Chantell Calitz (41) en haar verloofde, Marco Venter (49), het op ’n rustige watergeboorte gehoop. Maar hul babaseun, Anden, wat nog nie eens ’n volle maand oud is nie, het ander planne gehad.
“Alles was reg, gereël en beplan om einde November by ons vroedvrou ’n watergeboorte te hê,” vertel Chantell Dinsdag telefonies aan Huisgenoot.
Chantell, wat vir ’n padbystanddiensverskaffer werk, was op 11 November op kantoor in Randburg.
“Daar was nie eens tyd om woonstel toe te gaan nie.”
Sy verduidelik sy en Marco woon agter op die erf in ’n woonstel op dieselfde perseel as haar werkplek.
“Ek het tienuur die oggend gevoel asof ek in kraam gaan. Maar teen eenuur kon ek nie meer nie.”
Chantell het reeds twee kinders, Jean-Pierre (23) en Ricardo (7), uit ’n vorige verhouding.
Oor ma-word op 41 vertel sy: “Ek het nie so besluit nie. Ek’s 41. Dis ’n geskenk van God en ek sal dit nie verruil nie.” Sy vertel haar twee ouer seuns is in staatshospitale gebore.
“Ek was so opgewonde oor die watergeboorte, maar ja, dit het toe nou nie so uitgewerk nie.”
Verrassing
Chantell vertel sy het die vroedvrou gebel. “Sy het gesê dit kan nie wees nie; dis nog te vroeg.”
Anden sou eers oor 18 dae sy opwagting maak. Sy het aanvaar dit is dalk net vals pyne.
“Later kon ek nie meer nie. Ek kon nie meer sit nie. Ek kon net staan. Ek het my baas gevra om Marco te bel en laat weet hy moet kom."
Die baba is in die badkamer gebore. "Toe ek weer sien, toe staan ek met Anden in my hande.”
Anden se naelstring was om sy nekkie gedraai.
“Ja, ek het paniekerig gevoel, maar ek het net kalm gebly en besluit om alles stadig te doen. Ek het hom neergelê en die naelstring liggies losgemaak.”
Sy vertel hoewel alles vinnig gebeur het, het dit soos ure gevoel.
Hulle het die nooddienste ontbied. Die vroedvrou het opdrag gegee om ma en baba warm te hou.
Marco het sy babaseun se geboorte met twee minute misgeloop. Toe hy daar aankom, het sy met Anden in haar arms gestaan.
“Hy was sprakeloos. Hy het net gevra: ‘Baby, is jy oukei?' Hy het nog handdoeke gaan gryp om skoon te maak en is woonstel toe om te gaan pak."
Sy lag.
“Kan jy glo hy het vir my net toppies gepak! Geen shorts, onderklere niks nie! So geskok was hy.”
Chantell is per ambulans na die vroedvrou in Roodepoort aan die Wes-Rand. Hulle het nie ’n mediese fonds gehad om na ’n privaat hospitaal te gaan nie.
“My werkgewer het vir ons die geld geleen om Anden by ’n vroedvrou in die lewe te bring.” Die vroedvrou het hulle met hul aankoms goed versorg. Sy het die naelstring gebind en Marco het dit afgesny.
“Anden was nog bitter klein. Hy het net 2,3 kg met geboorte geweeg. Maar hy is gesond. Daar was geen ander komplikasies nie. Sy klink steeds geskok ná die hele gebeurtenis.
“Dis freaky, hoor! Ek het nog nooit so iets beleef nie. Ek het gedink daar is nog tyd . . .
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
"Maar ek sou dit op geen ander manier wou hê nie.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET