’n Paar dae vantevore was dit reeds duidelik vir sy ma, Lydia, dat Reef se toestand desperaat versleg het.

“Hy knip nog sy oë, hy reageer steeds. Hy wil nog veg,” het sy Woensdag in ’n roerende video met Reef se ondersteuners gedeel.

Sy ouers het enkele ure voor sy dood op Facebook aangekondig hulle het besluit om “hom te laat gaan.”

“Hy lyk nie goed vandag nie. Sy oë is opgeswel en hy het ’n moontlike ooginfeksie. Vandag was bittersoet omdat ons probeer opgewek wees vir ons dogters en ons het hulle vir ’n rukkie uitgeneem, maar Ryan en ek kon nie ontslae raak van die loodswaar gevoel in ons harte nie.

“Ons gesinnetjie is gebroke,” het sy ma, Lydia, op Facebook geskryf. Twee ure later moes hulle finaal afskeid neem van hulle lieflingseun.

Huisgenoot het oor die jare oor Reef se gesondheidstryd berig en Reef se ouers het harte aangeraak met die deel van sy dapper stryd in die sosiale media.

Een van sy ondersteuners Michelle Brandao Attti het op Facebook hulde gebring aan Reef: “Hy het altyd geglimlag, selfs wanneer dit regtig sleg gegaan het. Hy is voorwaar ’n engel wat op julle afkyk.”

Baba Reef

In 2010 het die wêreld die eerste keer van “Baba Reef” van Johannesburg en sy stryd teen leukemie gehoor.  Op 11 maande oud was hy die jongste ontvanger ooit van ’n beenmurgoorplanting in Suid-Afrika.

Boonop is ’n toestand wat sy immuniteit en organe aangetas het - transplantaatversus-gasheer-siekte (TVGS) - kort daarna ook by hom gediagnoseer.

In 2011 het die gesin na Los Angeles verhuis vir beter mediese behandeling en vroeër vanjaar het hy saam met sy gesin vanaf Amerika na Newcastle upon Tyne in Engeland getrek in die hoop dat hy daar selfs beter sorg sou kon ontvang.

Lydia het op 28 April in ’n emosionele aanlyn-video vertel dat Reef besig is om sy stryd te verloor.

En in Mei het sy in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel van die gesin se gebrokenheid oor Reef se swak gesondheid.

Sy sussies Payten (10) en Kenzi (5) moes elkeen op hul eie manier die naderende verlies van hul geliefde ouboet verwerk.

Volgens Lydia was Payten verpletter toe sy die nuus hoor; sy en Reef was baie na aan mekaar. En Kenzi het hartseer gesê hulle gesin is nou nie meer “heel” nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe