Jo Anne van der Mescht (14 maande) het gister in 'n swembad geval

Betsy Els, ’n familielid, het aan Huisgenoot gesê iemand het die swembadhekkie oop vergeet. “Haar ma, Lisa Erasmus, het toilet toe gegaan en toe besef Jo Anne is nie by haar nie. Sy het onmiddellik swembad toe gehardloop en Jo Anne het op haar sy in die water gedryf. Sy het nie asemgehaal nie,” sê sy.

Jo Anne se pa, Jhon, het noodhulp op haar toegepas. “Daar was ook ‘n dokter in die kompleks wat kom help het tot die ambulans opgedaag het en hulle kon toe ’n pols kry,” vertel Betsy.

Jo Anne is na ’n privaat hospitaal gebring, maar omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie, is sy na die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg oorgeplaas.

“Sy is nou in die waakeenheid en op ’n ventilator. Sy is ook onder verdowing geplaas, maar as die pediater haar voet kielie, reageer sy. Sy haal ook nou en dan self asem,” sê Betsy. Haar ma is by haar in die hospitaal en kan elke drie uur by haar inloer.

Die gesin vra gebede. “Daar was water in haar magie en longe en sy het diarree, maar ons bid dat sy van die ventilator af sal wees volgende keer as ons met julle praat," sê Betsy. 

Jo Anne van der Mescht is op 'n ventilator na sy byna verdrink het