Presidentsvrou gaan nou hooggeregshof toe

akkreditasie
Foto ter illustrasie (pixabay.com)
Foto ter illustrasie (pixabay.com)
En dit oor 'n diamantring van miljoene rande!

Die Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe (53), sukkel steeds om meer as ’n miljoen Amerikaanse dollar te verhaal wat sy beweer ’n Libanese sakeman haar skuld nadat ’n saketransaksie oor ’n diamantring skeefgeloop het. 

Volgens die Zimbabwiese staatsmedia het die presidentsvrou se prokureurs Dinsdag dokumente by die hooggeregshof in Harare ingedien. 

‘Minderwaardige ring’

Mugabe beweer sy het in 2015 die Libanese sakeman Jamal Joseph Ahmed $1,35 miljoen vir ’n diamantring betaal, maar het ’n “minderwaardige ring” van net meer as $30 000 ontvang.

Sy beweer Ahmed het net $120 000 terugbetaal. Nou wil sy hê die hof moet op sy eiendomme en sakebelange in Zimbabwe beslag lê as hy nie die skuld vereffen nie. 

“Ondanks herhaalde eise het die verdediger (Ahmed) nagelaat en versuim om die volle bedrag terug te betaal. Die klaer het geen ander regsmiddel as om vergoeding van die eerbare hof te versoek nie,” haal die staatsbeheerde Herald uit die hofdokumente aan.

Tot nou toe het die staatsmedia berigte vermy oor die voorval wat laat in 2016 en vroeg in 2017 wyd deur die privaat pers gedek is. 

'n Nuwe kinkel in die sage het tydens beweerde uitgelekte WhatsApp-boodskappe tussen haar en Ahmed na vore gekom. Ahmed het haar glo in Desember 2016 hof toe gesleep en haar daarvan beskuldig dat sy beslag gelê het op sy eiendomme in Harare en ook gedreig het om hom seer te maak.

In een van die boodskappe reageer sy na bewering so: "Dreig my net soveel as wat jy wil, die eiendom is weg en jy moet dit maar aanvaar. Jy kan my beledig maar jy skuld my. Jy sal my nie dwing om daardie ding te dra nie."

In 'n stadium het sy hom glo ook onnosel genoem en gesê hy moenie dink hy sal ooit weer die land kan binnekom nie.

Sy het dit ontken en gesê sy wou net die geld terugkry wat sy op die ring ter herdenking van haar 20ste huweliksherdenking wou koop.

Toenemende ekonomiese krisis

Om die besonderhede oor die ring-aankoop weer in die openbare oog te hê, kan nadelig wees vir die presidentsgesin wat gekritiseer word vir hul beweerde uitspattigheid in die aangesig van ’n groeiende ekonomiese krisis en geldknyp.

Zimbabwiërs sukkel om so min as $20 per dag uit die bank te onttrek en vandeesweek het die minister van landbou ’n verbod op die invoer van vrugte en groente geplaas om skaars buitelandse valuta te bespaar. 

Ondanks die toenemende swaarkry waardeur gewone mense in die gesig gestaar word, het sy glo peperduur eiendomme in Harare en Johannesburg bekom, terwyl haar seun uit ’n eerste huwelik na bewering verlede maand twee Rolls-Royce-limousines ingevoer het. Die Wraith-model staan bekend as die kragtigste uit dié motorvervaardiger se stal. Dit neem 450 uur om die motor te bou en af te rond.

Volgens TimesLive het sy in 'n tydperk van ses maande bates van minstens R70 miljoen aangeskaf. Haar eie Rolls Royce Ghost word as die beste in die ultraluukse reeks beskryf en sy het glo R6 miljoen kontant daarvoor betaal. Dit word met die hand volgens die eienaar se vereistes gebou.

Volgens 'n bron gebruik sy Mercedes Benz-motors wat aan die staat behoort wanneer sy in Zimbabwe is, terwyl die Ghost in Suid-Afrika gebruik word.

Bronne: timeslive.comnation.co.ke, news24.com

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees