Tog is dít die skoktoneel wat Norman Erasmus op sy kleinhoewe op Boschkop buite Pretoria teëgekom het nadat weerlig sy middelkind, Tessa (12), vroeër in Maart getref het.

Dis enige ouer se grootste nagmerrie, sê Norman (39). Maar nou het die hartseerste dag in Erasmus-gesin se lewe ook die grootste wonderwerk geword: Tessa leef – en sy het volkome herstel nadat sy eers deur weerlig getref is en toe minute lank sonder suurstof was.

“Dis nie iets wat ’n mens sommer vergeet nie. Die angs en trauma is iets wat jou baie lank bybly,” vertel die pa van drie.

Norman sê hy en sy vrou, Gerda (33), en hul kinders, Tessa, Larouchelle (15) en Nadia (5), is almal groot diereliefhebbers. Dis hoekom Tessa op daardie gewraakte Vrydagoggend van 13 Maart reeds om 05:30 wakker was om haar marmotte te voer.

Dit het liggies gereën, onthou Norman; daarom het Tessa haar waterstewels en reënjas aangetrek voor sy na buite is.

Tessa Erasmus
Tessa in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Ons was almal in en om die huis besig. Die volgende oomblik, sommer vanuit nêrens, slaan die weerlig donderend hard. Die aarde het letterlik gebewe – en ek oordryf nie,” vertel Norman.

Dis toe dat hy Gerda hoor skree: “Waar is Tessa?” 

Hulle het na buite gehardloop en haar lewelose liggaam onder ’n boom by die marmothok aangetref, sê hy.

“Ek is nie ’n nooddienswerker nie, maar ek het dadelik gekyk of sy asemhaal; gevoel of ek dalk ’n hartklop hoor of ’n polsslag kan voel . . . Daar was niks nie. Jy kan nie aan iemand verduidelik wat deur jou kop gaan nie. Miljoen dinge, dalk meer. Vrees. Woede. Angs.

“Ek het onmiddellik met hartmassering en mond-tot-mond-asemhaling begin. Haar lippe was blou; haar vel ’n lewelose grys. Ek is nie ’n kenner nie, maar ek kan dit sonder skroom sê: my dogter was beslis dood.” 

Tessa Erasmus
Die gesin: van links is Gerda, Norman, Larouchelle, Nadia en Tessa. Foto: Verskaf

Terwyl Norman onophoudelik met die noodhulp voortgegaan het, het Gerda die bure ontbied.

“Ek het Tessa se liggaam in een stadium van die grond na een van die swembadstoele gelig; en daarna weer na die stoeptafel. Een van ons bure het ons te hulp kom snel. Hy het my so gekyk en gesê: ‘Jis, vriend, nee . . . Sy is dood.’ Dis die ergste ding wat enige pa kan hoor. Jy is moeg, jy is uitasem. Maar jy wil nie opgee nie.” 

Die noodhulpproses het nie langer as 15 minute geduur nie, sê Norman. Maar vir hom het dit na ure gevoel.

“Later het nog ’n buurman aangesluit. Hy het die hartmassering oorgeneem en ek het aangehou met die mond-tot-mond. En toe sien ons dit: ’n hartklop. Ek het van die ander mense gevra of ek nie mal is nie, of ek my nie verbeel nie. Ek wou dit immers so graag hê . . . Maar ek het nie. Sy het weer geleef.” 

Norman en Gerda het met Tessa na die Wilgers-hospitaal in Pretoria gejaag. Sy is in die trauma-eenheid opgeneem en haar brandwonde is behandel. Tessa is daarna verwys na die brandeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg. 

“Hulle moes die wonde op haar arm en boud skrop. My vrou was daar, en sy sê geen ma moet dit hoor nie. Geen ma moet hoor hoe haar kind so van die pyn skreeu nie.” 

Tessa voor die ongeluk. Foto: Verskaf
Tessa Erasmus
Tessa is weer haar ou self, vertel haar pa. Foto: Verskaf

Maar Tessa se merkwaardige herstel het dokters sprakeloos gelaat. So ’n slag, het die mediese kenners gemeen, was tegnies veronderstel om haar dood te beteken. Of ernstige inwendige skade, dalk selfs breinskade.

Daar was niks nie. ’n Neuroloog het bevestig sy het geen breinskade nie en buiten vir swelling op haar longe is daar geen inwendige skade nie. Die wonde op haar arm en boud het ook reeds merkwaardig herstel.

“Sy is na die eerste week in die hospitaal ontslaan. Ons het haar daarna weer terug geneem omdat sy ’n aanval gekry het weens die posttraumatiese stres. Sy ervaar nog effens pyn in haar rug en skouer, maar sy is klaar weer haar ou self. Sy mis die skool en sy speel saam met haar sussies.

“Sy onthou niks van die voorval nie – niks nie. Maar alles voor en na dit is so helder soos daglig. Sy kon al haar marmotte op die naam noem.” 

Die gesin sê daar is by hulle geen twyfel dat “die wonderwerk van die Here af is nie”. Die Erasmus-gesin het nie medies nie, maar sê hulle is deur elke tree deur geliefdes en weldoeners ondersteun. Hul hospitaalrekeninge is deur anonieme skenkers betaal.

“Ons dink nie dit was die Here nie – ons weet so. Hoe is dit moontlik? Ek het my kind daar sien lê. Sy het nie asemgehaal nie – sy was dood. En deur elke tree was God daar. Deur elke worry oor geld en oor rekeninge. Deur elke stap van haar herstelproses. Hieroor is ons seker: wonderwerke gebeur.”