Dit was asof die voorval in millisekondes afgespeel het, sê Esmarie van Heerden* van Elarduspark in die ooste van Pretoria nadat ’n fratsongeluk vandeesweek byna daartoe gelei het dat sy haar been verloor.

Esmarie, ’n onderrig-assistent by ’n Gautengse universiteit, sê dis steeds onseker wat presies daartoe gelei het dat haar motor Maandagmiddag (3 Augustus) by ’n helling in die oprit van die motorhuis vorentoe gerol en deur die veiligheidshekke gebars het.

Esmarie was pas tuis en besig om die veiligheidshekke na die motorhuis oop te sluit toe die motor skielik vorentoe rol. Sy kon betyds uit die pad spring sodat sy nie tussen die motor en die hek vasgepen word nie, maar ’n stuk metaal van vermoedelik die hek het haar linkerbeen oopgekloof.

“Ons weet steeds nie hoe so iets kon gebeur nie,” vertel Esmarie Woensdag vanuit die Milpark-hospitaal in Parktown, Johannesburg, aan Huisgenoot.

“Die handrem van die motor was opgetrek – maar dis ’n ou karretjie, en ons vermoed die handrem was dalk nie so stewig soos hy moes wees nie.” 

Esmarie van Heerden
Nooddienspersoneel behandel 'n Pretoriase vrou nadat haar stilstaande motor vorentoe gerol en deur 'n staalhek gebars het. Foto: Verskaf

Nooddienspersoneel van Netcare911 sê hulle het met hul aankoms op die toneel Esmarie in ’n “ernstige toestand” aangetref en haar op die plek gestabiliseer.

Esmarie se sesjarige dogtertjie was vasgegordel in die motor en was ongedeerd. Maar sý was in baie pyn – en nooddienspersoneel was bekommerd dat ’n slagaar in haar been dalk in die ongeluk afgeskeur het en dat sy dus te veel bloed sal verloor.

Sy was egter nié tussen die motor en die veiligheidshek vasgepen of “heeltemal vergruis” soos voorheen in die media berig is nie, sê Esmarie. 

“Sjoe, daar was vlees en bloed oral,” sê Esmarie vandag. “Dit was verskriklik seer en ’n mens is onseker oor presies hoe ernstig dit is. Ek is eintlik vandag steeds te bang om na die wond te kyk. Maar ek besef dit kon veel erger gewees het – ek weet hoe gelukkig ek is dat ek tussen die motor en hek kon uitkom.” 

Sy is onder verdowing met ’n mediese helikopter na die Milpark-hospitaal geneem, maar later is vasgestel dat daar nié ’n slagaar in haar been geskeur het nie. Daar was wel ’n wond van meer as 10 cm lank – en so diep dat die metaal tot teen die spier gesny het.

Esmarie van Heerden
Die veiligheidshek waardeur Esmarie se motor gebars het. Foto: Verskaf

“Ek is dankbaar dat daar genoeg tyd was om tussen die hek en motor uit te spring,” sê Esmarie. “Wat daar in die proses gebeur het – en presies hoe ek my been so erg seergemaak het – kan ek nie eens onthou nie. Benewens dit het ek skaaf- en skuurmerke teen my knieë en bene. Dokters het gemeen ek kon my been verloor het as daar wel ’n slagaar afgeskeur het.” 

’n Plastiese chirurg het Maandag aan Esmarie geopereer. Sy sê dokters meen sy sal dalk nog vandeesweek uit die hospitaal ontslaan kan word. 

“’n Mens dink nooit dat so iets sommer met jou sal gebeur nie,” sê Esmarie. “Jy is mos besig met iets alledaags en jou kop is op eenhonderd ander plekke. Maar vandag – hier in die hospitaal – is dit vir my belangrik om ander te waarsku. Want dis belangrik om altyd op jou hoede te bly omdat so iets in ’n oomblik kan gebeur – en dit kon veel erger gewees het.” 

*Skuilnaam

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe