Troeteldiere is onder die grootste videosterre op YouTube, en katte en honde wat saam baljaar, is g’n uitsondering nie.

Maar nes ’n mens dink niks kan jou meer verstom nie, val die kollig op ’n besonderse vriendskap van die viervoetige, stertswaaiende soort. Ontmoet Henry die jaghond en Baloo die Siamese kat . . .

Dié twee is meer as net pelle; hulle is medeavonturiers. Hulle slaap saam, klim berg, swem deur waterstrome en swerf deur woestyne. Noem dit en hulle doen dit. Jy kan maar sê dis die groot bromanse van die diereryk.

“Ek noem hulle broers. Maar ek dink Baloo dink Henry is sy ma, want hy wil hom altyd teen Henry aanvly,” vertel hul toegewyde mensevriend Cynthia Bennett van Denver in Colorado.

Sy het Henry in 2014 aangeneem toe hy net ouer as drie maande was. Eintlik het sy haar oog op ’n golden retriever gehad, maar Henry het haar hart gesteel die oomblik toe sy hom sien. Hy was toe reeds vyf keer so groot as ander hondjies van dieselfde ouderdom.

“Ons het rondgekyk en Henry het net daar gesit,” vertel Cynthia. “Hy het sulke lang bene en die lyf van ’n wolf of poolhond gehad.”

En toe Cynthia by die hok ingaan, het Henry skynbaar ook geweet sy is Die Een. “Hy het net op my skoot opgekrul en op sy rug gedraai en sy kop oor my arm laat lê,” sê Cynthia. “Ek het net daar besluit hy kom saam met ons huis toe.”

Henry die hond en Baloo die kat se eienaar, Cynthia Bennett, is ’n kra­nige stapper en neem haar troeteldiere saam met haar op uitstappies na besienswaardighede in die nasionale parke van die Amerikaanse deelstaat Colorado.

Sy en haar kêrel, Andre Sibilsky, het die tamaai hondjie huis toe gevat en drie dae later het die twee – albei kranige stappers – hom op sy eerste staptog geneem.

“Ons het hom na die Garden of the Gods in Colorado Springs geneem,” sê Cynthia. “Hy het die steilste, hoogste rots gevind en tot op die kruin daarvan gehardloop om die omgewing te bekyk.”

Cynthia en Andre het net daar geweet hulle het nog ’n gretige en avontuurlike stapmaat vir hul ekspedisies.

MAAR kort voor lank wou die paartjie hul gesin uitbrei. Hulle wou graag ’n katjie aanneem en het maande lank na die regte een gesoek.

“Ek het baie verskillende katjies gesien, maar nie een het die regte persoonlikheid gehad nie,” vertel Cynthia.

Maar sy en Andre het geweet hul soektog is verby toe hulle ’n piepklein, asvaal Siamese kruising sien. Nes Henry het die katjie dadelik met Cynthia gekliek.

“Hy het reguit na my gehardloop,” vertel sy.

Toe word Baloo huis toe gevat om sy baie groot ouboet te ontmoet – en tot die paartjie se groot vreugde was dit liefde met die eerste oogopslag. Baloo het goed ingeskakel en oral saam met Henry gegaan – en hy het net mooi niks daarvan gehou om alleen by die huis gelos te word nie.

Elke keer dat Cynthia, Andre en Henry gaan stap het, wou Baloo met alle mag saampiekel. Cynthia kon net aan Henry se leiband raak om aan te dui hulle gaan binnekort stap, dan sou kat die deur dophou en miaau – so asof hy waarsku hulle los hom op eie risiko by die huis.

Toe koop Cynthia ’n harnas vir Baloo en begin haar kat vir die buitelewe afrig. “Ek word baie gevra hoe ek hom daaraan gewoond gekry het,” sê Cynthia. “Maar hy hou regtig daarvan. Hy wil regtig buitentoe gaan.

“Hy is beslis nie meer die soort kat wat ons oor die naweek alleen by die huis kan los nie. Ek dink hy dink hy is ’n hond.”

Cynthia se kêrel, Andre Sibilsky, saam met Henry.

Dit verklaar dalk Baloo se liefde vir Henry. Toe Cynthia die idee kry om hom op die hond se kop neer te sit vir ’n foto, het sy verwag Baloo sou dadelik afspring. “Hy het net die teenoorgestelde gedoen,” sê sy.

“Hy het neergeplof en Henry se kop en nek styf omhels. Henry het net daar gelê. Hy is net so lief vir Baloo.” Die goudbruin brak is ’n waaghals en klouter altyd teen die hoogste krans op om die uitsig te bewonder.

“Ons noem hom ons klein bergbok. Hy maak ons doodbang, want hy dring daarop aan om na die hoogste krans of rots te gaan om daaroor te kyk.”

Die twee diere het baie gou met mekaar gekliek en by hul mensevriende se stappery ingeval.

En nou het hy ’n klein kameraad om hom op sy avonture te vergesel. Maar Henry tree soos ’n ware beskermende ouboet op, so asof hy besef sy broer van ’n ander spesie is baie kleiner as hy. Hy kyk gedurig of Baloo oukei is.

“Baloo kon nie beter by ons gesinnetjie ingepas het nie,” skryf Cynthia by ’n kiekie op Henry en Baloo se Instagramblad, @henrythecoloradodog. Sy en Andre deel gereeld pragtige beeldmateriaal van hul troeteldiere se avonture met hul meer as 200 000 volgelinge.

“Ons het hulle oneindig lief,” vertel sy. Dit lyk beslis nie of die twee dieremaats ’n hondelewe het nie.

BRONNE: THEDODO, BOREDPANDA, INDY100