Nou is oom Bennie en tannie Martha Farao, albei 79 jaar oud, al vier maande getroud.

“Jong, en die oom is so romanties, elke maand op die 15de is ons huweliksherdenking, dan sal hy altyd vir my ietsie klein geskenk gee,” vertel ’n verliefde Martha.

“Sommer ’n bossie blomme of so iets.”

En Bennie lag verleë. “Ja man, of ek sal ’n malva in die tuin pluk en dit so in haar hare druk.”

Troue
Die troubelofte word met 'n soen verseël. Foto: Verskaf.

Dié twee bly sedert hul troudag verlede jaar op 15 Desember in ’n tuinwoonstel in Grabouw in die Wes-Kaap.

“En om te dink, toe ons altwee ons huweliksmaats so vier jaar gelede verloor het, het ons nog vir mekaar gesê ons sal nooit weer trou nie. En kyk nou!”

Die twee het mekaar in die laat 1980’s leer ken toe Martha se dogter, Rencia, as gesondheidsinspekteur in die Richtersveld in die Noord-Kaap begin werk het. As jong meisie het sy toe by dominee Bennie Farao, destyds die VGK-predikant in die dorpie Kuboes, geloseer.

Wanneer die Farao-gesin in vakansietye in die Kaap kom kuier, het Rencia altyd saam gery om weer by haar ouers in Grabouw te gaan kuier. Sy het sowat 10 jaar by hulle geloseer voordat sy teruggetrek het na die Wes-Kaap.

Troue
Die twee verliefdes ná die huweliksbevestiging. Foto: Verskaf.

Ná Bennie se aftrede in 1997 het hy en sy vrou hul in Kraaifontein kom vestig en steeds kontak met Rencia en haar ouers behou.

Nadat Bennie en Martha albei hul wederhelfdes ’n paar jaar gelede aan die dood afgestaan het, het Bennie steeds af en toe gaan kuier.

“Maar toe sien ek die oom kom weer en weer en weer kuier, en sommer meer gereeld ook,” skerts Martha. “En toe is ons van begin laasjaar ’n couple.”

Omdat die twee senior burgers nie eintlik groot partyjiemense is nie, is die huwelikseremonie in ’n tuin op ’n plaas in die Grabouw-distrik gehou met familie en ’n handjievol vriende as gaste.

Martha het self haar trourok en haar bruidegom se das gemaak.

Troue
Die liefde vra duidelik nie hoe oud jy is nie. Foto: Verskaf.

Hul grootste vreugde is om saam in hul groot tuin te werk.

“Jy leer iets van die wonderlikheid van die skepping as jy in die tuin werk,” verduidelik Bennie.

En hulle gesels ook die dae om, voeg Martha by.

“Ons het mos juis met mekaar getroud omdat ons nie geselskap gehad het nie!”