Dit begin lyk asof ál meer Britse koninklikes nie prinses Eugenie (28) en Jack Brooksbank (32) se troue môre in die St. George-kapel by die Windsor-kasteel gaan bywoon nie.

Eers was daar gerugte dat prins Charles (69) se vrou, Camilla (71), die troue gaan misloop. Bronne na aan die hertogin van Cornwall het vroeër die week gesê sy het ander verpligtings, maar 'n bron na aan die hertogin sê sy gaan eintlik ’n partytjie by haar woning saam met vriende hou. 

Nou wil dit voorkom asof Eugenie, die “koningin se gunstelingkleindogter”, se oupa, prins Philip (97), dalk moontlik ook nie haar troue gaan bywoon nie. En dis alles haar ma, Sarah Ferguson (58), oftewel Fergie, die hertogin van York, se skuld. 

Philip het glo glad nie ooghare vir sy voormalige skoondogter nie, veral nie nadat sy in 1992 in ’n bikini in St. Tropez in Frankryk afgeneem is waar ’n ander man, haar "finansiële adviseur" John Bryan, haar tone suig nie. Fergie was toe nog boonop getroud met Philip en koningin Elizabeth II (92) se seun, prins Andrew (58).

Philip het glo aan koninklike bronne gesê hy sal môreoggend “opstaan en kyk hoe ek voel” en dan besluit of hy regtig lus het om Eugenie se troue by te woon. Hy neem sedert verlede jaar in Augustus nie meer aan openbare verpligtings deel nie. 

Dit lyk ook of prins Harry (34) en sy vrou, Meghan (37), ook nie heeldag by die troue kan wees nie. Die hertog en hertogin van Sussex sal dalk net ná die troue moet oppak en na Australië vlieg vir ’n beplande oorsese toer. 

Ten minste sal prins William en Kate (albei 36) darem daar wees. Hul twee oudste spruite, prins George (5) en prinses Charlotte (3), is in die trougevolg, so ook Eugenie se niggie Zara Tindall (37) se skattige vierjarige dogtertjie, Mia.

En daar is ook ’n popprinsessie in die gevolg. Die sanger Robbie Williams (44) en sy vrou, Ayda Field (39), wat tans beoordelaars in die Britse sangreeks The X-Factor is, se sesjarige dogter, Theodora Williams, is ook ’n blommemeisie.

Bronne: Telegraph, Daily Mail, Express