Leilani Kuter
Leilani is gereed om 27 km elke dag vir 27 dae lank te stap om haar verkragting te herdenk en ander oorlewendes te bemoedig. Foto: Verskaf

En nou, 27 jaar later, is sy gereed om haar storie ten goede te gebruik vir ander: om tree vir tree te fokus op oorlewing. Op 4 April vanjaar het sy na die NG-kerk jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria, gegaan en kamer nommer 252 besoek om vrede te kry.

“Ek wou daardie deur vir altyd toemaak. Ek sal nooit weer teruggaan nie,” vertel Leilani aan Huisgenoot. Sy het op daardie dag besluit sy moet iets doen op die dag wat haar mag van haar af weggevat is.

Sy wou haar eie Camino-pelgrimstog aanpak deur Suid-Afrika: 27 km elke dag vir 27 dae lank, wat 729 km altesaam is. Sy verjaar ook op die dag wat sy begin stap, die 16de September.

Kort ná sy in April terug is na die plek van haar nagmerrie, het haar pad gekruis met Gerhard Botes – ’n ou kennis. Gerhard se vrou, Betsie, het hom aangemoedig om Leilani te help.

Hy gaan gedurende haar staptog saam met haar ry na die verskillende dorpies van waar sy elke dag se 27km gaan stap. Die ATKV is ook aanboord om vir hulle verblyf te gee en die geleentheid dat sy haar storie by die oorde vertel.

Gerhard gaan ’n dokumentêr oor haar epiese reis maak.

Leilani is gebore en het grootgeword in ’n middelklasgesin in Pretoria en was van jongs af onafhanklik en het op 15-jarige ouderdom begin werk. Op 17 het sy as administratiewe klerk by die Departement van Finansies gewerk en in 'n kamer in die NG-kerk Jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria, gewoon.

Sy het die dag verlof geneem om ’n paar takies in die stad te doen. Sy het eers in haar kamer ontspan en omdat so stil was in die slaapsale het sy langs die swembad gaan sit voor sy weer terug kamer toe is.

Terwyl sy op haar vriend gewag het, het sy op haar bed gaan sit. Daar was ’n klop aan die deur. Dit was ’n man in sy laat twintigs wat homself as 'Frankie' voorgestel het.

Leilani Kuter
Leilani as agtienjarige gedurende die tyd voordat sy verkrag is. Foto: Verskaf

“Hy het verduidelik dat die inwoner wat langs my woon sy suster was en dat hul ouma oorlede is. Hy moes die hartseer nuus vir haar deurgee,” vertel Leilani. “Ek het nie veel nagedink daaroor nie en die vreemdeling ingelaat," onthou sy.

“Binne ’n paar sekondes was hy bo-op my. Ek het met hom probeer redeneer, maar hy wou nie luister nie. Hy het sy gordel afgehaal en dit om my nek gedraai terwyl hy my so wreed verkrag het dat ek my bewussyn verloor het.

“Ek kan vaagweg die sakmes in my boonste laai onthou en het gewik en weeg of ek dit moet probeer in die hande kry of nie. Toe hy klaar was, het hy my naak en bebloed gelaat, met 'n gordel om my nek gedraai en my lewe vir altyd verander.

“Toe die polisie uiteindelik opdaag, het hulle verduidelik dat dit die sesde verkragtingsaak is wat binne 'n week in die omgewing aangemeld is. Die polisie was baie non-chalant oor die verkragting. Hulle het met my gepraat asof hulle my uitvra oor hoe ek van my eiers gebak hou,” sê Leilani.

“Al was dit die moeilikste tyd van my lewe, is ek bly ek het ’n saak by die polisie gemaak en het ’n saaknommer. Al die bewysstukke word bewaar en met die nuwe tegnologie sal my verkragter dalk nog vasgetrek kan word.

Leilani Kuter
Leilani Kuter Foto: Verskaf

“Ek wil ook aan ander oorlewendes van seksuele geweld wys jy kan ’n goeie lewe hê. Ek is nou vir die tweede keer getroud en baie gelukkig. Ek het nou ’n gesonder huwelik vir die afgelope ses jaar,” vertel sy.

Met die stappery wil sy ook geld insamel vir onder andere gratis berading aan oorlewendes wat dit nie kan bekostig nie.