As kleuter was haar seun al baie vaardig met rekenaars en het sy gedink hy sou eendag ’n rekenaarprogrammeerder word. Rekenaars en rekenaarspeletjies was immers van kleins af ’n toevlugsoord vir Johan Kruger*, wat op skool onder boelies deurgeloop het en by wie aandaggebreksteuring (AGS) gediagnoseer is.

Maar die lewe het anders verloop vir Gerda Kruger* se kind. Op 22 is Johan nou in ’n rehabilitasiesentrum vir verslaafdes; nie weens drank- of dwelmmisbruik nie, maar sy obsessie met tegnologie en rekenaarspeletjies.

“Ons het nooit gedink hy sou eendag sy studie opskop, ons bedrieg en selfs geld steel nie,” vertel Gerda, ’n tuisteskepper van Pretoria, en wys na haar jongste wat skalks uit ’n foto vir ons glimlag. Gerda en haar man, Danie*, het ook twee ouer kinders uit hul huwelik van 30 jaar. Tydens Johan se peuterdae het haar man ’n rekenaaronderneming gehad en daar was altyd rekenaars in die huis, vertel sy.

Ek het destyds nooit kon dink dit sou sy lewe so oorneem en ontwrig nie.

“Johan kon op 18 maande al ’n rekenaarmuis gebruik.” Op vier kon hy sy ouer sibbes wys hoe om rekenaarprogramme en -speletjies af te laai. “Hy was baie slim en kon op vier ook al lees en skryf.”

Maar voorskools het die Krugers al waargeneem Johan kon eenvoudig nie in die klas oplet nie. In gr. 3 is AGS by hom gediagnoseer en medikasie daarvoor voorgeskryf. Dit het wel gehelp, vertel Gerda, maar Johan het hom toenemend in die wêreld van rekenaarspeletjies verdiep. “Hy het nie baie maatjies gehad nie. Op laerskool is hy geboelie,” vertel Gerda.

“Dis gelukkig stopgesit toe ons dit agterkom en daaroor kla. Maar voor die rekenaar was hy rustig; dus het ek hom nie gekeer nie,” vertel sy. Dan skud sy haar kop. “Ek het destyds nooit kon dink dit sou sy lewe so oorneem en ontwrig nie.” Later het Johan ’n tuisrekenaar gehad, en met Kersfees en verjaardae het hy altyd rekenaarspeletjies as geskenke gevra en gekry.

As teruggetrokke tiener was hy verdiep in sy selfoon wanneer hy nie voor die rekenaar was nie. Toe gaan Johan hoërskool toe en raak dit erger. “Hy wou nie meer sy medikasie drink nie. Sy punte het gedaal en hy het ál meer agter sy rekenaar weggekruip,” vertel Gerda. “Hy was nie sosiaal aangepas nie en is weer geboelie. Hy het nooit geleer hoe om vir homself op te staan nie. “Sy sakgeld het hy dadelik vir speletjies gebruik. Ons het hom nooit leer spaar nie. Ons het hom bederf.”

‘Digitale kokaïen,” is hoe Gerda na rekenaarspeletjies en tegnologie verwys. Sy vergelyk Johan se latere gedrag met dié van ’n dwelmverslaafde. Hy het hardop geskree en gevloek wanneer hy nie toegelaat is om sy rekenaar of selfoon te gebruik nie en nie sy sin kon kry nie. Hy het eenkeer ’n deur uit frustrasie stukkend geskop. Ná matriek het Johan ingeskryf vir ’n universiteitskursus in multimedia aan die Universiteit van Pretoria, maar ná net ses maande het hy oorgeslaan na visuele studies.

“Hy het nooit deursettingsvermoë aangeleer nie. Hy het moedeloos geword voor die eindpunt. Ook in die universiteitskoshuis het hy sy humeur verloor en dan onvanpas opgetree.”

’n Ma van Pretoria wys hoe een van vele tegnologiese toestelle werk wat haar seun se verslawing aan rekenaarspele­tjies gevoed het.

In sy byna vier jaar op universiteit het hy elke jaar sommige vakke geslaag, maar ander nie.

“Vanjaar het hy net een vak in die eerste ses maande geslaag. Ons het besef ons moes ingryp,” sê Gerda. Die Krugers het toe hul seun uit die universiteit gehaal. Hulle besit ’n eiendom wat hulle as ’n kommune verhuur; daar is hy toegelaat om ’n kamer te kies. Hy is ook aangesê om ’n werk te kry. Maar pleks daarvan het Johan tot drieuur soggens op sy rekenaar of selfoon speletjies gespeel.

“Dan kon ons hom nie wakker kry nie. Ons het hulp gesoek by sielkundiges en lewensafrigters, maar hy wou net nie saamwerk nie. Ek het oor verslawings nagelees. Sy optrede was soos dié van ’n dwelmverslaafde.”

Op ’n keer het Johan ’n duik in sy pa se kar geslaan nadat hulle oor sy ongemotiveerdheid gestry het. Die Krugers het toe opgehou om Johan sakgeld te gee om hom te dwing om werk te soek. “Ek sou wel soms vir hom kos neem wat hy self moes maak, maar nie geld nie. Hy het weke lank sonder kontant reggekom.

Sy optrede was soos dié van ’n dwelmverslaafde.

“Ons kon dit glad nie verstaan nie. Eenkeer het my dogter hom gevra hoekom hy nog nie ’n werk het nie. Hy het geantwoord dis nog te maklik vir hom.” Sy pa wou Johan na ’n kleiner kamer in die huurhuis skuif om sy gemaksugtigheid te belemmer. “Toe my man daar aankom, het hy ontdek Johan het die hele tyd een van die ander kamers verhuur en die geld aan speletjies bestee. My man het daardie aand elke liewe tegnologiese toestel weggevat.”

Dit was in November. “Ons het besef ons moet iets drasties doen,” sê Gerda. Maar dit was nie die einde nie. Johan se reaksie was om geld te onttrek uit ’n spaarrekening wat sy ouers van kleins af vir hom opgebou het. “Daarmee het hy R16 000 se nuwe rekenaartoerusting en -speletjies gekoop. En al sy besittings het hy verpand – sy windbuks, sy Leatherman-gereedskapstel, alles.

“Onlangs het die lewensafrigter voorgestel dat ons Johan in die Denmar- Psigiatriese Hospitaal in Pretoria laat opneem. Daardie selfde aand om twaalfuur het sy pa en broer hom gaan oplaai en gesê hulle wil êrens heen ry,” vertel Gerda.

Foto ter illustrasie.

‘In Denmar het hulle vir hom gesê hulle sou hom óf polisie toe vat vir bedrog óf hy moet hom laat opneem,” sê Gerda mismoedig. Aangesien sy verslawing sosiaal van aard is en nie weens middels soos drank of dwelms nie, moet sy rehabilitasie vrywillig wees, verduidelik sy.

“Hy was baie kwaad vir ons en wou eers nie saamwerk nie. Aanvanklik het hy tydens die sittings saam met ons en die sielkundiges by die vertrek uitgestorm.” Die sielkundiges by Denmar het bevind Johan is aan rekenaarspeletjies en tegnologie verslaaf en kort langtermynhulp. En Johan het later ook “rustig” geword en aanvaar hy is verslaaf aan tegnologie, vertel sy ma.

Hy het hom vir die volgende ses maande in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem. In dié tyd mag hy net per brief met sy familie kommunikeer. Volgens Gerda worstel sy en haar man met skuldgevoelens oor hoe hulle hom grootgemaak het.

“As ek maar net geweet het, sou ek nooit, ooit ons seun so vroeg aan tegnologie blootgestel het nie,” sê sy. In ’n onlangse brief aan sy ouers vertel Johan hoe lief hy hulle het en hoe dankbaar hy is vir die rehabilitasie.

“Pappa, dit sal beter word,” skryf hy. Johan se ma sê tydens sy rehabilitasie word hy geen tegnologie toegelaat nie. “Wanneer hy uitkom, sal ons kyk hoe ons dit vorentoe sal aanpak.”

* Skuilname. 

Wanneer word rekenaarspeletjies verslawend?

Rekenaarspeletjies op sigself is g’n euwel nie. Maar wanneer dit met jou alledaagse lewe en roetine inmeng, word dit as ’n verslawing beskou.

So verduidelik Larise du Plessis, ’n kliniese sielkundige verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Gevaartekens is kinders wat stokkies- draai of grootmense wat wegbly van hul werk af weens rekenaarspeletjies. Ouers moet veral kinders met aandaggebreksteuring (AGS) se digitale verbruik streng bestuur.

Hulle is vatbaar vir die passiewe interaksie wat rekenaarspeletjies bied, en dit kan die aanleer van sosiale vaardighede kortwiek. Die kind raak verslaaf aan die speletjies omdat dit die brein stimuleer om dopamien, die “goedvoel”-hormoon, af te skei. Hoe meer dopamien, hoe gelukkiger die kind.

Die liggaam bou later ’n weerstand teen die dopamien op; dan speel die kind selfs meer rekenaarspeletjies om nog dopamien te laat afskei, sê Larise.

As AGS-kinders dit regkry om ure op rekenaarspeletjies te konsentreer, moet ouers kyk wat hul aandag so boei. Is dit die flikkerende liggies of die agtergrondklanke wat hulle stimuleer?

“Van so jonk as vyf jaar af moet kinders geleer word daar is ’n spesifieke tyd en plek vir rekenaarspeletjies, byvoorbeeld Vrydagmiddag ná skool, sodat dit nie reg voel om dit op ’n Maandag te doen nie. Nes hulle geleer word soggens is tandeborseltyd.

“Dit is hoe die kind se brein leer om beheer uit te oefen.”

Foto's: Fani Mahuntsi, Gallo Images/Getty Images