Lank voor die inperking het sy al aanlyn op ’n gasteplaas afgekom waar ’n tweeslaapkamerkliphuis teen ’n krans nestel met ’n prentjiemooi uitsig op die Kougarivier naby Kareedouw in die Oos-Kaap. Toe Mari Hoon (28) en haar verloofde, Jéan Vosloo (25), die kans kry om vir die laaste naweek in April daarheen weg te breek, het hulle dit ten spyte van die inperking aangegryp.

Maar die paartjie, wat in Maart volgende jaar sou getrou het, het die laaste ure van hul jong lewe daar deurgebring. Die oggend ná hul aankoms is albei se lyke in die stort aangetref waar hulle in raaiselagtige omstandighede saam gesterf het.

Foto: Verskaf
Mari Hoon en Jéan Vosloo voor hul dood. Foto: Verskaf

“Hulle was so lief vir mekaar. Hulle was soos peanut butter en stroop. Hulle het álles saam gedoen,” vertel Mari se suster, Suné (29). Vir haar was die dubbele doodstyding nog onwerklik toe sy enkele dae ná die tragedie met Huisgenoot praat. Ook Jéan se ma, Christel Vosloo van Jeffreysbaai, worstel nog om sin te maak van die skielike dood van die middelkind in haar en haar man, Lawton, ’n dokter, se kroos van vyf.

“Hy was ons staatmakerseun. Dit is vir ons baie swaar, die wete dat jou kind net so van jou weggeraap is.”

Mari se pa, Sakkie, wat in die boubedryf werk, vermoed ’n gaslekkasie kon tot sy jongste dogter en haar verloofde se dood gelei het, vertel Suné. Die geiser en yskas in die gastehuis werk met gas. Terwyl familie en vriende teen druktyd nog in spanning op die uitslag van die lykskouings en bloedtoetse gewag het, probeer hulle die dood verwerk van ’n paartjie wat in die fleur van hul lewe weggeruk is.

“Ek voel hartseer dat hulle op so ’n onskuldige manier moes doodgaan,” sê Stephan du Plessis (25), Jéan se vriend wat die gru-ontdekking in die stort gemaak het. “Dis nie asof hulle dronk geword en agter die stuur ingeklim het nie. Hulle het gaan stort en hulle is dood.”

Dit kon netsowel hy gewees het wat daar in die stort op die gasteplaas Zuuranys gesterf het, sê Stephan, wat die gastehuis daardie naweek met Jéan en Mari gedeel het. Hy boer saam met sy pa op ’n plaas in die Kareedouwdistrik, sowat 60 km van waar Jéan op ’n plaas vir die melkboer Trevor Elliot gewerk het.

Die twee boere is sedert hul studentedae aan die Elsenburg-landboukollege bevriend. Ook Jéan en Mari het mekaar as studente op Stellenbosch ontmoet en ná ’n romanse van twee jaar in November 2018 verloof geraak.

Hulle het nesgeskop op ’n plaas in die Tsitsikammadistrik, waar sy ’n bestuurspos in die bosboubedryf gehad het. Die selfsorggastehuis op die plaas Zuuranys, sowat 17 km buite Kareedouw, was tydens die inperking vir die publiek gesluit, maar omdat Stephan en sy pa die eienaar ken en die omliggende grond vir hul boerdery huur, het hy, Jéan en Mari planne gemaak om die naweek saam daar deur te bring.

“Mari was veral opgewonde,” vertel Stephan. “Sy het die plekkie al jare gelede op Facebook gesien en wou al lank gaan.”

Ná Jéan, Mari en hul geliefde rottweiler, Keizer, se aankoms op die plaas op Saterdag 25 April is hulle saam met Stephan rivier toe. “Daar in die waters het Jéan en Keizer gespeel. Ons wou swem, maar dit was te koud. Ons het net op die sandbank gesit en gesels,” vertel hy.

Later is hulle na die kliphuis, waar Jéan die vuur aangesteek het. Saam het hul worsbroodjies gebraai en ure lank gesels. Hulle het planne gemaak om die volgende dag ’n roete van 6 km te gaan stap. Teen 21:30 het Jéan besluit om te gaan stort. Die gastehuis het ’n unieke stort met ’n glasdak waardeur jy die sterrehemel kan sien.

Foto: Verskaf
Die Kouga Kliphuis naby Kareedouw in die Oos-Kaap. Foto: Verskaf

“Ek en Mari het nog so ewe gespot oor Jéan wat altyd so lank stort – al van ons universiteitsdae af. Mari het later besluit sy gaan nie langer wag nie en het ook gaan stort.” Toe Stephan die volgende oggend seweuur wakker word, was die huis doodstil. Hy het weer ingesluimer en teen negeuur opgestaan.

“Jéan, is jy wakker?” het hy geroep. Maar daar was geen antwoord nie. “Ek het in hul kamer ingestap. Die bed was opgemaak, presies soos die vorige middag. Selfs hul tasse het nog byna onaangeraak in die kamer gestaan. Jéan se slaapklere was netjies op sy kopkussing. Hulle het glad nie in die bed geslaap nie. Toe weet ek daar is groot fout.”

Die badkamerdeur was gesluit. Hy het vergeefs geklop. Toe is hy buitentoe en het op die dak geklim. “Die stort se glasdak was toegewasem.”

Stephan het die eienaar van die plaas en gastehuis, Kevin Pretorius, paniekbevange gebel en toestemming gevra om die deur af te breek. In die badkamer het hy op sy twee vriende afgekom waar die dood hulle in die stort oorval het.

Jéan het in die fetusposisie op die stortvloer op sy sy gelê. Mari was in ’n sittende posisie met haar knieë opgetrek teen die muur, haar kop vooroor geknik asof sy slaap.

Foto: Verskaf
Op ’n laaste foto ontspan hulle die middag voor hul dood by die kliphuis. Foto: Verskaf

“Ek het na buite gehardloop. Ek het myself teen die kop geklap en gesê ek droom. Dit kan nie waar wees nie.”

Hy is terug na die badkamer om seker te maak. Hy het aan Jéan se nek gevoel. Dit was yskoud . . .

Toe die Hoon-gesin daardie Sondagoggend wakker word – Sakkie en Maria Hoon in hul huis op Stellenbosch, hul oudste dogter, Michelle Green (34), in haar tuiste op dieselfde dorp en Suné op Setlagole in Noordwes – was dit met ’n gevoel van onrus.

“Ek het ’n slegte droom gehad dat Mari en Jéan aangeval is in die plek waar hulle gebly het,” vertel Suné in ’n video-oproep. “Ek het so gestres daaroor dat ek op ons gesin se WhatsApp-groepie gevra het: ‘Mari, wat maak julle?’ Maar sy het nie geantwoord nie.

Foto: Verskaf
Mari (regs) by haar ouers, Sakkie en Maria, en sussies, Michelle Green (links) en Suné Hoon. Foto: Verskaf

“My ma, weer, het wakker geword en my pa gevra: ‘Was Mari (destyds) by haar matriekafskeid? Ek kan nie onthou wat sy aangehad het nie.’ ”

Vyf minute nadat Michelle geantwoord het dit was iets in ’n perskekleur, het Jéan se pa met die tyding gebel. Die laaste keer dat Suné van haar kleinsus gehoor het, was teen seweuur die aand voor die tragedie.

“Sy het ’n foto gestuur van die vuur wat brand, en net daarna: ‘Ek wens julle was almal hier.’ ” Min het Mari toe geweet dat die familie ’n week later wel almal saam sou wees – in ’n kapel op Jeffreysbaai vir ’n gedenkdiens vir haar en Jéan.

Sy vind troos daarin dat hulle twee steeds bymekaar is, en dat Keizer ook nou by hulle is, sê Suné. Hul rottweiler moes ’n dag ná hul dood van kant gemaak word.

Foto: Verskaf
Mari saam met hul geliefde hond, Keizer. Foto: Verskaf

“Hulle het nie ’n keuse gehad nie. Hy het baie aggressief geword en almal gebyt,” sê sy. “Hulle moes saam gaan. Ek dink nie die ander sou dit oorleef het as net die een moes gaan nie. Hulle sou hulle doodgetreur het; daarom is ek so bly dat Keizer saam hemel toe gegaan het; nou is hulle as gesin weer heel en bymekaar – soos hulle dit ken.”

  • Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig ’n geregtelike ondersoek word na Jéan en Mari se dood gedoen. “Lykskouings is gedoen, maar die presiese oorsaak van hul dood kon nie bepaal word nie. Nog bloedtoetse is gedoen en daar word op die uitslae gewag.”
  • Kevin Pretorius, die eienaar van die Zuuranys-gasteplaas, het in ’n WhatsApp-boodskap op Huisgenoot se navraag soos volg gereageer: “Dit is my eiendom, nie my mense, nie my reëlings nie; ek het geen betrokkenheid daar gehad nie. Ek wag maar tot die ondersoek afgehandel is.”