Sy was net 13 in November 1977 toe die moorde op haar ouers die land geruk het.

Vir Suid-Afrika was dit een van die opspraakwekkendste moordsake in sy geskiedenis; vir haar was dit die traumatiesste gebeurtenis van haar lewe.

Baie mense het dekades lank bly wonder: Wie het dr. Robert Smit en sy vrou, Jeanne-­Cora, vermoor – en hoekom?

Maar vir haar was dit nie net nog ’n raaiselmoord nie, want oornag was Liza Smit ’n kind sonder ’n ma en pa.

“Vir almal anders was hulle ryk en invloedryk; vir my was hulle net ma en pa,” vertel Liza (nou 54), wat vir die eerste keer haar lewensverhaal in ’n nuwe boek, Ek Is Liza Smit, deel.

Meer as 40 jaar ná die dubbele moord onthou sy nog hoe die skielike doodstyding vir haar daardie dag geen sin gemaak het nie.

Liza se boek is deur ’n vriendin, Raquel Lewis, geskryf. Dit verskyn in Junie. Dit gaan opslae maak, voorspel Liza. Foto: Leisure Books.

Woorde teen die muur

Haar pa en ma is op 22 November 1977 in hul huurhuis in Springs wreed vermoor kort voor die nasionale verkiesing waarin Robert (toe 42) ’n NP-kandidaat sou wees.

Hy het drie skietwonde gehad en ook steekwonde in die rug. Jeanne-­Cora (toe 41) is vier keer geskiet en 14 keer met ’n dolk gesteek.

Teen die kombuismuur en yskas op die moordtoneel het die aanvallers in rooi die woorde gespuitverf wat niemand sedertdien kon ontsyfer nie: “RAU TEM.”

Die woorde “RAU TEM” is met spuitverf teen die kombuismuur van die moordhuis in Springs geskryf. Wat die woorde beteken, is steeds ’n raaisel.

Liza was die oggend van 23 November by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria toe sy uit die st. 6-klas na die hoof se kantoor geroep word. Daar het haar neef Eben Vermaas, toe in sy vroeë 20’s, vir haar gewag om die tyding oor te dra: Albei haar ouers is dood.

Binne ’n oomblik het haar hele onskuldige kinderwêreld in duie gestort.

Selfs toe Liza saam met haar neef van die skool wegry en sy oor die motorradio die nuus oor die gru-moorde op haar ouers hoor, kon sy dit steeds nie glo nie.

Terug by haar ouerhuis in Pretoria, waar sy en haar broer, Robert (toe 15), agtergebly het terwyl hul ouers met die verkiesingsveldtog in Springs besig was, het sy haar pa se kantoor gebel en gevra om met hom te praat.

“Die vrou het gesê ek moet aanhou. Ek het gedog dis een groot fout,” onthou sy.

“My pa leef – sy laat my dan nou aanhou om met hom te praat . . .

“Toe antwoord ’n man en vra wie ek is. Hy het gevloek en (vir iemand) gesê: ‘Dis sy kinders.’ Toe weet ek.”

Maar wat Liza vandag nog nie weet nie, is wie vir haar ouers se dood verantwoordelik is.

Intimidasie, dreigemente en miljoene rande

Die tergende moordraaisel is nooit opgelos nie. Terwyl die Smit-moorde mettertyd vir baie Suid-Afrikaners in die vergetelheid verdwyn het, het dit deur die jare by Liza bly spook.

As volwassene het sy self na haar ouers se moordenaars begin soek.

“Dit het my na baie donker plekke geneem,” sê Liza, wie se pad tydens haar ondersoek met twyfelagtige karakters gekruis het.

Liza Smit (54) sê sy sal nooit ten volle vrede vind ná die moorde op haar ouers 40 jaar gelede nie. Sy vertel haar verhaal in ’n boek wat binnekort op die rakke is.

Sy is met die dood gedreig, geïntimideer en selfs miljoene aangebied om haar soeke na die waarheid te laat vaar, beweer sy. Twee huwelike het in die slag gebly en familiebande het verbrokkel, maar steeds wil sy weet: “Wie het daai bevel gegee?”

Deur die jare is gegis dat dit ’n politieke moord was, dat Robert en Jeanne-Cora dalk oor plofbare inligting beskik het en hul monde daarom gesnoer is. As dit die geval was, het hulle daardie geheime saam met hulle na hul graf geneem.

Al is die baasbrein agter haar ouers se moorde moontlik reeds dood, wil Liza steeds weet wie haar sagmoedige ma en liefdevolle pa so wreed van haar weg­geneem het.

Haar lewensverhaal is nou in haar nuwe boek deur ’n vriendin, Raquel Lewis, geskryf. Dit verskyn in Junie. Dit gaan opslae maak, voorspel Liza.

“Die boek is my waarheid; hoe ek dit as 13-jarige beleef het en wat daarna sou volg.”

'Ons lewe was normaal'

In haar hare slaan die grys plek-plek deur. Die jare se swaarkry het hul merk op Liza, vandag ’n ma en ouma, se gesig gelaat.

“Ons lewe was normaal,” onthou sy haar kinderjare waar ons in ’n bedrywige restaurant in Pretoria gesels.

“Pik Botha (die destydse minister van buitelandse sake) was vir my ‘oom Pik’.

"Ons was huisvriende met van die politici, maar ná my ouers se dood het ek nooit weer van hulle (die politici) gehoor nie.”

Haar pa was van 1971 tot 1975 Suid-Afrika se ambassadeur by die Internasio­nale Monetêre Fonds in Amerika, en Liza het toe saam met haar ouers in Washington, D.C., gewoon.

Ná hul terugkeer was Robert direkteur van die  maatskappy Santam Internasionaal.

Toe hy in die verkiesing in 1977 vir die NP in Springs staan, is binne die party verwag hy sou in ’n hoë regeringspos aangestel word, moontlik as minister van finansies, sou Liza later hoor.

Terwyl hul ouers tydens die verkie­singsveldtog in Springs weekdae daar in ’n huurhuis gebly het, het Liza en Robert by die gesin se huis in Pretoria agtergebly.

Hul neef Eben en sy vrou, Renate, het by hulle kom bly om ’n oog oor hulle te hou.

Die laaste keer

“Wanneer ek nou terugdink, besef ek my ouers het in die dae voor hul moord geweet alles is nie pluis nie,” vertel Liza.

“Hulle het die naweek voor hul dood buite in die tuin gaan praat. My ma het op die dag van die moorde die oggend by my tannie aangekom en ’n whisky gevra.”

Jeanne-Cora was duidelik ontsteld, maar het vir haar suster Joyce Minnaar gesê sy kan nie daaroor praat nie. Haar pa het ook nie die Sondag voor sy dood soos ander oggende gaan draf nie, onthou Liza.

Die laaste dag dat sy haar ouers lewend gesien het, was daardie Sondag, 20 November.

Robert en Jeanne-­Cora Smit, Liza se pa en ma wat in 1977 vermoor is toe Liza 13 was.

“My ma het my hare geborsel en gesê as ek ooit so ’n warm gevoel in my nek kry, moet ek weet dis sy.”

Tog het Liza toe geen onraad vermoed nie.

“Ek’t nooit onveilig gevoel of gevoel ek moet bang wees nie. Ek’t wel geweet my pa vrees vir Pik Botha se lewe, maar niks anders nie.”

Sy het haar pa so iets hoor sê, maar waarom weet sy nie.

Hoe doen jy dit aan kinders?

Toe breek die swart dag, Dinsdag 22 November 1977, aan toe albei haar ouers vermoor is.

Haar pa is skynbaar die aand agtuur by hul huurhuis in Springs geskiet met sy aankoms daar; haar ma is ’n uur vroeër vermoor. Wat die raaisel verder laat verdiep, is dat hulle met verskillende wapens geskiet is.

Hul motorbestuurder het die volgende oggend op hul liggame afgekom.

Die dae daarna is ’n waas in Liza se geheue, maar sy onthou die polisie het haar na die moordhuis geneem as deel van hul ondersoek na vingerafdrukke.

Die moordtoneel in Springs, waar Robert en Jeanne-Cora gewoon het voor die verkiesing van 1977. Robert was die NP-kandidaat in Springs en was geoormerk vir ’n hoë posisie in die regering.

“By die voordeur was sulke dik rooi goed wat soos jellie gelyk het. Aan my is gesê dis waar my pa geval het. As ek nou daaraan terugdink . . . Hoe doen jy dit aan kinders?”

Eers met haar ouers se begrafnis het sy besef hoe belangrik hulle was en in watter hoë kringe hulle beweeg het.

“Daar was skerpskutters op die kerk se dak. Die kerk was so vol, party mense moes buite staan.

"John Vorster (die destydse premier) het agter ons in die kerk gesit.”

Sy onthou niemand het met haar oor haar ouers se dood gepraat nie.

“Niemand het my gevra hoe ek voel nie. Dit was moeilik, want my ouers het altyd so met my gekommunikeer.

"Ek dink almal was hartseer en geskok, maar dit was in ’n mate ook ’n kwessie van ‘kinders moet gesien maar nie gehoor word nie’.”

 
Grootwordjare

Liza en Robert het daarna by haar pa se broer in die Vrystaat op ’n plaas gaan woon.

“Ek was ’n mislike tiener en moeilik, maar ek het totaal verlore gevoel,” sê sy.

Die plaaslewe was vir haar ’n groot aanpassing. Op 18 is sy met Shorty Grundlingh getroud om van “die platteland” weg te kom.

Hulle het in Pretoria gaan woon en sy het ma geword van twee kinders, Trudie (nou 34) en Gerrie (nou 29).

Meer as ’n dekade lank het Liza die onopgeloste moorde op haar ouers na haar agterkop verban.

Maar met die eerste demokratiese verkiesing en die bewindsverandering in 1994 het sy besluit om self ondersoek te begin doen.

“Die polisie het geen vordering gemaak nie en dit was asof hulle gehoop het dit sou net verdwyn,” sê sy.

Twee jaar lank het sy en ’n vriendin, die joernalis Alet van Rensburg, inligting ingesamel.

Toe begin die dreigemente

“Ons het met die mense in die polisie se taakmag gaan praat. Ons was by gevaarlike plekke in om te probeer uitvind.”

Liza was vasbeslote om ’n voorlegging aan die Waarheid-en-versoenings­kommissie (WVK) te doen in die hoop dat dit die onder­soek sou aanhelp. Toe begin die dreigemente, beweer sy.

“Mense het my gekontak en gesê ek moet ophou, want die saak is groter as wat ek dink. Iemand het my gebel en gevra of ons weer begrafnis wil hou en ook my kinders gedreig.”

Hulle was toe 13 en sewe jaar oud.

Haar motor is twee keer met krapmerke beskadig.

“Iemand het een keer ‘Pasop, die ys raak dun’ op my kar gekrap en ’n ander keer ‘You’re f*****’,” sê sy.

’n Man, wat sy net Mnr. X in die boek noem, het haar en Alet R6 miljoen aangebied as hulle die voorlegging voor die WVK sou laat vaar, beweer Liza. Hy het ook gesê sy besef nie hoe groot dié storie is nie, vertel sy.

“Maar ek het op adrenalien geleef. Elke brokkie nuwe inligting het dit aangevuur.”

Een spesifieke dag bly haar by.

“Ek het nog inligting by die prokureur-generaal probeer kry. Ek het gevra hoe hulle weet my ma is met ’n dolk gesteek. Hy het ’n dossier uit sy boek­rak gehaal; dit was my ouers se moorddossier.”

Die foto’s van haar ouers se bebloede lyke en die patoloog se verslag spook steeds by haar, maar nie eens dit kon haar van haar speurtog afskrik nie.

Kort voor sy haar voorlegging aan die WVK sou maak, het die kommissie volgens haar ’n lyfwag vir haar gehuur. Daar is vir haar lewe gevrees nadat die telefoonlyn in haar en Shorty se huis geknip is.

Sy en haar kinders is ná haar voorlegging in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas en na Port Elizabeth geneem.

Ná ’n week daar wou Liza teruggaan Pretoria toe. Sy het besluit om haar soektog na haar ouers se moordenaar te laat vaar.

“Ek het besef dis nou genoeg – ek stel my kinders se lewe in gevaar.”

Terwyl haar obsessie om haar ouers se moordenaars op te spoor haar lewe oorheers het, het haar eerste huwelik in die slag gebly.

“Ek dink ek het in daardie tyd grootgeword,” sê sy.

'n Tweede huwelik en familie

Ná ’n huwelik van 18 jaar is sy geskei. Kort daarna is sy weer getroud en het sy saam met haar tweede man na Mbo­mbela, Mpumalanga, getrek.

Sy sê sy het tydens dié huwelik in ’n depressie verval.

“Daai jare was ek baie ongelukkig. Ek het beplan hoe ek my lewe sou neem. Presies hoeveel pille dit sou vat . . .”

Eers nadat sy in ’n psigiatriese inrigting vir depressie behandel is, kon sy haar lewe regruk en ná 11 jaar van haar tweede man skei.

Nog ’n groot slag vir haar was toe haar seun op 19 in ’n ernstige motorfiets­ongeluk was.

“Daar was ’n skeur in sy hart. Die dokter het vir my gesê hy het ’n 2%-kans om te oorleef en ek moet hom groet.

“Hy het dit oorleef, maar moes ’n ­rugoperasie ondergaan. Vandag is hy verlam. Sy ongeluk was vir my trau­matieser as my ouers se dood.”

Liza woon nou by haar verlamde seun, Gerrie, in Pretoria, maar vertel trots hy is ondanks sy gestremdheid volkome onafhanklik.

“Ek neem net die groot asblik uit,” sê sy.

Hy werk by ’n maatskappy wat plate en skroewe maak wat vir rugoperasies gebruik word. Liza werk as trustadminis­trateur vir die familietrust.

Haar dogter, Trudie, woon ook in Pretoria, en Liza is die trotse ouma van ’n kleindogter, Jadine Engelbrecht (13).

“My familie gee my vreugde,” sê sy.

Liza sê sy is op haar gelukkigste by haar familie. Agter is haar kleindogter, ­Jadine Engelbrecht, en skoonseun, ­Jacques Engelbrecht. Langs Liza sit haar seun, Gerrie, en voor is haar dogter, Trudie Engelbrecht.

Glo sy haar ouers se dood het haar gevorm?

“Ja, sonder twyfel. Ek het geleer om maskers te dra; nie te wys hoe seer ek het nie. Om hardegat te wees. Om met niemand te praat nie,” sê sy en steek nog ’n sigaret aan.

“Ons het nie ’n berader gesien nie. Dit was sink of swem.”

Sy het ’n vermoede wat agter die moord op haar ouers steek.

“Ek dink dit kan ’n paar goed wees.”

Sy noem bewerings dat politici bedrog gepleeg het, dat haar pa besig was om ’n vervalste eis van miljoene te ondersoek en die feit dat hy dalk geoormerk was vir ’n hoë posisie waarin hy verdoemende inligting sou kon bekendmaak.

Sy glo haar ouers se moordenaars het iemand se opdrag uitgevoer en wil vandag net by hulle weet: Wie het die opdrag gegee?

Die een wat haar ouers genadeloos ter dood veroordeel het, laat steeds die woede in haar opwel.

Ek mis tot vandag toe nog my ouers, veral my ma. Sy sou in die verbygaan my druk en soen.

“Ek sou vir daai ou wou sê hy’t my ’n groot onreg aangedoen. Hy’t die res van my lewe beïnvloed omdat hy selfsugtig was.”

Sy onthou nog hoe liefdevol haar ouers altyd was, hoe spontaan liefdesgebare in haar ouerhuis was.

“Ek mis tot vandag toe nog my ouers, veral my ma. Sy sou in die verbygaan my druk en soen.

“Ek het saam met my ouers na konserte van klassieke musiek en opera gegaan. My ma het altyd vir my so mooi die storielyn verduidelik. Sy het dit misgeloop om ouma te word. Sy het soveel misgeloop . . .”

Terwyl ’n tragedie soos dié party ­families hegter saamsnoer, het dit hare later versplinter. Van hul familielede het bloot van haar en haar broer vergeet, sê Liza.

“Ons het omtrent nie weer van hulle gehoor nie.”

Ook sy en Robert jr. het uitmekaargedryf.

Ek het besef dis oukei dat ek nooit oukei gaan wees oor die moorde op my ouers nie.

“Daar’s geen kwade gevoelens nie, maar ek dink ons is net te anders. Hy het die seer stil-stil verwerk en ek wou veg.” Verder wil sy nie oor hom uitwei nie.

Hoop sy die verskyning van haar boek sal die moord­raaisel help oplos?

“Ek glo dit sal nie. Dit was meer vir my eie geestelike genesing en om ’n nalaten­skap vir my kinders te los.”

Tog hoop sy dit kan ’n paar drade laat ontknoop.

“Daar is nog mense wat vandag leef wat weet wat daar gebeur het.”

Noudat sy eindelik haar verhaal vertel het, het dit haar gehelp om vrede te vind, sê Liza.

“Ek het besef dis oukei dat ek nooit oukei gaan wees oor die moorde op my ouers nie.”

FOTO'S: SHARON SERETLO, GALLO IMAGES/BEELD-ARGIEF, VERSKAF