Die jong ma hoes deurentyd terwyl sy praat. Sy probeer om nie te huil nie.

“Ek bid net my kind kom hierdeur,” is Carla Claassen (29) van Silverton, Pretoria, se pleidooi nadat haar kind, Janco (2), wat breinskade het, Donderdag positief getoets is vir covid-19.

“Dit het gevoel of my hele wêreld gaan stilstaan,” vertel sy.

Klein Janco het ná sy diagnose begin asemnood ontwikkel. “My stresvlakke is deur die dak. Ek kan net nie meer die stres hanteer nie. Ek het nou al almal gebel, al die hospitale is vol. Ek kry nog nie ’n suurstofmasjien vir hom nie,” vertel sy paniekerig, kort nadat sy op Facebook om hulp gepleit het.

Janco was net vyf weke oud toe hy op 3 Maart 2019 ernstige breinskade opgedoen het toe hulle as gesin in ’n motorongeluk was op die N1-hoofweg, by die Murrayhill-brug.

Carla het daardie naweek Janco, toe skaars vyf weke oud, vir haar ouers in Mokopane, Limpopo, gaan wys. Haar man, Tiaan (28), het toe vir haar, Janco en sy ouer boetie, Lihan (nou 6), kom haal. Hulle was op pad terug huis toe toe die ongeluk gebeur het. 

Die vermoede bestaan iemand het van agter teen hulle gebots, waarna hulle teen ’n bus en sleepwa gebots het.

“Sy breintjie is weg,” het Carla ná die ongeluk aan Huisgenoot vertel. Sy het vertel hoe dokters hom breindood verklaar het, maar hoe hulle hom deur die trauma "gebid" het.

Janco as baba in die hospitaal. Foto: Facebook/Jan
Janco as baba in die hospitaal. Foto: Facebook/JancoClaassen
Janco as baba in die hospitaal. Foto: Facebook/Jan
Janco as baba in die hospitaal. Foto: Facebook/JancoClaassen

Vandag is net Janco se breinstam gesond, maar hy het byna geen breinfunksie meer oor nie.

Carla vertel sy was baie versigtig te midde van die covid-19-pandemie, maar toe is sy op Sondag 20 Junie positief vir covid-19 getoets. “Ek het die 17de simptome begin kry.”  Terwyl ons gesels is sy duidelik nog baie siek en hoes sy deurentyd.

“Ek het dadelik geïsoleer, die laaste ding wat ek wou hê was dat Janco moet siek word. Sy longetjies is nie soos ander tweejariges s’n nie. Dit is baie kleiner. Ons kon nie bekostig dat hy moet siek word nie. ”Maar toe begin sy pa, Tiaan, ook siek raak en op Donderdag 24 Junie het hy en Janco ook positief getoets. Daarna ook haar skoonouers, wat op dieselfde erf as hulle woon.

Janco siek in die bed met covid-19. Foto: Facebook
Janco siek in die bed met covid-19. Foto: Facebook/JancoClaassen

Klein Lihan se toets was negatief. Hul oudste seun, Morné (8), woon by haar ouers in die Kaap. Hulle het ná die ongeluk in 2019 van Limpopo daarheen verhuis.

“Janco is my grootste kommer nou. Die res van ons is fine.”

Carla Claassen in 2019 langs Janco se hospitaalbed
Carla Claassen in 2019 langs Janco se hospitaalbed. Foto: Facebook/JancoClaassen

Carla vertel nadat breinverlamming destyds by hom gediagnoseer is, het haar hele lewe net om hom begin wentel. Hulle trek swaar - al wat hy nou kan kry om hom te help is fisioterapie en dít kan sy nie bybring nie.

“Dokters het reeds gewaarsku die regterkant van sy liggaam trek of groei skeef.  Janco is my hele lewe. Ek sal enigiets vir hom doen. Maar ek is bang. Ek is bang omdat ek nie vir my kind kan gee wat hy nodig het nie. Nou dít.”

Klein Janco op sy tweede verjaardag. Foto: Faceboo
Klein Janco op sy tweede verjaardag. Foto: Facebook/JancoClaassen

Carla hoes en huil deurmekaar.

“Ek dink nie ons het dit so erg nie; ek hoop dit bly so. Ek hoop net ons kan Janco hierdeur kry. Hy is reeds deur soveel.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe