Appels swaai is sterk aan die toeneem. Ons praat van boks wat ál gewilder raak as oefensoort. Dit is nie meer net tawwe tienies wat mekaar met die vuiste bydam nie, maar talle fiksheidsbewustes, selfs supermodelle, klim nou graag in die kryt.

Ek loer na my gesig in die gim se spieël. Ek is al ’n halfuur aan die gang en my gesig is so rooi soos die stywe verbande onder my bokshand­skoene. 

“Haal jy nog asem?” vra die gespierde instrukteur terwyl hy sy palms omhoog hou. Ek knik en gee nog ’n paar houe – links, regs, links, regs, regterhaakhou. Ek is nog nie gereed om tou op te gooi nie. 

Joe Chinana, eienaar van die Mojo Boxing & Fitness Club in Kaapstad, draai Almari Wessels se hande toe en gee raad voor sy in die kryt klim vir haar eerste boksles. Foto: Corrie Hansen

“Ek kan dit skaars voel – slaan harder!” skree hy. Ek probeer weer. Slaan-slaan, slaan-slaan. 

“Jy raak beter,” skerts hy. My lyf gaan môreoggend seer wees, dink ek terwyl ek op my tone probeer rondwip in ’n wanhopige poging om die flinke voetwerk na te boots van die beroepsboksers wat ek op televisie gesien het. 

Ek sal nie binnekort soos ’n skoen­lapper sweef of soos ’n by steek soos die bokser Muhammad Ali destyds gespog het nie, maar halfpad deur die uitmer­gelende boksles besef ek hoekom so baie modelle in die Mojo Boxing & Fitness Club in Kaapstad saam met my sweet. 

Dit sou onmoontlik wees om ’n uur lank teen hierdie intensiteit te oefen en nie te sien hoe jou lyf sterker en fermer raak nie. Dis maklik om te sien hoekom boks ook vir gewone mense soos ek ’n ál gewilder manier van fiks word raak. 

“Modelagentskappe stuur hul modelle hierheen om saam met ons te oefen, want dit is oefening vir jou hele lyf en ook baie pret,” sê die gimeienaar, Joe Chinana, nadat hy my in my eerste boksklas touwys gemaak het. 

Ek glo hom toe hy my vertel mense is so energiek en opgewek ná ’n bokssessie dat hulle amper altyd terugkom vir nog. 

Ek is stokflou, maar ek het eerlikwaar die hele week nie so goed gevoel soos nou nie. As ’n taamlik fikse mens – ek oefen gewoonlik minstens drie keer per week – het ek myself nog nooit so hard gedruk nie. 

As jy moeg is van die trapmeul in die gim en nie veel resultate sien nie, is dit dalk tyd om handskoene aan te trek en jou oefenroetine woema te gee. 

Dis natuurlik as jy die pak kan vat . . . 

As jy die pak kan vat en die pas kan volhou, kan die tegnieke wat ’n mens in boks­klasse leer jou bemagtig om groter vertroue te hê in jou vermoë om jouself teen aanvallers te verdedig. Foto: Corrie Hansen

ENIGIEMAND KAN LEER BOKS

Enigiemand kan begin boks vir oefening, sê Joe. Sy jongste student is maar vier jaar oud en daar is ook ’n 85-jarige vrou wat sy klasse bywoon – en saam met al die ander 

tou­spring en plank- en hurk­­oefeninge doen, tussen die houe uitdeel en flinke voetwerk deur. 

Sal dit net so doeltreffend wees as jy bokshandskoene en ’n slaansak koop en by die huis oefen?

“Boks is ’n vaardigheid en jy moet die tegniek leer, want jy kan jou werklik seermaak as jy dit nie reg doen nie,” sê Joe, ’n voormalige beroepsbasketbalspeler wat 18 jaar gelede van Angola na Suid-Afrika verhuis het. 

Hy het 10 jaar gelede begin boks en sy boksgim in 2010 geopen. 

“Jy moet weet hoe om te slaan en ’n haakhou te gee, en jy leer meer met elke klas wat jy bywoon.” 

Dis inspirerend om sy leerders met elke les te sien verbeter, sê Joe. “Ek hou daarvan om die klasse aan te bied; dit is my passie en wonderlik om te sien hoe almal groei en vinniger houe na my begin slaan.”

DIE VOORDELE VAN BOKS

Boks is sulke goeie oefening danksy die intensiteit daarvan, sê Warren Bishop, eienaar van die gewilde gim Extreme Fighting Championship (EFC) in Sandton, Gauteng.

“Die meeste van ons kliënte is vroue,” sê hy, en voeg by die om­gewing is bekend en gemaklik, en beslis nie ’n intimiderende een van bloed en gebreekte ribbes nie. 

Baie van sy kliënte het keelvol geraak vir eentonige oefenprogramme en besluit om te begin boks vir ’n verandering. Buiten dat dit krag en kardiorespiratoriese fiksheid ’n hupstoot gee, verbeter boks ’n mens se balans, koördinasie en ratsheid.

“Daar is geen lang ruspouses in ’n boksklas nie – ’n mens oefen ’n uur lank hard en jy sien die resultate. Jy kan tot 4 000 kJ in ’n enkele sessie verbrand.

“Die klasse gee ’n mens ook energie, en as jy pret het terwyl jy oefen, sal jy jou daartoe verbind,” sê Warren. ’n Vrou in haar laat 30’s wat sowat ’n jaar gelede by die EFC-gim begin oefen het, het 45 kg af­geskud, sê hy.

“Vanselfsprekend moet jy ook dophou wat jy eet, maar boks verbeter jou gemoed en ’n positiewe ingesteldheid help met fiksheidsoefening en gewigsverlies.”

Boks is ’n goeie manier om jou maag­spiere sterk en ferm te maak. Dit verg sterk kernspiere omdat jou heupe moet roteer om volle strekking te kry sodat jy ’n kragtiger hou kan plant.

Daarby sal dit vinniger gebeur, want jy verbrand meer kilojoules as wat jy sou terwyl jy op die vloer lê en opsitte doen. 

Volgens Joe het boks die bykomende voordeel vir vroue dat dit hulle bemagtig: “Vroue hou daarvan, want dit is nie net oefening vir jou hele lyf nie; jy leer jouself ook verdedig.”

KLIM IN DIE KRYT

Boksgims skiet landwyd op; kyk aanlyn wat in jou voorstad beskikbaar is. Klasse kos gewoonlik so tussen R120 en R200, maar die meeste boksgims bied maandpakette aan wat op ’n bietjie minder per klas te staan kom. 

Bekendes in die kryt

ROZANNE MCKENZIE, TV-AANBIEDER

Haar afrigter, Grant Myburgh, het haar aan boks bekendgestel en sy hou van die uitwerking wat dit op haar lyf het. “Dit is veral baie goed vir my skouers en arms,” sê sy.

Vir haar bly boks ’n uitdaging en sy sê soos ’n mens sterker en fikser raak, word die kombinasies en slaanhoue moeiliker en moet jy behoorlik kophou.

“Dis baie uitdagend vir liggaam en verstand. Ná elke sessie voel ek so goed – trots op myself dat ek daardeur gekom het, want dis so moeilik. Maar ek geniet elke oomblik. Jy word ook met elke sessie sterker en sien hoe jy vorder.”

Sy het regdeur haar tweede swangerskap geboks, net ’n bietjie minder intens as gewoonlik.

EWAN STRYDOM, TV-AAN­BIEDER EN OMROEPER

Hy is dol oor hoe fiks boks ’n mens kan maak en sê hy voel fantasties ná ’n sessie. “Dit is wonderlik om jou frustrasies op die slaansak uit te haal.”
Ewan probeer minstens twee keer per week boks en doen dit in die gim sowel as by sy huis.

“Boks is fantasties vir liggaam en siel. “Ek het geleer dat ek tot baie meer in staat is as wat ek dink. “Dit is ’n wonderlike sport en ’n mens le “Boks is fantasties vir liggaam en siel.  “Ek het geleer dat ek tot baie meer in staat is as wat ek dink.

“Dit is ’n wonderlike sport en ’n mens leer baie oor deursettingsvermoë, veral die fisieke soort.”er baie oor deursettingsvermoë, veral die fisieke soort.”

Gigi Hadid

A post shared by Gigi Hadid (@gigihadid) on

Die Victoria’s Secret-model skryf haar pragtige figuur aan dié soort oefening toe. “Dis my nuwe obsessie. Die bokskryt is soos my tweede huis in New York. Dis nie net soos gim toe gaan om te oefen nie, want dit raak so vervelig,” het sy aan Us Weekly gesê.

“Dis iets waarmee ek kan beter raak; dis hoekom ek daarvan hou.”