Die tafel kreun onder die stapels lekkernye. Daar is botter-croissants, koeksisters wat drup van die stroop en oliebolle wat ’n suikersnor op jou bolip los. Praat van ’n dekadente ontbyt.

Hy begin darem nie elke dag met so ’n sondige buffet nie, vertel prof. Salim Abdool Karim dadelik toe hy dié fees aan ons beskryf. Maar dis ook nie elke dag dat jy 60 jaar oud word nie.

Dr. Salim Abdool Karim,
Dr. Salim Abdool Karim. Foto: Verskaf

Min mense sou stry dat Salim, die regering se hoofraadgewer oor covid-19, ’n behoorlike bederf deur sy gesin verdien het. Want vir “Slim”, soos sy vriende hom noem, was daar die afgelope ses maande in die voorste linie teen die coronavirus g’n blaaskans nie.

“Covid-19 is onophoudelike werk. Daar is baie om te doen, en dit moet alles vinnig gedoen word, want die epidemie beweeg so vinnig,” vertel hy vandag vanuit sy Durbanse studeerkamer.

“As jy twee of drie dae verloor, is jy agter; dan hardloop die epidemie eenvoudig van jou af weg. Ons moes die afgelope maande regtig alles uithaal.”

Met dié dat die covid-19-herstelsyfers die afgelope tyd beter is as die nuwe infeksiesyfers kan hy darem bekostig om ’n bietjie tyd af te neem om sy verjaardag saam met sy gesin te vier. Maar selfs op sy afdae is sy gedagtes nooit ver van werk nie – ’n karaktereienskap waarmee sy kinders goediglik die spot gedryf het met sy verjaardaggeskenk, ’n kappietop wat hulle spesiaal vir hom laat maak het.

Op die rugkant staan “#ProfKarim” en op die bors “#NextSlide” – want almal weet hoe lief hy daarvoor is om skyfies te gebruik wanneer hy sy voorleggings lewer. Maar alle grappies op ’n stokkie.

Vir baie Suid-Afrikaners het dié vermaerde wetenskaplike en veteraanaktivis ’n geloofwaardige stem oor ons vordering in die stryd teen covid-19 geword.

Sy kalm teenwoordigheid en verstaanbare verduidelikings is ’n doepa teen die soms verwarrende, teenstrydige en omstrede uitlatings van die politici.

Salim is verlig dat die eerste golf van covid-infeksies aan die afplat is. Die beste geskenk van sy 60ste lewensjaar was die feit dat hy sy hele gesin onder sy dak kon hê vir sy groot mylpaal.

“Albei my dogters woon in Johannesburg en my seun woon in Kaapstad. Dit is baie spesiaal dat hulle hier by my kon kom kuier.” Sy vrou, Quarraisha, en die kinders het baie moeite gedoen om hom te bederf.

Dr. Salim Abdool Karim en sy gesin
Salim sê sy beste geskenk was dat hy sy mylpaal saam met sy vrou en kinders kon vier. Agter van links is Aisha, Quarraisha and Safura. Voor is Salim en Wasim. Foto: Verskaf

“Hulle het so ’n heerlike ontbyt gemaak, dit het my minstens ’n week gevat om te herstel,” sê hy met ’n laggie. Die Abdool Karim-vroue is meestersjefs, vertel hy trots, en die dogters wedywer graag met hul ma in die kombuis. “Hulle hou veral daarvan om Indiese geregte te kook waarvan die resepte al geslagte lank in die familie is.”

En sy gunsteling? Quarraisha se geurige brijani, natuurlik. Die familie is allesbehalwe streng tradisioneel en konvensioneel in hul lewensuitkyk.

“Vir party klink dit dalk ongemaklik, maar ons praat maklik oor kondome en tersaaklike kwessies oor aandete,” sê Salim. Hy is nie die enigste in die gesin wat die virus beveg nie.

Hul prokureur-dogter Safura (28) spesialiseer in openbare gesondheid; en Aisha (25) is ’n joernalis by die Bhekisisa-sentrum vir gesondheidsjoernalistiek.

Wasim (21) studeer rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Maar Salim se belangrikste bondgenoot is Quarraisha (60), een van Suid-Afrika se voorste epidemioloë.

Hulle het mekaar ontmoet as virologie-studente aan die destydse Universiteit van Natal – min wetende dat hulle eendag saam teen ’n virus sou veg.

In 1986 het Salim ’n beurs aanvaar om aan die Columbia-universiteit in New York te gaan studeer, en op sy afskeidspartytjie saam met Quarraisha gekuier. Die twee het deur die nag gesels en beloof om kontak te behou.

“Terwyl ek in New York was, het ons gereeld vir mekaar briewe geskryf. En so het ek haar toe ook gevra om te trou, en sy het ingestem.”

Hy het ’n blaaskans van sy studie geneem, Suid-Afrika toe gevlieg om te trou, en sy bruid toe na New York geneem. Oor drie dekades heen het hulle die wêreld platgereis, ’n gesin grootgemaak en saamgewerk.

Hulle is vereer vir verskeie van hul gesamentlike navorsingsprojekte, veral in die veld van MIV/vigs. Hulle deel ook die afgelope 20 jaar ’n sekretaresse, vertel Salim. Want sondige verjaardagbuffet ten spyt, hy beskou spaarsamigheid, wat hy by sy pa geleer het, as ’n deug.

‘Ons moes die afgelope maande regtig alles uithaal’

As ’n jong seun het Salim saam met sy pa na sy werk in ’n klerefabriek in Durban gegaan, en tydens al sy skoolvakansies langs hom geswoeg.

“My werk was om elke boks te tel om seker te maak ses voltooide hemde is in elkeen gepak. Ek het dit elke dag heeldag gedoen, en dit was heerlik,” vertel hy. “Ek het mooi herinnerings van die verskillende werkers wat ek so ontmoet het.”

Ook sy streng werketiek het Salim by sy pa geleer. “Ek was ’n baie ywerige leerling; ek het ’n leierskapsrol gespeel in die stigting van sosiale klubs en verskeie aktiwiteite by die skool,” vertel hy.

As skrander leerder met ’n liefde vir die wetenskap en wiskunde het hy sy bynaam gekry oor sy uitgesprokenheid in die klaskamer. “Jy dink jy is slim”, het sy Afrikaansonderwyser dikwels gereageer – en siedaar, ’n bynaam wat soos gom kleef.

Hy vertel hy het vandag steeds kontak met die wetenskap- en wiskundeonderwysers van sy hoërskooldae. “Daardie twee onderwysers het ’n baie groot en waardevolle invloed op my gehad. Hulle het my geïnspireer. Ek kon nie wag vir daardie klasse nie. Dit was baie opwindend.”

Maar moenie dink die toekomstige professor was ’n volslae nerd nie. Hy is dol oor musiek en was selfs ’n ware disko-derduiwel, bieg hy en lag.

“Ek was ’n groot aanhanger van pop- en disko danksy die rolprent Saturday Night Fever. Ek het voorheen ’n disko bestuur wat ek in 1978 self gebou het. Dit het ’n diskobal, beligtingstelsel en rookskerm gehad, de lot! Mense het my vir hul partytjies gehuur.”

Dr. Salim Abdool Karim,
Die regering se covid-19-­ghoeroe, prof. Salim Abdool Karim, het onlangs sy 60ste gevier saam met sy gesin, wat hom met ’n ontbyt bederf het. Foto: Verskaf

Maar deesdae verkies hy dit om lang ente op die strand te gaan stap, en om na Trevor Noah se The Daily Show te kyk.

“Ek neem dit elke aand op, want ek kry nie altyd die kans om dit regstreeks te kyk nie. Ek hou van Trevor; hy’s snaaks en sy kommentaar is relevant.”

Nes in baie gesinne is daar altyd ’n stryd om die televisie-afstandbeheerder in die Abdool Karim-huishouding. “Ons het groot debatte daaroor. My vrou hou van romkoms en ek verkies aksieflieks. Dus maak ons beurte.”

Met die covid-infeksiekurwe wat klaarblyklik toenemend afplat, hoop die egpaar om hul gunstelingreekse op Netflix in te haal terwyl hulle kan.

“Hospitale is nou beter voorberei. Hulle weet watter sale om opsy te sit, hulle weet hoe om covid-pasiënte te bestuur en waar om hul mediese voorraad te kry. Dus sal dit veel makliker wees met die tweede golf,” sê Salim. Maar dit beteken nie ons moet gerus wees nie, waarsku hy, want ons moet gereed wees vir ’n nuwe aanslag indien dit wel kom.

“Ons moet waaksaam bly, ons moet die voorkoms van nuwe gevalle monitor, ons moet in staat wees om te reageer as daar ’n nuwe uitbreking iewers is.” En hy sê dit kalm – nes ons van die gerekende prof. Slim kan verwag.