Shane Jordaan
Shane Jordaan word al sedert 4 Junie vermis. Foto: Verskaf

Die geliefdes van ’n verstandelik gestremde man sê hulle is gek van bekommernis nadat hy byna drie weke gelede spoorloos vanuit ’n huis vir gestremdes net buite Rayton in Gauteng verdwyn het. 

Groot kommer heers steeds oor die presiese omstandighede waaronder Shane Jordaan op 4 Julie vanuit die Kairos-huis verdwyn het, sê sy suster, Christan Jordaan.

Shane word al 11 jaar lank heeltyds by dié tehuis versorg. 

“Ons is hartgebroke. Die ergste is die gedagte dat hy alleen en onseker êrens in die koue ronddwaal,” sê ’n bekommerde Christan Maandag aan Huisgenoot. “Hy is nes ’n vyfjarige kind – dit is dus hoogs onwaarskynlik dat hy sal weet waar hy is. Dit maak ons mal van kommer.”

’n Grootskaalse soektog na Shane is verlede week deur gemeenskapspolisiëringsforums, gemeenskapslede en die polisie van stapel gestuur, maar vergeefs. Selfs die polisie se soek- en reddingseenheid het kom help met die soektog. ’n Daglange soektog na Shane het geen vrugte afgewerp nie.

“’n Mens probeer jouself keer om aan die ergste te dink, maar hoe kan jy? Dis koud en hy is alleen . . . Ons móét hom eenvoudig net vind,” sê Christan.

Shane Jordaan
Een van die vele pamflette wat ná Shane se verdwyning in die Cullinan-omgewing versprei is. Foto: Verskaf

Niemand kon nog antwoorde bied oor hoe Shane van agter die omheining van die tehuis met sy geslote hekke verdwyn het nie, sê sy.

“Ons het al pamflette reg oor die dorp versprei, maar nog geen sukses gehad nie. Daar is ook geen leidrade nie. Dit maak vir ons eenvoudig net nie sin hoe iemand net so kan verdwyn nie.” 

Shane se verdwyning het intussen nog chaos by die Kairos-sentrum veroorsaak. 

Sondag het Bronwynn Engelbrecht, die DA se Gautengse woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, na dié sentrum gekap nadat bewerings oor wanbestuur die lig gesien het.

Engelbrecht het in ’n verklaring gesê pasiënte word verwaarloos, daar is swak toesighouding oor die gebruik van medikasie en dat die kamers in ’n vuil en gehawende toestand is. Sy het ook beweer die sentrum is verder ’n gesondheidsrisiko weens die lek van rioolpype.

“Hierdie haglike lewensomstandighede het aan die lig gekom nadat een van die geestesgestremde pasiënte, Shane Jordaan, vroeër vandeesmaand vermis geraak het,” lui die verklaring. 

Dit lui voorts: “Volgens die ma van die vermiste pasiënt het die sentrum nooit die moeite gedoen om haar in kennis te stel dat haar seun vermis geraak het nie. Sy het dus eers vyf dae later van die verdwyning van haar seun by die polisie verneem.”

Sy het die beweerde omstandighede van die sentrum vergelyk aan die Life Esidimeni-tragedie – ’n treurspel waarin 144 psigiatriese en verstandelik gestremde staatspasiënte dood is weens nalatigheid.

Die DA het geëis dat die Gautengse departement van gesondheid ’n ondersoek na die beweerde omstandighede by die sentrum van stapel stuur.

Kwara Kekana, ’n woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het dít aan Huisgenoot bevestig. 

“Ons dra kennis van die bewerings en gaan ’n dringende ondersoek van stapel stuur. Meer inligting is nie in hierdie stadium bekend nie,” sê sy.

Maar dis alles net ’n smeerveldtog, beweer Susan van Niekerk, die stigter en bedryfshoof van Kairos. “Die bewerings is loutere bog en ’n poging om my naam deur die modder te sleep,” sê sy. 

Sy sê Kairos is ’n nieregeringsorganisasie wat ingevolge die Wet op Geestesgesondheid (2002) gelisensieer is, en die departement doen gereelde inspeksie by die sentrum. 

“Shane is al 11 jaar lank hier – hy is nes ’n kind vir my. En soos ’n ma doen, kyk ons na ons kinders. Ek weet ook nie presies hoe dit gebeur het nie, maar ek is ewe hartgebroke oor sy verdwyning en hoop dat ons hom gou sal vind. Maar dat ons pasiënte verwaarloos word, is onsin – ek het 43 werknemers wat elkeen daarvoor sal getuig.”

Susan beweer voorts sy hét met die Jordaans probeer kontak maak direk nadat sy bewus geword het van Shane se verdwyning, maar dat sy hulle nie in die hande kon kry nie. 

“Ons is juis daarom na die polisie toe waar ons Shane se familie se kontakbesonderhede oorhandig het – en dis toe dat die polisie met hulle kontak gemaak het. Ons doen ’n eerbare werk waarvoor min mense kans sien en dis onregverdig om die reputasie van die sentrum in gedrang te bring weens ongegronde bewerings.”

Vir húlle, sê Shane se familie, bly net een ding nou belangrik: Dat hy veilig huis toe sal kom. “Daar is baie dinge wat oor en weer gesê word,” sê Christan. “Maar vir nou bly dit vir ons belangrik om al ons tyd en energie daaraan te bestee om Shane op te spoor.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe