Pleks daarvan is haar dogter, Bianca (22), seun, Nico (28), en man, Anton (56), byna twee maande ná haar dood steeds oorweldig deur die leegheid wat haar dood veroorsaak het.  

Lipkanker is vroeër vanjaar by Clara gediagnoseer nadat sy twee jaar lank gesukkel het met wat sy gedink het ’n koorsblaar is.

Sy het ongeveer twee maande nadat sy chirurgie ondergaan het om die 2 kg-massa van haar onderlip te verwyder, gesterf.

Bianca sê die gesin sukkel om haar ma se dood te verwerk.

“Ons mis haar elke dag meer en wens dinge was anders. Die lewe is leeg sonder haar,” sê Bianca.

Clara en haar dogter, Bianca. Foto verskaf
Clara en haar dogter, Bianca. Foto verskaf

Sy sê Clara se kanker het kort ná haar operasie weer kop uitgesteek.

“Sy het op 2 Maart ’n 16 uur lange operasie gehad om die massa te verwyder,” sê sy.

“Die operasie was suksesvol, maar twee weke voor sy oorlede is, het die kanker teruggekeer en versprei.”

Clara se reis na die operasiesaal was swaar. Sy het voortdurend pyn ervaar en haar geld het opgedroog, wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om chirurgie te ondergaan.

In Januarie tydens ’n vorige onderhoud met Huisgenoot se sustertydskrif YOU het Clara, wie se kanker aanvanklik verkeerdelik as ’n infeksie gediagnoseer is, gesê die chirurgie sal miljoene rande kos.

“(Die kanker) het na die limfkliere in my nek versprei en die operasie sal R3 miljoen tot R4 miljoen kos,” het sy gesê.

Maar net toe haar hoop vervaag, het die liefdadigheidsorganisasie Operation Healing Hands ingegryp en haar chirurgie by ’n hospitaal in die ooste van Pretoria geborg.  

“Die gewas het vinnig gegroei en gelei tot die chirurgie waartydens haar hele onderkaak verwyder en met haar kuitbeen vervang en met vel van haar been en voorarm bedek moes word,” sê die organisasie.

“Clara se grootse wens was om haar kinders weer te kon soen.”

Clara se seun, Nico (28). Foto verskaf
Clara se seun, Nico (28). Foto verskaf
Clara en haar man, Anton (56), in gelukkiger tye.
Clara en haar man, Anton (56), in gelukkiger tye. Foto verskaf

Ongelukkig sou dié wens nooit bewaarheid word nie. Haar laaste dae was vol folterende pyn, vertel Bianca.

“Sy het baie geslaap. Sedert die operasie kon sy nie eet, loop, praat of haarself versorg nie.

“Ons mis elke enkele dingetjie van haar. Ek wens ons kon net ’n laaste keer lag en grappe maak en oor alles en almal skinder.

“Sy was ’n goeie mens wat altyd gehelp het waar sy kon en ons hart is leeg sonder haar.”

Clara se pad van pyn

Clara was genoop om haar loopbaan as eiendomsagent prys te gee vanweë die ondraaglike pyn en gereelde hospitaalbesoeke. Die gesin moes ook van huis verander as gevolg van die mediese koste en verlies aan Clara se inkomste.

Sy het ook eerder binnenshuis gebly omdat mense na haar gestaar het.

Aanvanklik is die “koorsblaar” as ’n infeksie afgemaak deur dokters, maar die voorgeskrewe antibiotikum en pynpille het niks gehelp óf die infeksie gekeer nie. Die vierde biopsie het bevestig: Dis kanker.

“Ek wil net sonder pyn wees,” het sy in Januarie gesê. “Ek gee nie meer om oor ’n mooi lip nie; ek kan net nie die pyn langer verduur nie.”

Meer oor lipkanker
  • Dit ontwikkel in die weefsel van lippe en is die algemeenste vorm van kanker. Dit kom meer algemeen by mans voor.
  • Mense wat rook en erg drink, langdurig aan die son blootgestel is en ’n gebrekkige dieet sonder vars vrugte en groente volg, loop die hoogste risiko om lipkanker te kry.
  • Die simptome behels onder meer ’n seer wat nie genees nie, aanhoudende pyn rondom die lippe, ’n knop of verdikking op of naby die lippe asook ’n wit of rooi kol naby of op die lippe.
  • Behandeling teen lipkanker behels gewoonlik chirurgie gevolg deur bestraling in die geval van kleiner gewasse. In gevorderde gevalle sal dit met chemoterapie behandel word.
  • Indien dit vroeg genoeg opgespoor en behandel word, is die kans op volledige herstel goed.


Bronne: Kansa, YOU (10 Januarie 2019)