Die oomblik het kort voor Kersdag 2020 aangebreek.

Vyf jaar en ses maande het reeds verloop sedert sy twee pragdogters, Carli Huyser (19) en haar jonger sussie, Laurie (17), saam verongeluk het.

Die susters Laurie (links) en Carli Huyser (regs)
Die susters Laurie (links) en Carli Huyser (regs) het in Julie 2015 saam in 'n ongeluk gesterf. Foto: Verskaf

Hercules Huyser (56) van Equestria in die ooste van Pretoria vertel hy het op Dinsdagmiddag 15 Desember oudergewoonte in die huis ingestap.

Sy vrou, Hannelie, was nog by die werk.

“Dit was asof die Heilige Gees my gelei het. Ek het na die motorhuis gestap en die boks met die Kersboom en -versierings gaan haal,” vertel hy aan Huisgenoot

Die pa het daar alleen in die huis die Kersboom opgeslaan. Hy het dit noukeurig versier, die helder liggies aangeskakel en in verwondering daarna gekyk soos wat hy al die jare gedoen het nadat Carli en Laurie hulle daarmee verras het.

“Ek het altyd die brandende begeerte gehad om weer die Kersboom op te slaan, want Carli en Laurie was so lief daarvoor om dit saam te doen. Elke jaar was dit groot pret, dan stap ek in en hoor net: ‘Dad! Kyk!’ Dit was die mooiste boom, maar nadat hulle weg is, het ek dit nooit weer gedoen nie.”

Die ongeluk

“Dit voel asof ’n deel van jou hart uit jou bors geruk word,” vertel Hercules oor die dag toe hy op 1 Julie 2015 sy enigste twee kinders saam aan die dood moes afstaan. Carli, ’n eerstejaarstudent aan die Noordwes-universiteit, en Laurie, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Pretoria-Noord, wat vir die vakansie by hul niggies op Lichtenburg gaan kuier het, was op pad terug huis toe, toe die ongeluk naby Brits op die N4-snelweg, gebeur.

Carli se Toyota Etios het ’n Mercedes-Benz reg van voor getref. 

Die bestuurder van dié voertuig is nie ernstig beseer nie, maar Carli en Laurie is dood.

Hercules Huyser, sy vrou, Hannelie en dogters, Car
Hercules Huyser, sy vrou, Hannelie, en dogters, Carli en Laurie Huyser, destyds op vakansie. Foto: Verskaf

Hercules het destyds nog elke halfuur met sy dogters oor die foon gepraat. Elke keer het hy vir hulle gesê: ‘Ry stadig, ry versigtig.’

Die meisies se laaste woorde aan hul pa oor die luidsprekerfoon was: “Love you, Dad!

Die sussies was boesemvriendinne. Die dinamiese Carli was ’n oefenfanatikus, staatmaker en ’n regte “lady”, het vriende en familie destyds op hul gedenkdiens aan Huisgenoot se joernalis, toe nog ’n verslaggewer by Beeld, vertel.

Laurie was op haar beurt die bobaasbakster en grapmaker. 

Hercules het destyds vertel hoe verslae hy is. “Ek kan dit nie glo nie. Hulle was my alles.”

Nou, meer as vyf jaar later, vertel Hercules oor die rouproses.

“Deur die jare het ek dit maar stukkie vir stukkie gevat. Elke dingetjie wat jy daarna doen, is ’n bruggie wat jy moet kruis. Kan jy glo daardie bokse wat ons in haar koshuiskamer gaan oppak het, staan nog net so. Ek sal elke keer die bokse uithaal en op al haar persoonlike dinge afkom. Jy weet, die briefies en foto’s. Daai miniatuur-wasgoedpennetjies . . . Dan oorweldig die emosie my, en moet ek die bokse toemaak en weer wegpak.”

Wyle Carli en Laurie Huyser by hul stiefma, Hannel
Wyle Carli en Laurie Huyser by hul stiefma, Hannelie. Foto: Verskaf

Dit was vir hom en sy tweede vrou, Hannelie, net so moeilik om weer die Kersboom op te slaan.

Tot onlangs.

“Dit was so mooi met die flikkerende liggies teen die dak, maar dit was nie sonder emosies nie,” vertel hy. Hy is egter trots op dié “stappie vorentoe”.

Hy vertel daar staan vir die eerste keer weer geskenke onder boom.

Genesing en bemoediging

Hercules beaam daar is nie ’n handleiding vir ouers wat ’n kind aan die dood moes afstaan nie.

“Ek sien dit weer as ’n nuwe fase. Dit is só. Elke boks wat jy uitpak, elke dingetjie wat jy doen, elke brug wat jy kruis, word deel van die pad na genesing. My geloof het my deur die jare gedra. En die ondersteuning van ons vriende en gemeente. Met hul hulp kon ek elke dag deur die emosionele blokkasies werk." 

Wyle Carli en Laurie Huyser was nie net susters ni
Wyle Carli (links) en Laurie Huyser was nie net susters nie, hulle was ook boesemvriendinne. Foto: Verskaf

Hercules vertel ná die verlies van sy lieflingdogters het baie mense gesê: “Sterkte!”

“Dit is nie regtig iets wat ’n ouer wil hoor nie.”

Met verwysing na die Kersboom sê hy dit het baie vir hom beteken toe mense hom bemoedig.

“Daar was mense wat gesê het: ‘Wow! Wat ’n stap vorentoe.’ Of ‘Wat ’n ongelooflike Kersboom!’ Dit help my om vorentoe te kyk.”

Voluit lewe

“Ek en Hannelie lewe voluit. Ek weet waar my kinders vandag is. Ek loop die pad met my Skepper en weet dat ek hulle weer in die ewige lewe hierna sal ontmoet. Ek is ’n ou wat na buite lewe. Ek is baie betrokke by ons kerk en die bestuur van ons kerk. Ek en Hannelie speel gholf en ons ry fiets.”

Hercules vertel alles wat hy doen, doen hy met passie – ook wanneer hy oor sy dogters praat.

“Ek glo jy moet praat oor jou kinders asof hulle nog steeds hier is, nie asof hulle weg is nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe