Jolizné sien uit daarna om ook
Jolizné sien uit daarna om ook "soos haar maatjies" te lyk. Foto: Verskaf

Elizma Bester, ’n onderwyseres van Pretoria-Oos, vertel sy en haar man, Johan, is opgewonde dat die dag eindelik vir hul oudste dogter aangebreek het.

Jolizné sal na verwagting op 25 November vanjaar die eerste operasie ondergaan om ’n nuwe regteroor vir haar te bou. Kraakbeen sal in dié rekonstruktiewe operasie van een van haar ribbebene geoes word om vir haar nuwe oor te gebruik. 

Jolizné sien uit daarna om ook soos haar ma oorbelle en ’n sonbril te kan dra. Foto: verskaf

Sy was net 16 maande oud toe die gesin se Jack Russell-hond haar hele oor in haar bedjie afgebyt het.

“Vandat sy haarself in ’n spieël kon identifiseer, ken sy haarself met net die een oor. Ons het haar die waarheid vertel en altyd vir haar gesê: ‘Jy gáán ’n nuwe oor kry!’ ” vertel Elizma.

Jolizné is na die voorval net met 'n gaatjie gelaa
Jolizné is na die voorval net met 'n gaatjie gelaat waar haar oor eens was. Foto: Verskaf

Maar daardie dag sou eers kom toe sy nege jaar oud word.

"Ons het haar die waarheid vertel en altyd vir haar gesê: ‘Jy gáán ’n nuwe oor kry!’

Elizma vertel die traumatiese gebeurtenis het een oggend in Oktober 2014 plaasgevind terwyl sy besig was om gereed te maak vir werk.

“Ek het Jolizné in haar bedjie neergelê en die televisie aangesit om haar besig te hou terwyl ek gou my hare gaan droogblaas het,” onthou sy die dag.

’n Groot skok het egter op haar gewag toe sy terug in die kamer kom.

“Die hond was by haar in die bed en toe ek haar kop van die kussing oplig, het ek net bloed gesien . . .”

Elizma het met haar kind na die bure die buurman was ’n nooddienswerker in hul sekuriteitskompleks gehardloop.  

Jolizné was 16 maande oud toe 'n hond haar regtero
Jolizné was 16 maande oud toe 'n hond haar regteroor afgebyt het. Foto: Verskaf

“Hy het dadelik gesê ons moet haar dringend by die hospitaal kry. Ek het gesê dis reg, ek moet net gou haar oor gaan haal,” onthou sy haar hoop dat die dokters nog haar kind se oor kon red.

Dit was egter nie moontlik nie. Al is Jolizné se oortjie weer vasgewerk, het haar liggaam dit later verwerp weens die bloedtoevoer wat op haar jong ouderdom nog te swak was.

“Ons moes vrede daarmee maak,” vertel sy.

Jolizné was 16 maande oud toe 'n hond haar regtero
Jolizné was 16 maande oud toe 'n hond haar regteroor afgebyt het. Foto: Verskaf

Die ma vertel oor die jare heen het hulle gehoop dat sy op die ouderdom van vier jaar ’n nuwe oor sou kon laat bou. Waar haar oor eens was, was net ’n gaatjie na die oorkanaal oor en niks vir die dokters om mee te werk nie.

“Dit is nie ’n algemene operasie in Suid-Afrika nie, nie waar die oor heeltemal opgebou moet word nie. Die dokters het gesê sy moet wag tot sy vier of vyf jaar oud is.”

Toe Jolizné vier jaar oud was, het hulle hul eerste afspraak met die Duitse professor Henning Frenzel gehad. Dié spesialis reis twee keer per jaar na Suid-Afrika om dié operasies hier uit te voer. Hy het egter aangedui hulle sou haar operasie eers op nege kon doen. 

“Die oor is eers op sowat nege jaar sowat 90% volgroeid. Die borskas moet ook 56 cm of meer wyd wees om seker te maak daar is genoeg ribbebeen om dit mee te doen.”

Jolizné, regs voor, saam met haar ouers Elizma en
Jolizné, regs voor, saam met haar ouers Elizma en Johan en jonger sussie, Lohané, van Pretoria. Foto: Verskaf

Toe Jolizné sewe was, het hulle weer ’n afspraak met die professor gehad om te kyk op alles nog op dreef is. Toe covid-19 die wêreld tref, kon die dokter egter sowat twee jaar lank nie na Suid-Afrika reis nie.

Die gesin het hulself daarop voorberei dat hulle nóg langer op die prosedure sou wag.

Elizma vertel hoewel Jolizné se gehoor nie deur die voorval geaffekteer is nie, was daar vele ander uitdagings vir die dogtertije wat nou in graad drie is.

“Sy moes in graad een ’n bril kry. Dit was nogal moeilik! Maar ons het ’n plan gemaak met daardie bril wat met ’n strap om die kop bind. Dan was daar ook die kwessie van maskers dra, wat om die ore moet haak.”

Toe moes hulle weer ’n plan maak om die masker om haar kop en aan haar hare vas te maak.

Maar in Augustus kom die oproep toe uit die bloute: Die professor is gereed om die operasie te doen.

“Jolizné kan nie wag om nes haar maatjies te lyk nie! Sy is grootgemaak met baie selfvertroue, maar sy wil tog ook graag oorbelle en ’n sonbril kan dra soos haar ma.”

Jolizné is vandag 'n spontane jong meisie vol self
Jolizné is vandag 'n spontane jong meisie vol selfvertroue. Foto: Verskaf

Die eerste operasie sal sowat vyf tot ses ure duur om die stukkies uit haar ribbebeen te verwyder, die oor te vorm en dit teen haar kop aan te werk.

In ’n tweede operasie hopelik vroeg volgende jaar sal die oor verder gevorm word wanneer die oor los gesny word en nóg kraakbeen gebruik word om die oor soos die ander een te maak.

“Al is ons opgewonde, bly dit maar ’n stresvolle situasie vir jou kind om so lank in die teater te wees.”

“Al is ons opgewonde, bly dit maar ’n stresvolle situasie vir jou kind om solank in teater te wees."

Die hele operasie sal sowat R400 000 kos, en die gesin het intussen begin woel om fondse in te samel terwyl hulle nog op antwoorde van hul mediese fonds wag.

Elizma vertel indien hulle meer geld insamel as wat nodig sal wees om die onkostes te dek, sal hulle die geld skenk om ’n ander kind in Jolizné se posisie ook te help.

Sy is trots op Jolizné wat so moedig op dié dag gewag het. 

“Sy is ’n baie spontane kind en niks is vir haar te ’n groot uitdaging nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe