Roland (46) se lyk is op 2 Julie deur sy vrou, Lizé, in die tuin van hul huis in ’n veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria gevind.

Larochelle se man het in die sosiale media die bewerings gesien dat dit selfdood was.

“Ons is geskok en ontsteld, maar ons het besluit om vir nou eerder stil te bly en te wag terwyl die polisie met die ondersoek voortgaan. Daar is mense wat net sensasie soek, en ons gaan nie nou kwaad word nie,” sê Larochelle.

Sy en haar gesin is steeds besig om sy dood te verwerk. 

“Ons vat dit dag vir dag. Dit bly moeilik, maar ons staan mekaar by.”

Volgens kapt. Johannes Maheso, polisiewoordvoerder, het die nadoodse ondersoek, wat uitendelik afgehandel is, geen tekens van moord getoon nie. 

“Ons vermoed die oorsaak van dood was selfdood. Daar is nie tekens wat aandui sy beserings was die gevolg van moord nie,” het hy Woensdagoggend aan Huisgenoot gesê. 

“Ons gaan egter voort met die ondersoek en sal enige leidrade verwelkom,” sê hy.   

Lizé het op die middag van 2 Julie op haar bebloede man se lyk afgekom nadat sy hom by hul huis in die veiligheidskompleks Christopher’s Palace in Olympus, in die verre suidooste van Pretoria, gesoek het. 

“My pa het met sy gesig teen die gras gelê. Daar was oral bloed, en cable ties was om sy nek vasgemaak toe my ma op hom afkom,” het Larochelle destyds aan Huisgenoot bevestig.