Dit was die eerste keer dat sy nie ná werk reguit huis toe is nie. 

Vir Chariska Kloppers was daar nog altyd net een ding om ná werk te doen, en dit was om haar huis toe te haas na haar drie kleintjies toe. Dan het sy saam met hulle vir aandete aangesit, ’n oog oor hul huiswerk gegooi en hulle met soentjies in die bed gesit.

Maar op Vrydagaand 16 April het sy ’n uitsondering gemaak. Dit was toe die grootbaas van die eiendombestuursmaatskappy waar sy nog net drie maande gewerk het, almal vir ’n drankie by ’n kuierplek nooi.

Sy het nog daardie aand haar ma gebel en gesê sy sal hopelik “netnou by die huis wees”.

Maar Chariska het nooit weer by die huis gekom nie. En nooit sal sy weer haar drie kleintjies kan vasdruk nie.

Clariska saam haar drie jong kinders.
Clariska saam haar drie jong kinders.

Daardie uitsondering sou die eerste en laaste keer wees dat die toegewyde enkelma saam met haar kollegas ’n suksesvolle transaksie sou gaan vier, want die partytjie het in ’n tragedie geëindig. 

Chariska (30) se lewelose liggaam is vroeg die volgende oggend by ’n huis in Menlopark, Pretoria, aangetref, saam met dié van Theo Kleynhans (60), die besturende direkteur van Property Management Authority SA (PropMan), en Mario Pretorius (23), ’n eiendomsbestuurder. Nog ’n personeellid wie se naam op regsadvies weerhou word, se lewe het aan ’n draadjie gehang.

Theo Kleynhans, besturende direkteur van Propman is ook dood in die huis gevind.

In die huis is ook dwelms en drank gevind. Dié het net vir méér tergende vrae oor haar raaiselagtige dood gesorg wat sover onbeantwoord bly.

Oor die oorsaak van hul dood was daar teen druktyd nog geen duidelikheid nie.

Maar één ding weet Chariska se naasbestaandes met sekerheid: Sy sou nooit willens en wetens dwelms gebruik het nie. 

“Mense sê verskriklike goed oor my sussie op Facebook, sê dit is omdat sy dwelms gebruik het. Twak, man!” roep haar broer, Andrew Pretorius (28), ontsteld uit.

“Sy het rook gehaat. Sy het byna nooit eens ’n glas wyn gedrink nie. Sy sou iemand in hul maai ingestuur het as hulle haar dwelms aangebied het.” 

Haar ma, Rita Pretorius (57), beaam: "Chariska sou nie aan dwelms geraak het nie. Ons hele gesin verpes dwelms. Sy het vir ’n saamrygeleentheid gewag en met haar lewe geboet.”

Haar vervreemde man, Nollie Kloppers (35), onthou toe hulle nog “op date nights” gegaan het, het hulle nooit kroeë besoek nie.

“Van die mense wat by die kuierplek was, sê sy het net twee Coke Lights gedrink,” vertel hy aan Huisgenoot.

“Sy was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.”

Chariska Kloppers is in raaiselagtige omstandighed
Chariska Kloppers is in raaiselagtige omstandighede dood.

Die huis in die noorde van Pretoria waar Chariska saam haar ma en haar drie kinders gewoon het, is stil toe Huisgenoot ’n week ná haar dood daar aanklop. 

“Chariska se oudste verjaar. Hy word vandag 10. Hulle het gaan roomys eet saam met hul pa,” verduidelik hul ouma Rita.

In die hoek van die sitkamer is ’n klein speelgoedkombuisie waar die jongste, ’n driejarige meisietjie, speel-speel disse optower. In die eetkamer wys Rita na ’n spesiale hoekie vir kunshandwerk.

“Ek en sy het net verlede week dié hoekie reggemaak sodat sy en die kinders hier hul crafts kan doen,” sê Rita. “Kyk die finger puppets wat hulle saam gemaak het.

“Chariska was ’n ongelooflike ma. Sy het vir haar kinders geleef. Sy het nooit gaan kuier nie,” vertel Rita, wat verlede Desember uit Middelburg, Mpumalanga, hierheen getrek het.

“Sy het gevra of ek nie hier sal kom bly en met die kinders help nie, want sy werk soms lang ure en was vasberade om goed te doen by die werk,” verduidelik die ouma. 

Dit was nadat Chariska en Nollie ná ’n huwelik van ses jaar uitmekaar is. Hy het verlede September na Polokwane getrek waar hy as bestuurder van ’n bande-onderneming werk. Hulle was van plan om te skei. 

Chariska sou aan die einde van April ná ’n proeftydperk permanent by die eiendomsbestuursonderneming aangestel word.

“Sy was opgewonde, want hulle wou haar as bestuurder oplei. Sy wou so graag vir haar kinders meer gee. Alles wat sy gedoen het, was vir hulle,” sê haar ma.

Rita het elke dag die kinders by die skool gaan oplaai en vir hulle aandete berei. 

“Ons het ál vyf elke aand om die eetkamertafel gesit en eet, sodat ons kon gesels. Dan het Chariska deur die kinders se huiswerk gegaan, al het ons dit al die middag gedoen. Sy was ’n betrokke ma. ’n Ontsaglike goeie een.”

'n Geraamde prent van die gesin wat die kinders ge
'n Geraamde prent van die gesin wat die kinders gemaak het.

Haar sterfdag het soos enige ander weeksdag vir Chariska begin. Sy het saam met haar ma en die kinders skool toe gery. ’n Kollega wat in dieselfde omgewing woon, het haar soggens daar opgelaai en haar ’n geleentheid werk toe gegee.

“Sy het gesê: ‘Bye ma, lekker dag,’ en die kinders elk ’n druk en soen gegee,” onthou Rita die laaste keer dat sy haar dogter lewend gesien het.

Laatmiddag het Chariska gebel om te sê sy en haar kollegas gaan ná werk ’n drankie drink.

“Sy het vir my gesê sy sal nie laat by die huis wees nie; sy gaan nou-nou saam haar bestuurder, Mario, wat net twee strate van ons af bly, ’n lift kry. Chariska het al ’n keer of wat ’n rygeleentheid saam met Mario gekry.

Mario Pretorius is ook oorlede in die huis.
Mario Pretorius is ook oorlede in die huis.

Net ná sewe het sy weer gebel. “Alles het normaal geklink, en sy het net gesê ek moenie bekommerd wees. Sy wag vir haar lift. Sy sal hopelik netnou by die huis wees.”

Dit was die laaste wat Rita van haar dogter gehoor het.

“Hier teen negeuur was ek bekommerd. Ek het gebel en gebel, maar niemand het geantwoord nie.” Ná ’n onrustige nag het sy sesuur die volgende oggend die kinders wakker gemaak en gesê: “Kom ons gaan na mamma soek.”

Sy het uitgevind waar Mario woon en aan deure in die omgewing gaan klop. Toe haar soektog niks oplewer nie, het sy begin rondbel, ook na haar jongste broer, Johnny van der Merwe. Hy het op sy beurt navraag gedoen, en ’n paar uur later die tyding gebring: Chariska is dood in ’n huis in Menlopark aangetref. 

Die huis in Pretoria waar drie kollegas se lyke on
Die huis in Pretoria waar drie kollegas se lyke onlangs gevind is. ’n Vierde het oorleef.

“Dit het nie sin gemaak nie. Ek het deurgejaag na daai huis toe. Daar was baie polisie, maar toe het hulle al my kind daar weggevat. Hulle het vir my ’n foto gewys en dit lyk of sy net aan die slaap geraak het in die stoel. 

“Wat ook al sy ingekry het, dit moes vinnig gewerk het,” sê Rita en vir die eerste keer baklei sy teen die trane. “Ek kon sien sy het aan die slaap geraak en net nooit wakker geword nie. Dit gee my ’n bietjie berusting.” 

Chariska se liggaam is in dié stoel op die stoep a
Chariska se liggaam is in dié stoel op die stoep aangetref. Dit het glo bloot gelyk asof sy slaap.

Chariska se geliefdes het die dag voor ons onderhoud met ’n gedenkdiens via Zoom van haar afskeid geneem. Rita het die kinders mooi aangetrek, en hulle het na die boodskap van vertroosting geluister wat twee pastore van die Apostoliese Kerk uit hul huise gelewer het. 

Rita gaan hier in Pretoria bly om haar kleinkinders te help versorg.

Sy probeer nie haar hartseer vir hulle wegsteek nie. “As ek wil huil, dan huil ek,” sê sy.

Eenkeer toe sy haar ouma sien huil, het haar kleindogter haar trane af gevee en haar ’n vertroostende drukkie gegee.

Net die oudste verstaan werklik dat sy ma dood is. Al drie die kinders ontvang berading. 

“Elke keer as hier ’n kar stop, sê die jongste: ‘Mamma is terug,’ en dan moet ons weer verduidelik,” vertel Rita.

Kinderstemme weerklink opgewonde in die huis toe die drietal saam met hul pa tuiskom. Die sewejarige seun loop ’n plastiekslang en swaai, en sy sussie, wat nes haar ma lyk, kom deel van haar lekkernye met haar ouma en Huisgenoot se mense.

Elkeen het ’n ballon in die hand. 

Die verjaardagseun vertel hy het vroeër vandag ’n briefie vir sy ma met ’n ballon in die lug opgestuur.

 “Ek het vir Mamma ’n hartjie geteken en gesê: ‘Ek’s lief vir Mamma en ek mis Mamma.’ Ek dink sy sal dit daar bo in die hemel kry . . .”

  • Die polisie is besig om die sterfgevalle te ondersoek, het kol. Noxolo Kweza aan Huisgenoot gesê. “Ek kan nie bevestig of ontken dat die patologieverslae al afgehandel is nie,” het sy oor die nadoodse ondersoeke gesê.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe