Suid-Afrika se splinternuwe president het halfses Dinsdagoggend met ’n hele groep mense kort op sy hakke die 5 km-roete van die Gugulethu-sportkompleks na die Athlone-stadion aangedurf, en boonop het hy dié keer sy landgenote genooi om saam met hom te stap.

Sowat 100 mense het op die uitnodiging om saam te stap gereageer en was vroeg uit die vere om dié roete saam met hom aan te durf, het Huff Post SA berig.

Ramaphosa wil ’n gesonde leefstyl bevorder en het aan joernaliste wat saam gestap het gesê sy stappies is ook ’n kans om te besin – selfs oor sy kabinet.

Gevra hoe gereeld hy stap, het hy gesê: “Ek stap byna elke dag."

“Volgende week sal ek in ’n ander township gaan stap. So ek sal seker so drie keer per week saam met ons mense stap. Ek sien uit daarna.”

Ramaphosa meen ook hy wil hê sy maag moet ’n bietjie krimp, berig die nuuswebtuiste IOL.


Kort voor hy as president ingehuldig is, is Ramaphosa verlede week op die promenade in Seepunt gewaar waar hy saam met die oudminister van finansies Trevor Manuel gedraf het.

En Kapenaars het links en regs kiekies saam met hom geneem en kon duidelik skaars wag om deel van sy drafklub te word.

Hy is daarna weer Maandagoggend op die promenade gewaar.

Ramaphosa sal Dinsdag repliek lewer op Maandag se debat oor sy staatsrede.