Die Amerikaanse regstudent was besig om die deurslaggewende balie-eksamen te skryf toe sy begin kraam, maar het nietemin aan ’n gesonde seun die lewe geskenk – en daarna steeds die vraestel voltooi. 

Brianna het geweet sy sou swanger wees wanneer sy haar finale eksamen om 'n prokureur te word moes aflê, maar toe tref die covid-19-pandemie en die inperking veroorsaak dat haar toetsdatum verander.

“Dit was veronderstel om in Julie te wees,” vertel die student aan die Loyola-universiteit in Chicago, Illinois. Maar toe dit uitgestel word na Oktober, was Brianna reeds 38 weke swanger.

Die toets is aanlyn afgelê en behels vier seksies van 90 minute elk wat oor twee dae geskryf word. Om te verseker dat student nie kul nie, moet 'n kamera die heeltyd aan wees.

Die nuwe ma het aan CNN vertel sy het ná 'n halfuur van eksamen skryf opgestaan en besef haar water het gebreek; sy is nie toegelaat om te loop nie en het die eerste seksie klaargemaak. 

Met ’n pouse het Brianna ’n paar belangrike oproepe gemaak en toe die res van haar eksamen gaan voltooi. 

“Ek het my blaaskans geneem, my skoongemaak, my man, vroedvrou en ma gebel, en gehuil, want ek was ’n bietjie paniekerig,” sê sy.

“Toe gaan sit ek om die tweede deel te skryf, want my vroedvrou het vir my gesê ek het tyd voor ek hospitaal toe moet gaan.”

Verskeie ure later het sy in ’n hospitaal aan ’n gesonde seun, Cassius Phillip, die lewe geskenk.

Daar was egter nog 'n dag van toetse oor wat Brianna vasbeslote was om klaar te maak, en sy het die finale deel van die eksamen die volgende dag in die hospitaal voltooi.

“Hulle het vir my ’n spaarkamer ingerig en 'n 'geen toegang'-teken op deur gesit,” vertel die dapper ma en voeg by dat sy met eksamenpouses haar nuwe pienkvoet geborsvoed het. 

Brianna behoort vroeg in Desember te weet of haar waagmoed vrugte afgewerp het wanneer haar eksamenuitslae bekendgemaak word.

Ons hou duim vas vir dié deurdrukker-ma!

Bronne: CNN, The New York Times, Daily Mail