Luan van Krugersdorp is in Augustus 2017 saam met sy oupa Allen Coleske in ’n gru-ongeluk in Lazarweg in Randfontein dood.

Allen is op slag dood en Luan is later by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Dié skokdood van die energieke jong seuntjie het skaars twee jaar gekom nadat hy ’n soortgelyke ongeluk in Brandvlei oorleef het waartydens sy ma, Jackie, sy sussie, Alandri asook Gunther Bühner, oudhoof aan die Hoër Tegniese Skool Nick Diederichs dood is.

Luan Alberts
Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Luan moes vier maande lank ná die ongeluk in die Netcare-rehabilitasiesentrum in Auckland Park deurbring waar hy van vooraf moes leer loop, praat en eet. 

Daarna is hy na ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes waar hy arbeidsterapie ontvang het. “Hy het voor sy dood so mooi reggekom en hy was op pad om weer by ’n gewone skool aan te sluit toe die ongeluk gebeur,” vertel Janine Hollenbach, Luan se stiefma. 

En nou ná ’n uitmergelende twee jaar waar die familie ’n privaat speurder aangestel het en die hof verskeie ooggetuies geroep het, is die persoon wat verantwoordelik was vir die ongeluk eindelik skuldig bevind. 

Cornelius Henrik du Plooy (38) is in die streekshof in Randburg skuldig bevind op dubbele strafbare manslag op die dood van Luan en sy oupa. Daar is bevind dat Cornelius nalatig bestuur en die spoedgrens oorskry het.

Ongeluk
Cornelius du Plooy in die beskuldigde bank. Foto: Verskaf

Hy het beheer oor sy motor verloor en in die aankomende verkeer met Luan en sy oupa se bakkie gebots.

“Vir die afgelope twee jaar het ek hom in die hof van aangesig tot aangesig gesien en hy het nie een keer vir ons kom jammer sê nie,” sê Janine. 

“Eers toe hy skuldig bevind is, het hy ons genader en jammer gesê.” Volgens haar het Luan se pa, Deon, lank na sy seun se dood gesukkel om tot verhaal te kom. 

“Hy was twee keer ingeboek in ’n inrigting en moes op antidepressante, slaappille en kalmeerpille vir angs gaan. Ek dink nie ons sal ooit oor Luan se dood kom nie.” 

Janine sê hulle is verlig dat hulle eindelik antwoorde het en dat iemand aan die pen gaan ry. 

“Dit was ons doelwit om antwoorde te kry en Luan se lewe te eer.” 

Die vonnisoplegging vind 1 Augustus in die streekshof in Randfontein plaas.