Amanda Bothma
Christo en Amanda Bothma in hul jonger – en gelukkiger – dae. Foto: Facebook/Amanda Bothma

Dis dalk die derde Kersfees sonder haar man, maar steeds sal daar op dié dag sy gunstelinggeregte op die gesin se eetkamertafel staan – ’n skaapboud saam met aartappelslaai, gevulde eiers en ’n kerrienoedelslaai.

Elke jaar wanneer Kersfees aanbreek, is die verlange na haar man selfs meer as tevore, sê Amanda Bothma van Potchefstroom oor haar man, Christo.

Christo is in September 2018 in Burkina Faso in Wes-Afrika ontvoer. Hy het vir ’n goudmyn as ’n instandhoudingsbestuurder en ’n passer-en-draaier gewerk. Hy het destyds planne gehad om na Suid-Afrika terug te keer om by sy gesin te kuier, maar is 10 dae voor sy terugkeer deur ’n terroristegroep voorgelê en ontvoer.

“Ek kan vir jou sonder skroom sê: Dit word nie beter nie; dit word net erger,” sê Amanda aan Huisgenoot. Sy is sommer vanuit die staanspoor emosioneel.

“Hierdie tyd van die jaar lê die pyn steeds vlakker. Om te dink hy gaan nie hierdie Kersfees hier wees nie, ook nie die volgende een nie en ook nie die een daarna nie. Dit breek my hart.”

Amanda en haar gesin. Foto verskaf
Amanda en haar kinders. Foto: Verskaf

In Mei vanjaar moes ’n gebroke Amanda by die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman hoor haar man is dood. Die ontvoerders het glo dié nuus aan twee onafhanklike tussengangers, een van Mali en een van Nigerië, bevestig.

Al is daar meer as ’n halfjaar later nog geen bewyse van sy dood nie, het die ontvoerders nagenoeg R2 miljoen van Amanda geëis vir bewyse dat hy wel dood is.

“Ek het nie eens daardie tipe geld nie,” sê Amanda skor. “Ek weet buitendien nie of ek dit glo nie.” 

Volgens Amanda het Imtiaz die regering in Mali genader om ’n doodsertifikaat vir Christo uit te reik. Die doodsertifikaat kon egter steeds nie uitgereik word nie weens ’n staatsgreep in dié land.

vermis
Amanda en Christo het gereeld motorfietssaamtrekke bygewoon en naweke op “breakfast runs” gegaan. Foto: Verskaf

Maar selfs al word dit uitgereik, sê Amanda, sal dit in elk geval nie vrede of afsluiting bring nie

“Die doodsertifikaat sal vrede vir ander mense bring, maar nie vir my nie,” sê Amanda. “Dan kan ons vir hom ’n roudiens hou en aanbeweeg. Maar hoe doen ek dit? Hoe sit ek in ’n roudiens en huil my hart uit oor my man se dood terwyl ek eintlik in my hart nog glo dat hy leef? Ek kan dit eenvoudig net nie doen nie.”

Christo sou op 19 Augustus vanjaar 55 jaar oud word. Al is daar uit vele oorde bevestiging van sy dood, wil sy dit nie glo tot sy bewyse daarvan het nie, sê Amanda. 

“Ek dink wat die seerste maak, is wanneer mense my aanmaan om net aan te beweeg. Dis wreed. My man is kastig al langer as ’n jaar dood, maar hoekom kan niemand vir my bewyse daarvoor verskaf nie? Hoe kan iemand van my verwag om aan te beweeg en van my man te vergeet as ek nooit kon koebaai sê nie?” 

Christo Bothma se gesin het hom in Junie 2018 laas
Christo se gesin het hom in Junie 2018 laas lewend gesien. Foto: Verskaf

Sy sê al is haar kinders, Jacques (27), Christopher (25) en Mariska (22), haar grootste ondersteuning, is dit ook vir hulle moeilik om aan te gaan sonder antwoorde. 

“My meisiekind en haar pa het ’n ontsettend noue band gehad. Dis vir haar, en ook vir my seuns, ongelooflik erg om nie te weet wat régtig gebeur het nie. Dink jou dit net vir ’n oomblik in: Hoe aanvaar jy jou pa se dood sonder enige bewyse daarvan? Dis onmoontlik; dit kan eenvoudig net nie gebeur nie.” 

Met elke groot geleentheid wat Christo al misgeloop het, soos sy verjaardag en Kersfees, doen die Bothmas iets om hul eggenoot en pa te onthou, vertel Amanda. 

Christo en Amanda in gelukkiger dae. Foto: Verskaf
Amanda sê sy glo in haar “hart van harte” dat haar man weer sal terugkeer huis toe, selfs al is dit ook nie voor Kersfees nie. Foto: Verskaf

“Ons maak vir hom sy gunstelingkosse – soos vanjaar se skaapboud waaroor hy so mal was – en hou sy besittings nes dit altyd was, selfs die foto’s van hom,” sê sy.

In haar “hart van harte” glo sy dat haar man weer sal terugkeer huis toe, selfs al is dit ook nie voor Kersfees nie.

“Ek gee nie om hoe hy terugkom nie, solank hy net weer huis toe kom. As hy dood is, sal ek dit aanvaar. Dan wil ons hom hier ter ruste lê, tussen sy geliefdes en waar hy geliefd was. Maar as hy leef, bid ek dat die Here my genadig is; dat Hy my man terug huis toe stuur, want ek weet nie hoeveel Kersfeeste ek sonder hom kan wees nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.