Butler wil dit graag duidelik maak in die hof dat daar geen enkele studie gedoen is om te bepaal of donker kringe onder ’n mens se oë te wyte aan ’n gebrek aan slaap of moegheid verskyn nie.

Dit is na aanleiding van sy getuienis Dinsdag in die hof dat Henri se oënskynlike lusteloosheid en dowwe oë op die foto’s wat van Henri in die ambulans geneem is, waarskynlik toegeskryf kan word aan die epileptiese toeval wat hy in die nag gehad het.

Galloway sê dr. Michelle van Zyl, wat in Januarie 2015 die hoof van die ongevalle-eenheid by die Stellenbosch Mediclinic was, het getuig dat Henri die aand van 27 Januarie 2015 na die eenheid wou gaan.

Sy het hom as ontspanne en nie emosioneel nie beskryf. Hy het selfvertroue gewys en gemaklik gesels.

Sy het ook genoem hy het uit eie wil saam met James Reade-Jahn, sy suster, Marli, se destydse vriend, na die kliniek gegaan vir die behandeling van sy wonde.

Henri het na die dokter gegaan nadat hy die lyke van sy familie uitgeken het. Die polisie het hom twee tot drie uur later na die Mediclinic geneem. Sy gedrag het verander en hy was teruggetrokke en het bloot met enkele sinne reageer.

Henri se wonde

Galloway vra of dit moontlik is dat Henri sy beserings deur hom self toegedien is ná die epileptiese toeval. Butler sê die beserings is meer waarskynlik voor Henri se toeval aangebring.

Galloway sê ingeval die hof glo die wonde is deur Henri self toegedien, is dit waarskynlik dat dit ná die moorde plaasgevind het. Dit behels dat ’n denkproses plaasgevind het. Butler gee toe dat dit so kan wees.

Die onbekende ure

Die tydperk van 2 uur 40 minute wat Henri nie kan onthou nie, word bereken volgens tye wat sy selfoon aktief was. Vanaf 04:27 tot 07:12 was daar geen aktiwiteit op sy selfoon gewees nie.

Galloway sê Henri het voorheen beweer hy het by die trap afgeval nadat hy sy ma, Teresa, en sy suster, Marli, gesien het. Nou is die verduideliking dat hy ’n epileptiese toeval gehad het.

Adv. Pieter Botha (vir Henri) teken protes aan en sê dis nie wat Henri getuig het nie. Hy het getuig hy weet nie wat gebeur het nie.

Galloway stel dit aan Butler dat hy nie met wetenskaplike sekerheid kan sê hoe lank Henri se epileptiese toeval geduur het nie.

Butler gee toe, maar sê Henri se inkontinensie dui op ’n ernstige wanfunksionering van die brein.

Butler erken ook dat hy nie kan sê hoe lank die toeval, of die nasleep daarvan, geduur het nie.

Regter Siraj Desai sê Henri se ouers is vermoor. ’n Nat broek is ’n geringe nagevolg en onbelangrike detail. Butler sê hy sal die teenoorgestelde argumenteer, naamlik dat inkontinensie van groot belang is.

Toegang tot polisiedossier

Galloway noem dat Henri die polisiedossier bestudeer het voor sy verhoor in April begin het. In die dossier word daar melding gemaak van die bloedspatsels én die urine op sy broek waaroor die bloedspatselkundige kapt. Marius Joubert getuig het. Hy was dus deeglik bewus van die getuienis.

Sy vra Butler of die verskyning van die eerste mens ná die moorde, ’n gewapende polisieman, tot Henri se trauma kon bydra. Butler sê Henri se blaas sal minder saamgetrek wees, hy sal dus nie urineer nie.

Sers. Kleynhans, wat eerste op die toneel was, het destyds gesê Marli se regterarm het beweeg toe hy in die gesin se huis was.

Die moorde

Galloway vra aan Butler of dit moontlik is dat Henri die moorde gepleeg het, toe “wat ook al aangevang het” en daarna die epileptiese toeval gehad het. Butler: “Heeltemal, ja.”

Daarmee sluit sy haar kruisondervraging af en Botha kry geleentheid om weer voort te gaan.

Henri het geensins vir Butler tydens hul eerste ontmoeting ingelig dat sy geheueverlies aan die moorde gekoppel word nie.

Oorsig deur neuroloog

Butler erken hy het nooit vir Henri uitgevra of hy moontlik ’n geskiedenis van bednatmaak het nie. Tydens sy konsultasie op Sondag 13 November met Henri in die kliniek, het hy ook nagelaat om hom te vra of hy soms met ’n seer tong wakker word (’n teken van ’n epileptiese toeval in die nag).

Dit was ook dieselfde dag waarop hy Henri sou inlig dat hy op Woensdag 8 November ’n epileptiese toeval gehad het. Voorheen het Henri volgens Butler “nie die vaagste benul gehad” wat met hom verkeerd was nie.

“Jou diagnose volg twee en ’n half jaar later (ná die moorde) en die saak is hoogs omstrede en gelaai. Dit maak jou diagnose moeilik,” sê Desai aan Butler.

Butler sê hy moet gereeld sulke diagnoses maak.

Botha sluit die staat se saak op die 63ste dag van die verhoor.

Die saak word tot 12 Februarie 2018 uitgestel.

TOETSE OP HENRI VAN BREDA
  • Volgens Daniellé Janse van Rensburg, Henri se meisie, het dit op 8 November gelyk of wou hoes.
  • Hy het vorentoe geleun, toe agteroor geval, sy oë het gerol en sy liggaam het geruk. Hy het ook sy geheue baie skielik verloor. Henri was rooi in die gesig en sy kakebeen was geklem.
  • Sy dink die hele toeval het ongeveer een minuut geduur, maar Butler sê hy sal die tydsduur met ’n knippie sout neem omdat mense soms vanweë skok tyd oorskat.
  • Henri het swaar asemgehaal toe hy weer sy geheue herwin het, maar daar was nie speeksel (soos wat gewoonlik by epilepsietoevalle voorkom) teenwoordig nie.
  • Henri het erken hy het ongeveer ses glase wyn voor die toeval gedrink. Daniellé se pa het medikasie aanbeveel. Henri het dit 90 minute ná die toeval geneem en het 22:00 gaan slaap.
  • Volgens Daniellé het Henri ’n soortgelyke aanval in Februarie 2016 beleef. Dit was egter donker en sy kon nie die simptome so duidelik beskryf nie.
  • Henri is op 10 November deur dr. James Butler in die Constantiaberg-kliniek opgeneem waar hy die naweek deurgebring het en waar ’n langer elektro-ensefalogram-toets, wat 24 uur geduur het, op hom uitgevoer is.
  • Sy meisie was teenwoordig tydens die toetse. Volgens Butler was dit omdat pasiënte soms sekere simptome toon voor hulle hul bewussyn verloor en Daniellé sou waarskynlik die simptome herken.