Arno van Coller
Arno van Coller van Pretoria glo sy oorlede ma, Isabel, was sy beskermengel in ’n dodelike ongeluk wat sy lewe kon geëis het. Foto: Verskaf

Hy is daarvan oortuig dat sy oorlede ma sy beskermengel was in ’n ongeluk wat sy lewe kon eis, vertel die seun van ’n vrou wat meer as ’n jaar gelede in Bramley, Johannesburg, gekaap en koelbloedig vermoor is.

Al is die verlange na sy ma 17 maande ná haar dood steeds blywend, is Arno van Coller vandag van een ding oortuig: Sy ma, Isabel, is nog elke dag teenwoordig in sy lewe – veral wanneer hy beskerming nodig het.

“Dit klink dalk vreemd, maar ek is nou meer as ooit daarvan seker dat sy na my omsien en my beskerm,” vertel Arno, van Doornpoort in Pretoria, Donderdag aan Huisgenoot

Arno van Coller
Isabel van Coller. Foto: Verskaf

Isabel is in November 2019 op pad na haar werk in Bramley deur vier mans gekaap en vermoor. Haar motor is later ’n paar blokke verder gevind – net haar selfoon en handsak was skoonveld.

Ja, die stryd om geregtigheid ná sy ma se dood is vir hom en sy geliefdes swaar, sê Arno. Maar tog is daar vir hom ook ’n soort troos in die idee dat Isabel nou sy beskermengel is, verduidelik hy. 

“Dalk het sy geweet dis nog nie my tyd om te sterf nie – veral as jy kyk na die skade aan die voertuig,” vertel Arno van die ongeluk op 20 Maart.

Arno van Coller
Sy Ford Ranger is afgeskryf in die ongeluk. Foto: Facebook/Arno van Coller

Dit was al ná skemer en hy was op pad na ’n vulstasie in die omgewing om sigarette te koop, vertel Arno. In Airportweg – wat met ’n skerp draai loop – het ’n hond skielik voor sy Ford Ranger-bakkie ingehardloop, onthou hy. Toe Arno uitswaai, het hy beheer oor die voertuig verloor.

“Ek het nie eens vinnig gery nie, veral omdat die pad met so ’n skerp draai loop,” vertel hy. “Al wat ek onthou is dat ek uitgeswaai het en toe skielik die boom gesien het – daar was nie tyd vir briek nie.”

Sy bakkie het met ’n verwoestende slag tot stilstand gekom, vertel Arno. Die lugsakke het dadelik ontplooi. Nooddienste is na die toneel ontbied, maar dit was nie nodig om hom in die hospitaal op te neem nie.

Arno van Coller
Foto’s van die bakkie na afloop van die ongeluk wys die omvang van die skade. Foto: Facebook/Arno van Coller

“Ek het drie skoon breuke aan my voet, maar dis nie nodig om daaraan te opereer nie,” vertel hy. “Daarby saam het ek ligte harsingskudding en dis effens sensitief waar die lugsak my op die bors getref het, maar dis dit. As jy kyk na die skade op die bakkie, weet ek nie of ek so ligtelik daarvan moes afgekom het nie – of ek dalk moes leef nie.”

Die bakkie is afgeskryf nadat wrakstukke daarvan oor die pad verspreid gelê het, vertel hy. “Die paramedici op die toneel het selfs my bloeddruk en bloedsuikervlakke getoets, maar dit was absoluut normaal.” 

Dis daarom dat hy oortuig is dat Isabel hom beskerm het, sê hy. “Ek glo sy was daar – met my hele hart. En al het ek in die verlede getwyfel wanneer soortgelyke dinge gebeur het en ek bewus was van ’n hoër hand, is ek nou ten volle daarvan oortuig dat sy elke dag teenwoordig is en na my omsien.” 

Arno van Coller
Arno sê hy glo dit is deels weens sy ma se ingryping dat hy die ongeluk oorleef het. Foto: Facebook/Arno van Coller

Dit bring troos in ’n lang stryd vir geregtigheid, sê Arno. Want 17 maande ná Isabel se dood, sloer die moordsaak steeds. Destyds is ses mans kort ná die moord in hegtenis geneem, maar hulle is later weer vrygelaat weens ’n tekort aan bewyse. In Maart verlede is twee ander verdagtes aangekeer, maar die saak sloer sedertdien. 

“Dis eintlik net ’n nare hoofstuk wat ons agter ons wil sit – ons skuld dit vir haar omdat haar lewe op so ’n wrede, onmenslike manier tot ’n einde gekom het.” 

  • Die polisie in Gauteng het nie reageer op navrae van Huisgenoot nie. Vroeër in Maart het brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, wel aan Netwerk24 bevestig die saak word steeds ondersoek.