hoeveel dae en nagte van hel nog vir haar voorlê nie, sê Amanda Bothma. En veral nie dat sy net minder as twee jaar later, vroeg in Mei vanjaar, sou moes hoor haar man is dood nie.

“Hoe beweeg ’n mens aan?” vra Amanda toe sy Donderdag telefonies met Huisgenoot gesels. Dan vra sy skor: “Wat beteken dit om aan te beweeg? Moet ek vergeet van hom – van my man; die pa van my kinders; my rots; my álles? Ek kan eenvoudig nie. Ek soek net my man terug.”

Amanda se man, Christo, is in September 2018 in Burkina Faso in Wes-Afrika ontvoer. Hy het vir ’n goudmyn as ’n instandhoudingsbestuurder en ’n passer-en-draaier gewerk.

Christo het destyds planne gehad om na Suid-Afrika terug te keer om vir sy gesin in Potchefstroom te kuier. Maar hy is 10 dae voor sy terugkeer saam met Vikram Patel, die myneienaar se seun, en nog vier ander deur ’n terroristegroep – wat glo bande met Al-Kaïda het – voorgelê en ontvoer.

Amanda en haar gesin. Foto verskaf
Amanda en haar gesin. Foto verskaf

In Mei 2020 het ’n tweede skok gevolg: Die noodleningsorganisasie Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman het haar laat weet dat twee onafhanklike tussengangers, een van Mali en een van Nigerië, sê die gevangenemers hou vol Christo is dood.

Maar vier maande later is daar nog steeds geen bewys van sy dood nie.

“Gister was ’n ontsettende moeilike dag,” vertel Amanda oor die twee jaar herdenking van Christo se ontvoering. “Hulle sê die dae raak makliker, maar ek ervaar dit nie. Die seer word meer; die vrae word meer. Dit verdwyn nie. Jy kan nie opgee nie, maar jy verloor elke dag nog ’n stukkie van jou hart.”

Christo en Amanda in gelukkiger dae. Foto: Verskaf
Christo en Amanda in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Haar stem is skor. Wanneer Amanda emosioneel raak, hou sy eers op praat. Dan sê sy tog: “Die seer is nou selfs meer as wat dit destyds was. Die onsekerheid maak mens mal.”

Christo sou op 19 Augustus vanjaar 55 jaar oud word. Amanda en haar kinders het op daardie dag Christo se gunstelingontbyt, geposjeerde eiers, vir aandete geëet. En die trane het vrylik geloop . . .

vrou,hartseer,potchefstroom,vermiste man
Amanda is magteloos oor haar vermiste man. Foto: Fani Mahuntsi

“Ek het vandeesweek weer met dr. Sooliman gepraat, en hy het vir my gesê hulle is steeds besig met onderhandelings met die gevangenemers om bewyse aan ons te stuur dat Christo werklik dood is – maar sonder om iets daarvoor te betaal. Maar vergeefs. Daar is vir ons geen antwoorde of bewyse nie. Dit maak in elk geval nie saak nie – ek sal glo my man leef tot ek die dag sy liggaam sien.”

Amanda en Christo sou vanjaar 25 jaar getroud wees. Hulle was 28 jaar lank saam.

“Ek sal myself nooit toelaat om eenvoudig net op te gee op my man nie,” sê Amanda. “Ek en my kinders glo almal hy leef. Hoe kan mens anders glo? Dink jou dit in: iemand sê aan jou jou geliefde is ontvoer. Maande later kom nog nuus: hy is dood. Gaan jy dit net aanvaar? Dis onmoontlik.”

’n Doodsertifikaat is maande na die beweerde bevestiging van Christo se dood steeds nie aan haar uitgereik nie, sê Amanda.
Dan wil sy weet: “Wat sal dit my in elk geval baat? Ek kon hom nie sien nie – ek kon nie groet nie.”

Haar grootste wens bly dít: dat haar man sal terugkeer na Suid-Afrika – selfs al leef hy dan ook nie meer nie.

“Daar is niemand vir hom daar anderkant nie,” sê Amanda weer tranerig. “As dit so is dat hy dood is – selfs al glo ek dit nog nie – moet sy liggaam teruggebring word hierheen sodat hy tussen sy geliefdes kan rus. Ons skuld dit vir hom. Maar tot op daardie dag sal ek bly vasklou aan hoop; ek sal bly glo my Koekie kom terug huis toe.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe