Shelly het haar Woensdag (26 Februarie) tot die Facebook-groep "I lived in Randfontein and survived" gewend om hulp vir haar pa te probeer kry.

In dié inskrywing pleit sy dat iemand haar pa, Eugene Barnard (42), moet help.

“Ons is dringend op soek na werk vir my,” skryf sy.

“Ek vra nie vir geld of donasies nie.”

Eugene, ’n konstruksievoorman, het verlede jaar November laas ’n salaris by sy werk gekry.

Sy sê dit was haar laaste opsie gewees om op Facebook hulp te vra.

“Ek het dit al voorheen gedoen en mense het gedink my pa kan nie behoorlik na Ryan omsien nie of dat ons net geld wil hê, maar dit is regtig nie die geval nie. My pa is eerlik, opreg en hardwerkend en ek wil net die beste vir hom hê.”

Volgens Shelly gaan dit nie goed met die maatskappy waarvoor werk nie en kon sy baas die afgelope paar maande nie sy salaris betaal nie.

“Hy sal so nou en dan R200 of R300 ontvang, maar niemand kan daarop lewe nie. Dit breek my hart om my pa so moedeloos en hulpeloos te sien.”

Shelly se boetie, Ryan, is op die outistiese spektrum en kan op 10-jarige ouderdom nog nie praat nie. Hy dra ook doeke.

“Ek probeer help waar ek kan, maar ek kan nie altyd nie. Ryan het baie duur medikasie wat hy moet gebruik en die doeke is ook baie duur. 

“My pa is ’n hardwerkende man en staan elke oggend nog voor die son skyn op om te gaan werk.

“Hy het gister vir my gesê hy hoop en bid dat hy Vrydag sy salaris gaan kry, maar die kanse is skraal.”

Eugene is ’n enkelpa.

“Hy moet sterk staan vir my boetie en ek dink hy probeer sterk lyk vir my, maar ek kan die hartseer in sy oë sien. Ek kan sien hy wonder waar gaan die geld vandaan kom om na Ryan om te sien.

“Hy is ’n wonderlike en liefdevolle pa.”

Shelly sê haar pa het ’n wonderlike CV en werk al jare in die konstruksiebedryf.

“Ons staan nie bakhand nie. Ek wens net hy kan ’n ander werk kry.”