Motorfietsry is Leroux Meyer se passie. Foto: Vers
Motorfietsry is Leroux Meyer se passie. Foto: Verskaf

Hier waar die donkerkopman plat op sy rug lê terwyl hy vanuit sy bed in die Mediclinic George met Huisgenoot praat, verklap die pype en masjiene dadelik hy is in die hospitaal.

Dis presies twee weke ná Leroux Meyer (28) se ongeluk, maar hy klink glad nie verpletter nie.

Trouens, hy klink blymoedig – al het hy in die val sy sleutelbeen, borsbeen en ribbes gebreek.

Hy het ook sy rug gebreek.

“Ek weet nie watse voordeel daarin vir my gaan wees om hartseer te wees nie,” sê hy. “Ek kan nie jammer oor enigiets wees nie. Dit was in die middel van ’n woud. Geen weerlig het my geslaan nie, niks het my getref nie. Dit was maar ’n fout op ’n motorfiets.”

Leroux, wat saam met sy ouer broer, Hennie, in die eiendomsbedryf werk, het sewe dae ná die ongeluk die eerste keer ’n groot rugoperasie ondergaan.

Kort voor die operasie het hy ’n video op sy persoonlike Facebook-blad gelaai om sy familie en vriende self van die ongeluk te vertel.

Hy sou nooit kon droom dié video sou binne dae meer as 10 000 keer gekyk word nie.

Leroux vertel vandag hy was nog altyd ’n optimistiese mens.

“Ek is ’n grapkas. Hierdie kop van my is vol jokes! Ek voel nou ’n groot verantwoordelikheid om dit vir iets te gebruik. Dit motiveer my.”

Die ongeluk

Dit was Donderdag 12 November, die eerste dag van sy en sy twee vriende se avontuur om die reis van George na Pretoria op hul motorfietse aan te pak.

“Motorfietsry is ’n amazing groot ding vir my. Iets wat ek doen om te onspan,” vertel hy.

“Ek en my een vriend het dieselfde trip in 2018 gedoen toe ons al die agterpaaie gery het. Ek en ons ander vriend, wat saam was, het al Botswana saam gedoen.

“Ons het die oggend in George weggetrek na Knysna, en toe die Karoo to Coast-roete na Uniondale aangepak. Van daar sou ons die Baviaanskoof-pad na Jeffreysbaai neem.”

Motorfietsry is Leroux Meyer se passie. Foto: Verskaf

Hy vertel so ver as wat hulle gery het, het hulle om die beurt gestop om foto’s van die mooi landskap en uitsigte te neem. Maar in ’n stadium het Leroux gemaan hulle moet nou begin skouer aan die wiel sit.

Die ongeluk het omstreeks 09:00 tussen Knysna en Uniondale op die Coast to Karoo-roete op ’n grondpad gebeur. Hulle was skaars  ’n uur en half op die pad.

Die vriende het weens stof wat opslaan ’n ent uitmekaar gery en Leroux was in die middel. 

“Ek kon nie die draai maak nie en ek is van ’n krans af,” vertel Leroux. “Ek het so 15 m ver geval.”

Leroux Meyer met 'n vorige avontuur. Foto: Verskaf
Leroux Meyer met 'n vorige avontuur. Foto: Verskaf

Hy vertel nie een van sy twee vriende het die ongeluk gesien gebeur of dit dadelik besef nie. 

“Ons vriend voor het onbewus voortgery na Uniondale toe. Die vriend wat agter gery het, het verbygery.”

Maar laasgenoemde het wel wonderbaarlik onraad begin vermoed toe hy nie weer vir Leroux langs die pad teëkom nie. Dit is toe dat hy omdraai en Leroux gaan soek. 

“Hy het die merke op die grondpad gesien . . .”

Leroux raak ’n oomblik stil.

“Ja, daar is baie mense wat ’n klomp goed vir my sê: dis ’n wonderwerk dat ek nie heeltemal verlam is nie. Dis ’n wonderwerk dat ek so vinnig genees.

"Dis ’n wonderwerk dat hulle my kon vind daar in die bos.

"Ja, dit ís alles wonderwerke. Maar vir my is die groot wonderwerk ’n baie fisieke ding. Ek het met die val ’n boom met my rug getref.

"Daar soos my hoofaar al met my spinale koord afloop, het drie of vier rugwerwels letterlik hier in die middel gebars, maar my aar is nie raakgesny nie.

"Níks het aan daai aar geraak nie. Dit het omtrent 15 na 20 minute gevat voor my pel my gevind het. Indien daai aar getref is, het ek doodgebloei voor hy my gekry het.”

Leroux Meyer vertel hy is van nature 'n optimistie
Leroux Meyer vertel hy is van nature 'n optimistiese mens. Foto: Facebook

Leroux onthou die ongeluk net stuk-stuk.

“Ek onthou net ek het daar gelê . . . Die pyn was bitter erg.

"My vriend het my deur hierdie ding getrek. Ek vra toe vir hom kan hy my nie net uit-choke, sodat ek kan uit-pass en wanneer ek weer wakker word, is ek in die hospitaal nie.

'Net toe kom daar bo ’n tannie aan. Sy is ’n afgetrede dokter. Hy stap toe na bo en vra haar of daar enigiets is wat hy moet doen terwyl ons op die nooddienste wag. Haar woorde was: ‘Jou vriend moet nou net nie aan die slaap raak nie.’  My vriend het my aan die lewe gehou.”

Dit was ’n groot reddingspoging om hom daar uit te kry. Hy vermoed daar was sowat 12 nooddienswerkers wat hom die steilte uitgedra en in rye gestaan het om hom vir mekaar aan te gee tot bo. 

Boodskap vir ander

Leroux is op 19 November vir sewe ure lank aan sy rug geopereer, om die T1- tot T10-werwels te probeer heg en herstel. 

“Nie enige dokter kon daardie operasie uitvoer nie. So ek is eintlik baie geseënd om in hierdie hospitaal te kon wees met sy baie goeie dokters,” sê hy.

Dit was in die ure voor die operasie dat hy die eerste video gelaai het.

“Dit het maar net begin soos ’n gesprek met ’n pel, sodat ek nie met 300 pelle die gesprek hoef te gehad het en die storie oor en oor moes vertel nie.”

Hy vertel in die video: “Dis nogal ’n groot operasie. So ek weet daar is allerande bidgroepies vir my en ek sê uit my hart uit dankie. Moenie stop nie. Daar is vir my gesê dat ek nie weer sal kan loop nie. Maar ek is nie bereid om daai te vat nie. So julle gaan my weer sien loop. Dit gaan ’n tydjie vat, maar ek is bereid om dit te doen, met mense soos dié wat dit moontlik maak.” 

Hy draai dan die kamera na sy fisioterapeut, wat besig is met sy behandeling.

Leroux Meyer en sy vrou, Nicolien, 'n biokinetikus
Leroux Meyer en sy vrou, Nicolien, 'n biokinetikus. Foto: Verskaf
Leroux Meyer se vrou, Nicolien, staan hom bankvas
Leroux Meyer se vrou, Nicolien, staan hom bankvas by. Foto: Verskaf

Dié video het soos ’n veldbrand oor die internet versprei en van daar het Leroux besluit om elke dag daarna nog ’n video te maak.

Hy klink steeds stomgeslaan oor die reaksie. 

"Daar is vir my gesê dat ek nie weer sal kan loop nie. Maar ek is nie bereid om daai te vat nie. So julle gaan my weer sien loop."

“Ek dink toe, hier is soveel aandag hier. Dalk sal dit help as ek iets waardevols sê? Nou lê ek saans en dink, wat kan ek môre vir die mense vertel?

"Miskien sal dit my laat beter voel as ek daaroor gepraat het. Ek kan nie môre nie wil opstaan nie, want daar is mense wat iets van my wil ontvang, en as ek vir hulle die regte ding gee, kan hulle ’n beter weergawe wees van hulself. So, ek dink daar is baie moontlikhede wat die ding kan bring.”

Dankbaar

Leroux en sy vrou, Nicolien (30), ’n biokinetikus, is Oktober twee jaar gelede getroud.

Leroux Meyer en Nicolien op hul troudag in Oktober
Leroux Meyer en Nicolien op hul troudag in Oktober 2018. Foto: Facebook
Leroux Meyer en Nicolien op hul troudag in Oktober
Leroux Meyer en Nicolien op hul troudag in Oktober 2018. Foto: Verskaf
Leroux Meyer op sy troudag. Foto: Facebook
Leroux Meyer op sy troudag. Foto: Facebook

Hy vertel Nicolien staan hom bankvas by.

“Sy is elke dag by my. Ek twyfel nie vir ’n oomblik dat sy minder van my dink omdat ek nie kan loop nie.”

“Ek praat in een video oor hoe hierdie tyd haar sterk gemaak het. Want sy het ’n baie maklike opsie: sy kan inmekaar stort en vir weke huil, of sy kan haar trane sluk sodat ons ’n voorbeeld kan wees oor hoe ons die situasie hanteer.

"Mense het almal situasies. Ek dink as mense dink ek was nou-nou kwaad oor dit, kyk hulle dalk my video en dink: Kyk waardeur gaan hierdie mense en hulle is nog oraait, is ek nie besig om my met strooi op te hou nie?”

Leroux kry elke dag fisioterapie. 

“Ek word Maandag na ’n rehabiltasiehospitaal in Pretoria oorgeplaas om my weer op ’n punt te kry waar ek in en uit ’n rolstoel kan klim. Ek glo ek gaan weer loop, maar dit is nie vir my nou die wenstreep nie.

"My wenstreep op die oomblik is: Kry my lewe so gou as moontlik, so goed as moontlik. Indien loop een van daai dinge is, sal ek amazed wees. Nee, nie amazed nie, want ek glo dit gaan gebeur. Maar vir tyd en wyl, gaan ek my bakkie modify vir ’n rolstoel. Ek gaan my huis regmaak vir ’n rolstoel. Sodat ek weer kan begin leef.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe