’n Voornemende bruidegom van Montana in die noorde van Pretoria wag steeds op ’n dringende operasie om sy gebreekte bene te herstel nadat hy die afgelope naweek by ’n verkeerslig deur ’n motor getref is.

Die skok is nog in Anelle Scholtz (35) se stem te bespeur toe sy vertel van die voorval waartydens haar verloofde, Jannie van Niekerk (34), Saterdag op die hoek van Sefako Makgatho-rylaan en Parsleystraat in Montana raakgery is.

Jannie, wat nog in ernstige pyn verkeer en erg deurmekaar is, het sy linkerarm asook sy linkerbeen op twee plekke gebreek. Al sy ligamente aan die agterkant van sy regterbeen is geskeur en hy het ’n kwaai stamp teen die linkerslaap weg. Hy wag steeds in die Steve Biko Akademiese staatshospitaal op ’n operasie om onder meer staalpenne in sy arm te kry. Sy vertel hy het reeds infeksie opgedoen in van sy wonde waar die glasstukke sy rug beseer het.

“Ons is al so lank verloof, met ons finansies het dit maar swaar gegaan, maar ek en Jannie was só opgewonde. Ek het klaar die trourok en alles bymekaar gehad. Ons sou net nie daarna op ’n wittebrood kon gaan nie,” het Anelle Woensdag aan Huisgenoot vertel terwyl sy teen die trane veg.

Anelle Scholtz en haar verloofde, Jannie van Nieke
Anelle Scholtz en haar verloofde, Jannie van Niekerk. Foto: Verskaf

Hulle sou op 14 Desember tydens ’n intieme seremonie op hulle en haar ouers se hoewe in Montana trou, maar nou is alles in die weegskaal, vertel Anelle, wat ook ses en half maande swanger is met haar en Jannie se seuntjie. Anelle het ook ’n seuntjie en dogtertjie, van onderskeidelik 11 en 9, uit ’n vorige huwelik vir wie hulle sorg. Hul pa is oorlede.

Sy en Jannie is al twee jaar verloof en wou graag trou voor klein Bryan-Lee sy opwagting maak. Maar eers het hul familie en vriende vir hul verrassingspartytjies gereël – vir haar ’n kombuistee en vir hom ’n rampartytjie.

“Ek en Jannie moes die oggend nog gaan werk,” sê Anelle wat as junior boekhouer by ’n dekor-verhuringsonderneming werk. Jannie, wat besig is met opleiding om as elektrisiën te kwalifiseer, was ook nog die dag by die werk.

Anelle vertel sy het vroegmiddag klaargewerk toe sy van haar kombuistee uitvind. Ook Jannie was verbaas toe sy vriende by die huis aankom. Tussen hulle het hulle hom vir die pret opgetof in ’n oranje tutu, een van haar pers bra’s met ’n haasstert en -ore, ’n sonbril en ’n towerstaf.

In ’n laaste foto voor hy kort voor 15:00 saam met die manne uit is strate toe glimlag hy nog breed vir die kamera.

Jannie van Niekerk voor sy ramparty en ongeluk. Fo
Jannie van Niekerk voor sy ramparty en ongeluk. Foto: Verskaf

“Ons het (by die kombuistee) net klaar geskenke oopgemaak toe ek sien almal begin verdwyn.”

Sy vertel daar was skielik ’n doodse stilte in die huis wat kort tevore nog jolig was. “’n Yskoue gevoel het oor my gekom. My ma was in die kombuis en het skottelgoed begin was. Ek wou by haar weet: ‘Ma, wat gaan aan? Is Jannie oukei?” Haar ma kon nie vir haar kyk nie en het net gesê sy moet met haar pa praat. “Hy sê toe vir my: ‘’n Kar het Jannie raakgery.’ Ek het toe nog nie geweet hoe ernstig dit was nie. Ek het net begin huil.”

Sy vertel die ongeluk het 15:30 gebeur. Sy het later gehoor hulle moes op die toneel vir Jannie bybring. “Hulle sê daar was geen teken van lewe nie. ’n Vreemdeling het sy hand op hom neergelê en vir hom gebid. Hy het toe bygekom. Ek wens ek kan vir daardie persoon net dankie sê.”

Anelle vertel in haar skoktoestand het sy eers gedink Jannie gaan net hospitaal toe om seker te maak alles is oukei. “Hy kon met my oor die foon praat. Hy het net aanhou sê: ‘Kom net! Waar’s jy?’”

By die hospitaal aangekom het sy besef Jannie is allesbehalwe oukei.

“Die ergste vir my is hom so te sien ly, om hom in soveel pyn te sien,” vertel sy en raak weer emosioneel.

Die troue is nou die minste van haar bekommernisse. Sy het nog nie die moed gehad om die 60 gaste te laat weet hulle gaan die troue moontlik vir eers moet afstel nie. Sy glo sy vriende het gedink as hy by die verkeerslig geld insamel, sou dit kon bydra aan die kos op die troue waarvan hulle die koste nog moes dek.

“Dis reg met my om net in ’n hof te trou, maar dit is Jannie se eerste huwelik. Ek wou gehad het ons troudag moet ’n sprokiestroue wees.”

Dit ontstel haar dat party mense in die sosiale media sê hy was “besope” en dat hy “daarvoor gevra het om raakgery te word.”

“Regtig? Daarvoor gevra? Hy het dan nog tot 14:00 gewerk. Hy kon onmoontlik nie besope wees nie. Dis ’n bitter ding wat gebeur het. Dit was ’n ongeluk. Ek dink nie dis iets waarvoor mens vra nie.

“Ek huil al van gister af. Ek het probeer sterk bly, nou kan ek nie meer nie. Ek dink aan ons toekoms. Jannie het so uitgesien om einde Februarie as elektrisiën te kwalifiseer. Nou weet ek nie wat gaan gebeur nie. Ek gaan binnekort op kraamverlof en hy gaan nie gou weer kan werk nie. Ons gaan suffer, ” sê sy.

Anelle vertel haar geloof hou haar wel sterk. “Geestelik is ons sterk. Hy (Jannie) is baie sterk. Die troue is nie meer belangrik nie. Ek kan hom net nie meer so sien ly nie . . .”