Die fliek Oscar Pistorius: Blade Runner Killer se lokprent is onlangs uitgereik en gaan glo in November 2017 vrygestel word. 

Dit word as ’n biografiese fliek beskryf wat fokus op die aanloop tot Reeva se dood op 14 Februarie 2013 en die hofsaak daarna. Die paralimpiese atleet het Reeva op dié dag doodgeskiet. Hy is skuldig bevind en dien tans in die Atteridgeville-gevangenis in Gauteng sy ses jaar tronkstraf uit.

???? #reevasteenkamp #ripreeva #southafrica #blonde #beautiful #oscarpistorius #justiceforreeva

A post shared by Reeva Steenkamp ???? (@reeva.steenkamp) on

Die fliek word aangebied deur die Amerikaanse televisiestasie Lifetime, 'n filiaalmaatskappy van die mediamaatskappy A + E Networks in Amerika.

Tania Koen, regsverteenwoordiger vir Reeva se ouers, June en Barry, sê in 'n verklaring die paartjie rou steeds oor die “tragiese verlies van hul geliefde dogter”. “Hulle het geen kennis gehad van die maak van dié fliek nie.”

Die Steenkamp-egpaar is geskok en ontsteld om in 'n berig te lees dat die fliek deur die Steenkamps en haar ma se perspektief vertel word, sê Tania.

“June is nie deur Lifetime genader om deel te neem, kommentaar te lewer of selfs deel van die maak van die fliek te wees nie. Sy het geen bystand aan die vervaardigers verleen nie,” sê Tania.

Enige indruk wat geskep is dat die rolprent June se siening weerspieël, of dat die fliek deur die Steenkamp-familie onderskryf word, is onwaar, sê Tania.

“Die beskadigende en misleidende stelling wat in 'n berig deur Dateline Hollywood gemaak word, is nie deur Lifetime ontken nie.”

Sy sê June en Barry vra dat die president van A + E Networks, Nancy Dubuc, 'n openbare ontkenning van die bewering in Dateline Hollywood moet uitreik.