Dit was soos iets uit ’n Hollywoodfliek, sê Nicolette Lottering (50) oor die voorval in Maartmaand by die Rooshoek Gastehuis, kapel en teetuin in Potchefstroom.

“Dis iets wat jy wraggies net een keer in jou lewe teëkom,” sê sy Vrydag telefonies aan Huisgenoot.

Nicolette en haar seun, Ben-Nico (18), sou op daardie middag op 16 Maart “sommer gou” ’n drankie by die teetuin gedrink het, vertel sy. Ben-Nico se vriendin, Charlotte, is ’n kelnerin by die teetuin.

Maar toe kom die versoek van ’n bekommerde Ceciel Ungerer (43): ’n vrou wat verby die gastehuis gestap het, het skielik in kraam gegaan – en ’n ambulans gaan heeltemal te laat wees . . . 

Rooshoek gastehuis
Ceciel Ungerer. Foto: Verskaf

“Die dame was besig om huis toe stap nadat sy by die Potchefstroomse hospitaal ondersoek is,” vertel Ceciel.

“Dis Patrick Molemoeng, die tuinier, wat haar eerste opgemerk het. Sy het kort-kort stilgehou en later half bukkend gestaan en toe begin kreun van die pyn. Hy was bekommerd en het ons kom roep.” 

Ceciel en haar personeel het die vrou tot binne die erf gehelp. Maar ’n nuuskierige klein mense het geweier om nog ’n oomblik langer te wag, sê sy. 

“Die vrou het begin kraam, en kort voor lank gesê dit voel asof die babatjie reeds uit is. ’n Duisend dinge gaan deur jou kop, maar van alles is dít die grootste vraag: Gaan hierdie kindjie oukei wees? 

“Ek het vir Charlotte gevra om in die teetuin te hoor of daar iemand is met ’n mediese agtergrond. En toevallig, het sy gesê, is haar vriend se ma ’n verpleër gewees.” 

Rooshoek gastehuis
Nicolette Lottering. Foto: Verskaf

Nicolette verpleeg nie meer nie, maar werk by ’n psigiatriese hospitaal in die stad. Maar tog het sy haar na die stoep gehaas, vertel sy. 

“Ek het niks aan my gehad nie: nie handskoene nie en geen ander toerusting nie. Ek het vir Ceciel gevra om vir my twee inkopiesakke en kombuistou te bring. Toe ons die vrou se jean losmaak en versigtig aftrek, was sussie reeds in die lewe,” vertel sy.

Die klein babadogtertjie het amper gelyk of sy eers nie asemhaal nie, sê Nicolette. 

“Ek het haar gevryf totdat sy begin huil het – en dis toe dat haar kleur effens pienker word. Mamma was in erge skok gewees en Ceciel het komberse en handdoeke gebring. Ons het haar saam probeer kalmeer en rustig maak. Ceciel en haar personeel was werklik besonders.” 

Nicolette het kombuistou gebruik om die naelstring af te bind, maar die nageboorte het nie onmiddellik uitgekom nie.

Rooshoek gastehuis
Die Rooshoek Gastehuis, kapel en teetuin. Foto: Verskaf

Nooddienswerkers van ER24 in Potchefstroom het ma eindelik na die Potchefstroomse hospitaal geneem. Die baba was eers in die hoësorgeenheid opgeneem omdat sy op 30 weke vroeggebore is, maar is intussen weer ontslaan, sê Nicolette.

“Ons het anderdag gegaan om ’n paar goedjies vir ma en dogter te neem. En sy is gelukkig – sy blom. Dis iets wat nie een van ons sommer gaan vergeet nie.” 

Hulle het nou onlangs gehoor die ma het besluit om haar dogtertjie Rose te noem, vertel Ceciel trots. “Rose vir Rooshoek – die plek waar sy in die lewe gebring is.” 

  • Die vrou wou nie ’n onderhoud toestaan nie en het versoek dat Ceciel namens haar praat. Haar naam is bekend aan Huisgenoot, maar word weerhou om haar identiteit te beskerm.