Die Carneson-gesin. Foto: Facebook/Rock it for Ree
Die Carneson-gesin. Van links is Lydia, Kenzi, Reef, Payten en Ryan Foto: Facebook/Rock it for Reef

Ons familie is verpletter, sê Lydia Carneson ná haar geliefde seun, Reef (12), Vrydagaand om 20:00 tragies sy jarelange stryd teen kanker verloor het.

“Die dokters het vir ons gesê Reef het net weke oor om te lewe, maar hulle het vir hom ’n eksperimentele middel gegee wat nog nooit tevore op kinders gebruik is nie en ons het groot hoop gehad dat dit hom sal gesond maak en dat hy kankervry sal wees. 

“Dis is baie moeilik om hom so vinnig te verloor terwyl dit gelyk het of dit goed gaan. Hy was veronderstel om huis toe te kom vir die naweek, maar het op ’n ventilator in die hoësorgeenheid beland.” 

Weke voor sy dood

Toe Lydia en haar man, Ryan, aanvanklik in April hoor hul geliefde Reef het geen opsies oor nie en slegs ’n paar weke oor om te lewe, het hulle planne gemaak om hom vreedsaam by die huis te laat gaan, vertel Lydia. Maar toe kom dokters na hulle toe met hierdie eksperimentele middel en hy is weer in die hospitaal opgeneem vir behandeling. 

Dit het vir twee weke gewerk en die groeisels in sy longe het opgehou om vog te produseer; Reef het beter geword. 

“Ons was ongelooflik hoopvol,” sê Lydia. “Solank hy nie newe-effekte van die middel kry nie, het ons geglo dit gaan hom gesond maak.”

Ná drie weke het hy sy gebruiklike dosis immunoglobien gekry om sy immuunstelsel ’n hupstoot te gee. Ongelukkig was dit die katalisator vir ’n inflammatoriese reaksie in sy longe wat sy longfunksie laat ingee het en hy is na die hoësorgeenheid gejaag en op ’n ventilator gesit. 

Lydia sê die dokters het alles probeer om hom te red, maar sy longe was te veel beskadig en die drie weke wat hy in die hoësorgeenheid deurgebring het het die kanker toegelaat om weer te groei. 

“Dit het ’n punt bereik waar ons die ventilator moes afskakel en hom laat gaan,” voeg sy hartseer by.

Die Carneson-gesin (oorspronklik van Johannesburg) woon in die dorpie Newcastle-upon-Thyne in Engeland – waarheen hulle in Februarie vanjaar verhuis het in hul soveelste skuif om hul kind se lewe te probeer red.

Reef het vir die grootste deel van sy lewe in die
Reef het vir die grootste deel van sy lewe in die hospitaal deurgebring. Foto: Facebook

Die groot groet

“Hy was onder sterk verdowing en het rustig in my en Ryan se arms gegaan. Sy suster Payten is die oggend in die hoësorgeenheid toegelaat om hom ’n laaste keer te sien en daardie aand is hy dood.”

Lydia sê haar skoonma, Charmeon Carneson, was in die hoësorgeenheid toegelaat om hom ’n paar dae voor sy dood te groet. Haar ouers, Jim en Carol Warren, het al die pad uit Suid-Afrika gekom en kon hom twee keer sien voor hulle moes terugkeer. 

“Die hospitaalpersoneel was ongelooflik goedhartig en het respek betoon teenoor ons om seker te maak sy heengaan was pynloos en vreedsaam. Hulle het my toegelaat om hom lekker te bad, pajamas aan te trek en het al die masjiene en pype weggevat. 

“Hulle het hom in ons arms laat lê sodat ons hom kon vashou tot hy sy laaste asem uitblaas.”

Reef was in ’n geïnduseerde koma en daarom het hy geen vrees of kennis van sy dood gehad nie, sê Lydia. “Ons was baie verlig dat ons hom dit kon spaar. 

“Hy het vir twaalf jaar lank baklei en ons het geweet sy liggaam het genoeg gehad en dat hy by Jesus en sy geliefde oupa Doh Doh in die hemel wil wees.”

“Doh Doh” is Don, Reef se oupa aan sy pa se kant, wat verlede jaar weens velkanker oorlede is. 

Reef is tans by die huis en dit is sy ouers se gro
Reef toe hy by die huis was saam met sy ouers. Foto: Verskaf

Baklei tot die einde

Lydia sê in hulle laaste gesprekke met Reef het hulle vir hom oor die hemel vertel en hoe wonderlik dit gaan wees om by Doh Doh en Jesus te wees waar hy gelukkig, gesond en sonder pyn sal wees. 

“Toe ons vir hom sê hy kan kies tussen hemel toe gaan of om die eksperimentele middel te gebruik het hy gesê hy is nog nie heeltemal reg om Doh Doh te sien nie en dat hy die medisyne sal gebruik en baklei. 

“Hy wou nie doodgaan nie, maar aan die einde van die dag was dit God se wil dat sy liggaam moet rus.”

Lydia sê hulle het nog nie ’n amptelike oorsaak vir sy dood nie, maar hulle glo dit was die kanker in sy longe wat te veel vir sy liggaam geraak het. 

Die dae ná sy dood

Twee dae ná sy dood het die gesin besluit om saam na Bamburg-strand in die Noord-Ooste van Engeland te gaan, omdat Reef so lief was vir die strand. 

“Reef se dood is vir ons hele familie ’n verwoestende slag. Ons is almal gebroke en ons weet nie regtig hoe om sonder hom met ons lewe aan te gaan nie. Ons wou vir die dogters ’n dag vol pret gee ná al die hartseer en trane. Dit was lekker, maar moeilik om te glimlag en gelukkig te wees wanneer jou hart gebreek is.”   

Lydia sê beide Reef se sussies, Payten (10) en Kenzi (5), is albei ongelooflik hartseer.

Klein Reef Carneson saam met sy ouers, Lydia en Ry
Klein Reef Carneson saam met sy ouers, Lydia en Ryan en sy susters, Payten en Kenzi, in ’n speelgoedwinkel. Foto: Verskaf

“Kenzi is net vyf en het hom in omtrent ’n maand glad nie gesien nie. Sy het gehuil en gevra: ‘Wat as ek hom vergeet? Ek wil nie my Reefie vergeet nie.’  

“Payten en Reef was soos ’n tweeling. Hulle het alles saam gedoen, so sy het haar beste vriend verloor. Sy is baie stil. Dit was baie moeilik vir haar om hom in die hoësorgeenheid te sien, maar sy is ’n baie sterk meisie.”

Lydia sê hulle geloof en liefde van familie en duisende vreemdelinge regoor die wêreld is wat hulle aan die gang hou. 

“Dit sal ’n belediging teenoor Reef se nalatenskap en taai vegtersgees wees om op te gee en nie ten volle te lewe nie, maar dit is swaar om dit met ’n gebroke hart te doen.”

Begrafnis

Hulle sal Reef veras en sy as strooi saam met Don in Mauritius. “Ons wil hê hulle moet altwee naby aan die oseaan wees en vir altyd in die son lewe. Mauritius is baie spesiaal vir ons familie, aangesien dit is waar my skoonouers op hul wittebrood was, asook my broer en skoonsuster (Jared en Tammy Carneson).

“Ryan en ek het ook daar wittebrood gehou en dit was waar ons reis begin het om Reef te maak. Ons wou graag ’n wittebroodsbaba hê. 

“Ons sal hom oneindig baie mis, maar ons is vir ewig dankbaar teenoor God dat hy vir ons twaalf wonderlike jare gegee het met ’n wonderlike engel op aarde. 

“Hy was ’n engel op aarde vóór hy een in die hemel geword het. ’n Ware vegter met eindelose liefde vir sy familie en elke mens op aarde wat ooit die vreugde gehad het om hom te ontmoet of sy getuienis te lees.”  

Reef is altyd gereed vir pret.
Reef was altyd gereed vir pret. Foto: Facebook

Baba Reef

In 2010 het die wêreld die eerste keer van “Baba Reef” en sy stryd teen leukemie gehoor. Op net 11 maande was hy die jongste ontvanger ooit van ’n beenmurgoorplanting in Suid-Afrika.

Daarna het hy aan transplantaatversus-gasheer-siekte (TVGS) begin ly, wat sy immuniteit en organe aangetas het. Sy fisieke ontwikkeling is ook geraak.

Lydia en Ryan het in 2011 besluit om na Los Angeles te trek om beter mediese behandeling vir Reef te kry. Aanvanklik het hy goed daarop reageer. Maar einde 2014 het die kanker sy greep op sy lyfie verstewig. 

Reef het toe ook velkanker op sy kopvel en gesig ontwikkel. Dis behandel met chemoterapie in roomvorm, maar later was sy kop en gesig met sere oortrek. Hy is toe verwys na die Cincinnati-kinderhospitaal in die deelstaat Ohio, en die familie het daarheen verhuis.

Teen laat 2020 moes ’n deel van sy skedel en buitenste breinwand verwyder word om die aanmars van die kanker na sy brein te stuit. 

En daarna het ’n nuwe struikelblok opgeduik: ’n wysiging aan Amerikaanse immigrasie-wetgewing. 

Die gesin het Engeland gekies, aangesien Lydia ’n Britse burger is, en Reef se Amerikaanse dokter het bande gehad met die Britse hospitaal waar hy verder behandel is.