Sy is nou twee jaar en ses maande oud – dít nadat dokters voor haar geboorte gewaarsku het sy sal dalk net twee of drie dae leef.

Van die dokters het gevra of haar ma, toe 23 weke swanger, die ongebore baba wil laat aborteer, want die dogtertjie se vooruitsigte het donker gelyk.

Sy sou gebore word met hidrokefalie, oftewel vog op die brein – ’n sogenaamde waterhofie. “Nie eens God sal haar kan help nie,” het een dokter gesê.

Maar hier lê klein Nadya nou, popmooi in haar stootwaentjie en oënskynlik gesond. Met die kussings weerskante van haar kop is dit nie so opvallend dat haar koppie anders lyk as dié van ander kinders nie.

Sy lyk soos ’n dogtertjieprinses op haar troon. “Hallo, hallo,” groet sy vrolik. Sy lag diep uit haar maag, en die borrelende klank van kindervreugde vul die vertrek.

Dan begin klein Nadya onverwags kreun. Want al lyk sy gesond, veroorsaak die drukking van vog op haar brein soms vreeslike pyn. Dikwels, soos nou, volg ’n epileptiese toeval.

Haar ogies flikker voor dit verstar; haar regterbeentjie trek styf. Dis hartverskeurend om dit te aanskou.

Ouma Christa Roos (47) tel haar kleindogter op – sy is al geoefen en weet hoe om te maak wanneer Nadya swaarkry. “Nadya, haal asem, my liefling,” herhaal sy oor en oor.

“Jy is ouma se mooiste, mooiste,” koer sy terwyl sy Nadya teen die trap van hul huurhuis buite Stellenbosch opdra om vir die dogtertjie medikasie in te spuit. Vir Christa is Nadya nie “anders” nie.

‘Sy kan nie stap, kruip of sonder ondersteuning regop sit nie’

Sy sien net haar kleindogter, aan wie se versorging sy haar lewe wy. Op ’n rekenaar in ’n slaapkamer bo speel die tekenprent The Polar Express, wat Christa al honderd keer of meer saam met haar kleinkind gekyk het.

Toe sy na die leefkamer terugkeer met Nadya nou rustiger, verduidelik Christa sy los die kleinding nie ’n oomblik alleen in die vertrek nie.

Sy is veral bang Nadya sluk haar tong tydens ’n epileptiese toeval in, verduidelik sy. Die ouma is fyn ingestel op elke beweging, geluidjie en verandering in gelaatskleur van haar kleindogter. Haar kleinkind is haar alles.

Liefdevol sê sy: “Ek is ge-bless met haar; sy is my lewe.”

Christa versorg Nadya voltyds omdat haar ma, Melissa (24), ’n naeltegnikus, nou as kassiere by ’n apteek naby hul huis werk en eers saans tuiskom.

Melissa en haar dogtertjie se pa, Ralph Stirk (48), is nie meer in ’n verhouding nie en hy bly in Kaapstad, maar probeer sy kind soveel moontlik sien en is betrokke in haar lewe.

Ouma Christa se man, Werner (53), werk by die Gamsbergsinkmyn naby Aggeneys in die Noord-Kaap. Sy soektog na werk nader aan sy familie was tot dusver vergeefs.

baba
Christa se lewe draai sedert haar kleindogter se geboorte om haar en sy maak seker die kleinding oorleef haar talle epileptiese toevalle. Foto: Corrie Hansen

Bedags is dit dikwels net Christa en Nadya hier in die huurhuis in die kompleks waar so baie studente op die universiteitsdorp woon.

Wanneer die bure braai, moet hulle Nadya se kamerdeur toemaak en met nat handdoeke seël om die rook uit te hou.

Christa se stem weergalm deur die leë vertrekke wanneer sy praat, want die gesin se meubels word gestoor tot hulle ’n permanenter woonplek kry.

Hulle woon nou al byna ’n jaar hier, maar kon nog nie wortelskiet nie. Melissa het destyds in Pretoria gewoon, maar Kaap toe getrek nadat haar dogtertjie met ’n waterhofie gebore is.

Christa het daarna by haar aangesluit. Hulle wil nou ter wille van Nadya na Kaapstad trek, want dit sal nader aan die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Rondebosch wees.

Terwyl vakansiegangers in Desember dwarsoor die land feesvier, sal die volgende fase in Nadya se behandeling juis in dié hospitaal begin.

Dokters beplan om tydens ’n operasie nog ’n dreineringspypie in haar lyfie in te sit.

Die pypie sal van die onderkant van haar skedelholte deur haar nek en borskas tot in haar magie loop en vog van haar brein tot in haar maag dreineer sodat haar ligaam dit van daar natuurlik kan uitskei.

Twee dae ná haar geboorte op 30 April 2016 het dokters by die Tygerberghospitaal in Kaapstad ook so ’n pypie ingesit, maar dit is nie meer voldoende om die drukking te verlig nie.

As die dreineringspypie dié keer beter werk, sal dit hopelik vir klein Nadya verligting bring.

Hallo!” klink ’n stem vrolik van die tuinhekkie af. “Ma-ma-ma,” groet Nadya terug.

Sy het pas wakker geword van ’n slapie en haar gesiggie is weer ’n groot glimlag met ’n ry tandjies wat wys. Toe sy ma Melissa sien, smak sy haar lippies.

Ma Melissa werk hard om haar spesiale dogtertjie se medisyne te bekostig. Foto: Corrie Hansen

“Dis haar manier om ’n soen te vra,” vertaal Christa. Melissa het gou oor middagete kom inloer; haar werk is binne loopafstand van die huis af.

Sy lyk net so moeg soos haar ma, maar glimlag moedig terwyl sy haar neus teen haar dogtertjie s’n vryf. Nadya se kop lê swaar in haar hand.

“Ons byt vas. Dit help nie om te kla nie,” sê Melissa.

“Vir ons het dit gelyk sy word beter, maar sy het eintlik agteruitgegaan. Die epileptiese toevalle vererger. Dit tas haar spraak aan en sy is ook nie meer so woelig nie.”

Al hol ander kinders van haar ouderdom die wêreld vol, kan Nadya nie stap, kruip of sonder ondersteuning regop sit nie.

“Sy het al begin opstaan en beweeg, maar nou rol sy net rond op die bed langs my. Jy kan sien sy wil dinge doen, maar haar kop is te groot en swaar.”

Nadya lag en ­gesels ten spyte van haar uitdagings. Foto: Corrie Hansen

Tog bly Melissa positief oor haar kind se toekoms. “Sy het ’n sterk wil. Sy gaan nog sit, sy gaan staan én sy gaan loop,” sê sy beslis.

Sy vertel hoopvol van ’n webtuiste waarop mense ingeteken is wat met hidrokefalie gebore is.

“Ek is gereeld op die webtuiste en daar is 50- en 60-jariges wat met die toestand leef.”

Die afgelope jaar het dit maar moeilik gegaan.

Die krulkoppie was kort-kort in die hospitaal omdat sy soveel epileptiese toevalle beleef het. Sy het in ’n stadium ses verskillende soorte medikasie geneem.

Sy kry ook soms kwaai hoofpyn en slaan dan met haar handjies teen haar kop of trek aan haar hare. Haar kopbeen het reeds gevorm en kan nie kleiner word nie, maar sy sal later in haar lewe kan besluit of sy ’n operasie wil ondergaan om die vorm van haar skedel te verander.

Foto: Corrie Hansen

Intussen teken Melissa en Christa aan wanneer Nadya epileptiese toevalle kry en hulle neem video’s daarvan sodat hulle dit vir haar dokters kan wys.

Al moet hul poppie met ’n waterhofie leef, hoop hulle die nuwe dreineringspypie sal die drukking op haar brein verminder sodat sy minder deur epilepsie gefolter word.

Nadya slaap sleg en word soggens vieruur wakker, wat beteken ma en ouma moet ook dan uit die vere kom.

Die spanning het sy tol geëis en depressie is einde verlede jaar by Christa gediagnoseer, maar sy sê moedig: “Ek is nou op die regte medikasie sodat ek sterk kan wees vir Nadya.”

“Diddel-diddel-diddel-diddel,” sing Nadya nou met ’n silwer towerstaffie in die hand. Huisgenoot het dit verlede jaar op Nadya se eerste verjaardag vir haar present gegee. Ook in die present was ’n paar engelvlerkies.

Die towerstaffie is een van die krullebol se gunstelingspeelgoed; ook ’n singende beer wat haar woorde leer en ’n ratel.

“Diddel-diddel-diddel-diddel,” sing Nadya verder. En dan, ’n regte klein terggees, steek sy vir die gaste tong uit.