Rachelle le Grange
Dokters het haar op die ergste voorberei, maar nou sê die ma van Rachelle le Grange van Pretoria haar dogter se herstel ná ’n breinoperasie van sowat 19,5 uur is ’n wonderwerk. Foto: Verskaf

Die ma van ’n jong Pretoriase vrou wat verlede maand ’n ingrypende breinoperasie van byna 20 uur ondergaan het, sê dis ’n wonderwerk dat haar dogter lewend uit die teatersaal gekom het – selfs al wag ’n lang herstelproses nog op haar kind.

Hulle het geweet iets skort met haar gesondheid toe Rachelle le Grange (20), ’n derdejaar bourekenaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, in Januariemaand aanvalle gekry het wat haar tot so lank as 45 minute byna bewusteloos en stom gelaat het, vertel haar ma, Rhelda (53), van Villieria, Pretoria aan Huisgenoot.

Maar presies hóé groot die skok sou wees wat op hulle gewag het, sou sy nooit kon voorspel nie.

Die gewas in Rachelle se brein was 2,7 cm by 3,3 cm groot. Foto: Verskaf
Die gewas in Rachelle se brein was 2,7 cm by 3,3 cm groot. Foto: Verskaf

“Rachelle het in Januarie skielik hierdie vreemde floutes begin ervaar,” onthou Rhelda vandag. “Dit was verskriklik – dit sou telkens 45 minute lank duur en sy was daarna altyd stom. Sy het vertel sy kon ons altyd hoor, maar sy kon nie praat nie.” 

’n Plaaslike dokter het die gesin na ’n oor-neus-en-keelspesialis verwys omdat hy geglo het die floutes het te doen gehad met die ontsteking van Rachelle se sinusse, vertel Rhelda. Dit was toe nie die geval nie, het die spesialis aan die familie bevestig.

“Ons is na ’n ander spesialis verwys om ’n MRI-skandering te laat doen,” sê Rhelda. “Die oor-neus-en-keelspesialis het dadelik vermoed die probleem lê in haar brein.”

Rachelle le Grange
Vir haar was die ergste om haar vriendelike blondekopdogter aan masjiene gekoppel te sien, vertel Rhelda. Foto: Verskaf

En dit hét, vertel Rhelda. ’n MRI-skandering het dokters bewus gemaak van ’n gewas naby aan die breinstam. Die gewas was 2,7 x 3,3 cm in grootte.

“Die dokter het aan ons verduidelik die gewas druk die breinstam na links. Dit het op sy beurt die bloedtoevoer beïnvloed wat dan die floutes veroorsaak het,” sê Rhelda.

Die volgende uitdaging sou wees om ’n dokter te soek wat bereid sou wees om haar dogter te opereer, vertel sy. So naby was die gewas aan die breinstam, dat die operasie maklik ’n mislukking kon wees – Rachelle kon moontlik permanent verlam wees en vir die res van haar lewe buisvoeding moes kry.

Rachelle le Grange
Dat haar kind leef en nou op die herstelpad is, is ’n wonderwerk, sê Rhelda. Foto: Verskaf

“Dis nie iets wat enige ouer wil hoor nie,” erken Rhelda. “Dis ’n groot skok, want jy besef wat die implikasies kan wees as die operasie nie ’n sukses is nie. Die ergste is dat die dokters vir jou sê dit moet gedoen word, maar niemand is bereid om die kans te waag nie.” 

Eindelik het dr. Maurizio Zorio, ’n neurochirurg verbonde aan die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg, daartoe ingestem om die ingrypende operasie op Rachelle uit te voer.

Haar dogter is op 19 Februarie geopereer, vertel Rhelda.

Rachelle le Grange
Rhelda sê dit was senutergend om 19,5 uur lank te wag terwyl haar dogter, Rachelle, die ingrypende breinoperasie ondergaan. Foto: Verskaf

“Hulle het aanvanklik vir ons gesê die operasie sou ses uur duur,” sê sy. “Net voor sy ingegaan het, het die narkotiseur terloops genoem dit kan dalk tot 10 uur duur. Maar toe kom ses uur en later 10 uur en Rachelle was nog nie uit die teater nie – ons was doodbekommerd.”

Toe die dokter vanuit die teater kom en vra om met Rhelda te praat, het sy die ergste verwag.

“Jou gedagtes verwag dadelik die donkerste . . . Maar dit was nie slegte nuus nie. Die dokter het laat weet hulle werk noukeurig en stadig, so die operasie gaan nog ’n paar uur lank duur, dalk vier uur.” 

Eindelik het 19,5 uur verbygesleep, maar die operasie was ’n sukses. Rachelle is dadelik na die intensiewesorgeenheid geskuif, vertel Rhelda.

Rachelle le Grange
’n Rehabilitasieproses van minstens ses maande wag nou ná die operasie op Rachelle. Foto: Verskaf

“Ek weet vandag dis net genade dat my kind uit daardie teater gekom het. Ons het ’n gebedskring gehad wat die heelnag lank vir ons, vir die mediese span en vir my kind gebid het. Daar is by my geen twyfel dat die Here hul hande vasgehou het en dat Hy my kind gedra het nie,” sê sy bewoë.

Rachelle kon ná die operasie net sukkelend praat, die regterkant van haar gesig was verlam, sy het geen gehoor gehad in haar regteroor nie en kon ook nie loop nie. Die regterkant van haar liggaam was ook “uiters swak”, vertel haar ma.

Rachelle le Grange
Rachelle saam met haar ma, Rhelda. Foto: Verskaf

Dokters het aan die gesin gesê haar rehabilitasieproses, wat bestaan uit arbeids-, fisio- en spraakterapie, kan tot ses maande duur.

Sy is op 26 Februarie, net ’n week later, uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan.

“Elke nuwe beweging wat sy nou maak, is vir ons ’n wonderwerk,” vertel Rhelda. “Rachelle kan al aan ’n strooitjie suig en sy kon gister, tydens ons eerste afspraak met die fisioterapeut, sukkel-sukkel loop. Dit gaan ’n lang proses wees voor sy weer haar ou self is, maar dat sy hier is – dat sy lewe – is ’n wonderwerk, en daarvoor het ons net God om te dank.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe