Christelle Nagel vertel hoe haar man, dogter en kl
Christelle Nagel vertel hoe haar man, dogter en kleindogter ná ’n huisbrand oorlede is. Sy en haar kleinseun, Theo, is die enigste oorlewendes. Foto: Papi Morake.

Die vyfjarige seuntjie kom loer elke nou en dan in in die sitkamer van die huis in Pretoria waar ons met sy ouma gesels – so asof hy net wil seker maak sy is nog oukei. 

“Ek dink hy voel aan waaroor ons praat,” sê Christelle Nagel saggies nadat klein Theo weer ’n keer kom inloer het.

Die band tussen hulle is so duidelik soos Christelle se smart oor die nag toe hul onlosmaaklike verbintenis deur ’n vlammehel gesmee is. Want klein Theo’tjie, soos sy haar kleinseun noem, se verlies weens ’n verwoestende brand by sy grootouers se huis was enorm.

Ook Christelle (48) het byna alles verloor. Haar man, Theo sr. (54), hul dogter, Nicolene (23), en kleindogter, Leoné (2), is in die brand oorlede.

Klein Theo jr. het sy oupa, sy ma en sy kleinsus verloor.

Die seuntjie het net oorleef omdat Nicolene hom ten spyte van haar eie brandwonde deur ’n venster na buite aangegee het.

Ek het so gehuil, want sy ma is nie hier om dit te sien nie. Sy gaan nie sien hoe hy skool toe gaan nie; hoe hy atletiek hardloop nie.

Christelle moet heeltyd veg om haar emosies te beheer wanneer sy aan die gebeure van daardie aand verlede jaar terug dink. Maar eindelik is dit die herinnering aan ’n oënskynlik alledaagse mylpaal wat die damwal laat breek.

Theo’tjie, vertel sy, woon sedert die brand by sy pa, Legio Geldenhuys, elders in Pretoria. En toe sy hulle onlangs bel, het Legio haar vertel Theo’tjie het pas ’n tand gewissel.

“Ek het so gehuil, want sy ma is nie hier om dit te sien nie. Sy gaan nie sien hoe hy skool toe gaan nie; hoe hy atletiek hardloop nie,” vertel Christelle.

En sy bars opnuut in trane uit. “Ek gaan nooit die voorreg hê om Nicolene as ’n bruid aan te trek nie, en dit is die grootste voorreg wat van my weggevat is.”

Theo’tjie kom klouter op sy ouma se skoot en huil saam. “Ek is so, so jammer. Ek het alles gedoen wat ek kon daardie aand,” sê Christelle saggies. En dan vertroos sy haar kleinseun: “Toemaar, toemaar, Ouma sal nie weer huil nie, hoor.”

Maar sy glo haar emosionele letsels sal nooit genees nie, erken Christelle toe hy weer uit die sitkamer stap. “Ek kan nie eens na foto’s van hulle kyk nie. Ek wil nie eens daaraan dink nie.”

Christelle se dogter, Nicolene, saam met haar twee
Christelle se dogter, Nicolene, saam met haar twee kinders, Leoné en Theo, voor ’n brand haar en haar dogter se lewe geëis het. Foto: Verskaf.

Een ligpunt benewens haar kleinseun is dat Christelle ná die tragedie weer liefde gevind het en dat die man nou saam met haar ’n huis deel.

Maar nêrens in dié huis is daar foto’s van haar verlore geliefdes te sien nie.

“Ek kan nie hier in die huis inloop en in my kind vaskyk nie,” verduidelik sy. Dit is nog net te seer. Want in haar nagmerries hoor sy nog haar dogter se angskrete en sien sy weer hoe die vlamme haar verswelg.

Sy praat glad nie met Theo’tjie oor die brand wanneer hy so een keer per maand kom kuier nie en vermy gewoonlik ook die onderwerp wanneer hy in die omtrek is.

“Ek wil hom nie ontstel nie. Hy het gesien hoe sy ma en sussie brand,” sê Christelle. Maar dan kom haar kleinseun weer die vertrek binne, dié keer met ’n hand vol snesies wat hy vir haar saambring sonder dat sy daarom gevra het.

Christelle was ’n tuisteskepper toe die tragedie gebeur het. Sedertdien het sy as ’n administratiewe beampte probeer werk, maar weens haar trauma kon sy dit nie volhou nie.

Onlangs het sy in die VIA­-program Omgee-engele vertel hoe luisteraars van die Pretoriase radiostasie Jacaranda FM hul harte en beursies ná die brand vir haar oopgemaak het.

Aan Huisgenoot sê Christelle vandag sy en haar man, ’n ketelmaker, sou verlede jaar hul 21ste huweliksherdenking vier, maar toe word sy op Sondagnag 24 Februarie ’n weduwee en verloor in dieselfde brand haar dogter en kleindogter.

Destyds het Nicolene, ’n enkelma, en haar twee kinders uit verskillende verhoudings by haar ouers in Centurion gewoon.

“Nicolene het my daardie aand gehelp om steak en tjips te maak. Ná ete het die kinders melkskommels gekry,” onthou Christelle.

Met slaaptyd het Nicolene soos gewoonlik die deur van die kamer gesluit wat sy met haar twee kinders deel “sodat hulle Ouma en Oupa nie pla nie”.

Christelle by haar oorlede man, Theo.
Christelle by haar oorlede man, Theo. Foto: Verskaf.

Christelle en Theo sr. het toe ’n fliek gekyk.

Omstreeks elfuur is Christelle en Theo sr. deur haar dogter se angsgille gewek. Sy het na haar dogter se kamer gehardloop. “Ek kon nie die deur oopkry nie. Ek kon ’n helder lig tussen die deur en kosyn sien flikker. Ek het dadelik geweet dis ’n brand.”

Theo het die slaapkamerdeur begin oopskop terwyl Christelle uit die huis en na haar dogter se slaapkamervenster gehardloop het.

Deur die venster het sy ’n nagmerrietoneel gesien. “Nicolene het daar in die vlamme gestaan, en klein Wollie het by die spieëlkas gelê,” vertel sy en gebruik haar kleindogter, Leoné, se bynaam.

Haar man het die brandende kamer binnegestorm. “Theo het heeltyd emmers vol water oor klein Wollie gegooi.”

Die gesig van haar dogter wat Theo’tjie deur die venster vir haar aangegee het, is in haar geheue ingebrand.

Ouma en kleinseun was veilig buite, maar die res van die gesin binne vasgevang. Toe is die brandweer en paramedici skielik daar asook hul buurman, ’n dokter.

Die kamer waarin Nicolene en haar kinders geslaap
Die kamer waarin Nicolene en haar kinders geslaap het voor dit in ’n vlammehel verander het. Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Foto: Verskaf.

Vir almal behalwe Christelle en haar kleinseun was dit te laat. Wollie is op die toneel dood, en Theo sr. en Nicolene is na die hospitaal gehaas.

“Ek het langs my dogter se hospitaalbed gesit. Sy het nie eens ’n vel gehad nie,” vertel Christelle huilend. “Sy kon nie met my praat nie. Maar haar hartkloppie op die monitor was 47, en wanneer ek haar vertel het hoe lief ek vir haar is, het haar hartkloppie tot 94 toe geskiet.”

Theo’tjie verskyn weer met snesies vir sy ouma. Nicolene het die volgende middag, Maandag, weens haar brandwonde gesterf.

Sy het daarna probeer werk, maar daardie tonele uit die hel het heeltyd in haar kop afgespeel en haar kollegas het haar oortuig om eers te genees.

En vir die week daarna was Christelle langs haar man se sterfbed. “Ek het daardie Maandagoggend met hom gepraat. Hy kon my verstaan, maar daar was pype in sy keel, so hy kon nie met my praat nie. Ek het vir hom gesê hoe lief ek vir hom is, dat ek weet hy is lief vir my. Elke keer het hy my hand gedruk.”

Die volgende Maandag, ’n week ná hul dogter en kleindogter, is Theo sr. oorlede.

Wat die brand veroorsaak het, weet Christelle steeds nie. Sy het daarna probeer werk, maar daardie tonele uit die hel het heeltyd in haar kop afgespeel en haar kollegas het haar oortuig om eers te genees.

En toe bel een van haar man se voormalige kollegas se vrou vir Jacaranda FM oor haar nood. “Toe Jacaranda FM se Good Morning Angels my bel, het ek so groot geskrik dat ek die foon doodgedruk het,” vertel sy.

In Maart verlede jaar was sy in Martin Bester se ontbytprogram, en gou het weldoeners se skenkings begin inrol.

Maar dit was net die begin van haar herstelpad. “Ek kon nooit alleen wees nie. Ek het maande en maande lank net sit en huil.”

Sy skrik steeds snags wakker met die beelde van Nicolene en Wollie wat brand. “Ek het nou ’n helse vrees vir brand – ek kyk oor en oor of elektriese toestelle af is.”

Christelle het weer liefde gevind en sy vertel dat
Christelle het weer liefde gevind en sy vertel dat Morné Bothma haar help om weer heel te word. Foto: Verskaf.

Net voor die inperking het sy haar nuwe geliefde, Morné Bothma (46), ’n swaarvoertuigbestuurder, danksy ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet.

“Hy is besig om elke stukkie wat in my gebreek het weer te heg. Ek het ná al hierdie groot, groot hartseer weer geluk gevind.”

Dis hoekom sy onlangs in die VIA­-episode van Omgee-engele en nou ook in Huisgenoot haar reis deel.

Theo’tjie verskyn weer, dié keer met ’n bak koekies. “Ek is baie lief vir bak en het elke Woensdag gebak,” vertel Christelle. “Ná hul dood het ek ’n hele jaar lank niks gebak nie. Ek kon nie eens kos maak nie.”

Maar sy het onlangs weer saam met Morné begin bak, vertel sy. “Ek is weer lus daarvoor; ek is hom ewig dankbaar.”

En ten spyte van hul gedeelde seer kan Ouma en haar kleinseun ook nou weer saam koekies eet – ’n herinnering aan soet te midde van ondenkbare seer.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.