Net meer as ses maande gelede het Suid-Afrika sy nuwe leier in ’n vlaag van “Ramaforie” verwelkom.

Ná die einde van die katastrofiese Jacob Zuma-era is hoë verwagtings van pres. Cyril Ramaphosa gekoester.

Toe dit lyk of ons nuwe staatshoof nie gras onder sy voete laat groei om ongerymdhede uit te wis nie, het mense oor die land heen gedink die toekoms begin blinker lyk.

Die nuwe Nommer Een het gou-gou ’n paar kabinetskuiwe gemaak, oorsee gereis om beleggers terug te lok en onderneem om die korrupsie wat die land tot op die rand van die afgrond gebring het uit te roei.

En dit het gelyk of dit werk. ’n Meningspeiling wat in Mei en Junie deur die marknavorser Ipsos gedoen is, het getoon die meeste Suid-Afrikaners is steeds onder die betowering van ons nuwe leier se beloftes.

Hy het ’n gemiddelde van 7,3 uit 10 behaal vir gewildheid, wat “buitengewoon hoog is in die lig van die onsekerheid in die land en oor die toekoms van die ANC”, het Ipsos in ’n verklaring gesê.

Maar dit beteken nie die president kan snags met ’n geruste gemoed slaap nie – sy eerste ses maande in die amp was allermins maklik.

Die verhoging in BTW, die brandstofprys wat aanhou styg en die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding is grootkopsere. . . Dus is daar heelwat suur saam met die soet.

Hoe vaar ons nuwe leier?

Die politieke ontleder Daniel Silke glo die president se eerste ses maande was eintlik nie juis waffers nie. “Dit was ’n aanslag op die armes,” sê hy met verwysing na die styging in BTW en brandstofheffings.

“Hy moet nou die volgende paar maande tot volgende jaar se verkiesing daarvoor vergoed.”

Maar ses maande is ’n bietjie te gou om te bepaal hoe goed of swak ’n president vaar, sê dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch.

“Suid-Afrika is nog aan die herstel van die Zuma-administrasie; dus is Ramaphosa steeds besig om vure dood te slaan terwyl hy terselfdertyd probeer om sy eie stempel af te druk.”

Die mense in sy binnekring

Enkele dae ná sy inhuldiging as president het Ramaphosa Pravin Gordhan na die kabinet laat terugkeer as minister van openbare werke en Nhlanhla Nene heraangestel as minister van finansies.

Dit was ’n slim skuif om dié finansiële swaargewigte terug te bring, glo Ntsikelelo.

Dit het gehelp om vertroue in die regering te herstel. Dit lyk dalk na ’n fout om die omstrede Bathabile Dlamini, nou minister van vrouesake, en Nomvula Mokonyane, nou minister van kommunikasie, in die kabinet te hou, maar Ramaphosa het nie juis ’n keuse gehad nie, sê Ntsikelelo.

“Hy het nie politieke alleenseggenskap nie – heelparty mense in die ANC het steeds noue bande met Zuma,” verduidelik hy. “As hy van hulle almal ontslae geraak het, sou hy van politieke suiwering beskuldig word.

“Hy moes Dlamini en Mokonyane nie behou het nie, maar ’n mens kan die onderliggende politiek verstaan. Hy het gesê hy sal daaraan werk om die ANC te verenig; hy kan niks doen wat dit laat lyk asof hy eenheid ondergrawe nie.”

’n Man van sy woord?

Ramaphosa het in sy eerste staatsrede baie beloftes gemaak, onder meer oor die instelling van die nasionale minimum loon en die versekering dat die uitbetaling van staatstoelaes nie verder ontwrig sal word nie.

Hy het dadelik aandag gegee aan die Wet op ’n Nasionale Minimum Loon, wat deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is en nou op die president se lessenaar lê en wag om as wet onderteken te word.

Maar die uitbetaling van staatstoelaes, waarvan miljoene mense afhanklik is, bly problematies. Die diens word voortdurend ontwrig.

Ramaphosa het ’n probleemdepartement geërf, sê Ntsikelelo, en hy moet nou dringend voorkeuraandag daaraan gee. “Staatstoelaes is ’n hartsaak vir arm mense, en dis baie belangrik vir kiesers.

Hy kan nie bekostig om hier ’n voet verkeerd te sit nie.” Ramaphosa het in sy staatsrede ook onderneem om die bestuur van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te ondersoek en ’n presidensiële ekonomiese komitee aan te stel.

Dié twee beloftes het hy inderdaad nagekom.

Die ekonomie wat knyp

Die eerste begroting onder Ramaphosa se leierskap het ’n BTW-verhoging van 1% ingesluit, wat die prys van kos en ander noodsaaklikhede laat styg het.

BTW is verhoog “omdat dit nodig was om die groei van ’n inklusiewe ekonomie te bevorder, om hulpbronne te herversprei ten einde in die behoeftes van armes te voorsien en om die volhoubare bestuur van openbare finansies te verseker”, het Ramaphosa op 22 Augustus tydens sy vraag-en-antwoordsessie in die parlement gesê.

Die brandstofprys het boonop die hoogte ingeskiet, en opposisiepartye het gevra dat die brandstofheffing verlaag word sodat dit die druk op die publiek kan verlig.

Ntsikelelo glo die styging in BTW en die brandstofheffing sou in elk geval gebeur het, met of sonder Ramaphosa.

“Nadat Zuma die moontlikheid van gratis hoër opvoeding aangekondig het, moes die geld iewers vandaan kom. En ongelukkig is dié iewers die belastingbetaler se sak,” sê hy.

Of gratis hoër opvoeding ’n werklikheid gaan word, bly nog ’n ope vraag.

Die stryd teen korrupsie

Ramaphosa het belowe hy sal omkopery vasvat, en tot dusver het hy sy woord gestand gedoen, glo ontleders.

Eskom het ’n nuwe direksie, die uitvoerende hoof van Transnet is gevra om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie, en die SAUK-raad het ook positiewe veranderings ondergaan, sê Ntsikelelo.

Maar die grootste aanduiding dat hy teen omkopery wil optree, is die kommissie van ondersoek na staatskaping. Dié kommissie is tans werksaam onder die leiding van regter Raymond Zondo.

“Dit bewys Ramaphosa beskou van die aanbevelings in die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping in ’n ernstige lig,” sê Ntsikelelo.

Maar die staatskapingskommissie hou ’n bedreiging vir die ANC in, meen Silke. “Die kans is goed dat dit kiesers aan die agteruitgang in landsbestuur oor die afgelope dekade herinner.”

Die kommissie doen sy werk gevaarlik naby aan volgende jaar se verkiesing, hoewel Ramaphosa hoop om dit in ’n positiewe boodskap te omskep, sê Silke.

“Om so ’n deursigtige en geloofwaardige proses (soos die kommissie) uit te wys laat die ANC lyk soos ’n party wat bereid is om die foute van die verlede reg te stel.” 

Die gronddebakel

Al Ramaphosa se goeie werk kan on- gedaan gemaak word deur die bespreking oor grondonteiening sonder vergoeding, sê ontleders.

Die kwessie het ’n hewige debat op eie bodem veroorsaak en kry ál meer aandag in die buiteland – veral ná ’n twiet deur pres. Donald Trump van Amerika wat lui: “Ek het die minister van buitelandse sake (Mike Pompeo) gevra om die beslaglegging op grond en plase in Suid-Afrika en die grootskaalse moorde op boere noukeurig te bestudeer.

‘Die regering stuur nie ’n same- hangende boodskap oor grond uit nie’

‘Die Suid-Afrikaanse regering lê nou beslag op die grond van wit boere.’ ” Ramaphosa het ná die Twitter-herrie met die Londense koerant Financial Times oor die kwessie gepraat.

“Die voorstelle sal nie eiendomsreg in die gedrang bring nie, maar verseker dat die regte van alle Suid-Afrikaners, nie net diegene wat op die oomblik grond besit nie, versterk word. “Suid-Afrika het uit ander lande se ervarings geleer wat werk en wat nie. Ons sal nie dieselfde foute begaan nie.”

Op Landbouweekblad en Agri SA se onlangse grondberaad het adjunkpres. David Mabuza in sy toespraak gesê “grondhervorming moenie tot polarisering en die vernietiging van die landbousektor lei nie”. 

Hy het toe aan dié sektor gesê: “Die boodskap van die president aan julle is: Die reën is op pad en hy wil die stof oor die lande sien hang soos julle vir die plantseisoen voorberei.”

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se omstrede twiet oor die herrie rondom grondonteiening in Suid-Afrika. Foto: Twitter

Silke sê elke poging om Suid-Afrika se beeld te verbeter en negatiewe opvattings te verander is noodsaaklik.

“Die Trump-twiet is dalk bombasties en oordrewe, maar moenie dink dis net mense in die Withuis wat soos hy voel nie. Ondernemings, plaaslik en internasionaal, sal in dié konteks twee keer dink voor hulle in die land belê.” Maar die regering stuur nie ’n samehangende boodskap oor grond uit nie, sê Ntsikelelo.

“Dis omdat Ramaphosa nie die politieke mag het om die septer te swaai nie. “Hy sal een ding sê om Suid-Afrikaners oor die proses gerus te stel, maar dan sê Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, weer iets anders.

“Hy het nie sy standpunt duidelik genoeg gestel nie; hy sê dieselfde dinge net oor en oor,” sê Ntsikelelo.

Die gemengde boodskappe oor grondbesit is ’n duidelike teken Ramaphosa geniet nie die volle steun van die ANC-binnekring nie, sê hy.

Hy sal die volgende ses maande moet bontstaan, veral in die lig van die verkiesing wat voorlê. 

Ekstra bronne: Business Day, News24, Fin24, Huffpost