Hein en ’n vriendin, Christelle Cilliers (18), het by ’n gastehuis op die dorp gaan koffie drink en is op pad terug huis toe op die motorfiets raak gery.

“My ma was besig om in die tuin te werk en het ’n harde slag gehoor. Toe sy en my pa daar aankom, sien hulle dis Hein wat daar lê,” vertel Herkie Swart, Hein se pa, aan Huisgenoot.

Herkie sukkel om die trane terug te hou. “Ek weet nie . . . dit is onaanvaarbaar. Hoe aanvaar mens jou kind is dood? Ek wil dit nie aanvaar nie,” sê hy.

Christelle het die motorfiets gery en Hein was agterop. Hulle het ’n besige straat in die dorp oorgesteek en is toe aan die kant deur ’n motor getref.

“Die fiets is middeldeur gebreek. Genadiglik is Christelle oukei. Sy het haar neus gebreek en ’n paar steke gekry, maar is getraumatiseerd. Ek was saam met Hein in die ambulans en hy het my hand gedruk. Ek dink dit was miskien sy manier om baai te sê vir sy pappa. Ag my ou bul. . .” sê Herkie voor sy stem weer kraak.

Hein is na Bethlehem vervoer waar dokters vir nog 20 minute gespook het om hom aan die lewe te hou, maar hy is vermoedelik weens ’n ernstige kopbesering oorlede.

Hein was aan die Hoërskool Reitz en het gedroom om ná matriek as ’n kinderoppasser in Engeland te gaan werk.

“Hy was gaande oor Engeland. Sy hele kamer hier agter is vol vlae van die land,” sê sy pa.

Hein saam twee van sy beste vriendinne, Lize-Marie Smith (links) en Ansje-Mari Jordaan (middel)
Hein saam sy jongste sussie, Simone (10)

Sy ouma, Sarie Swart, sê Hein en sy sussie, Anja (16), bly al vir byna 11 jaar in die huis saam hulle.

“Hein en ek het altyd in die tuin gestap. Dan pluk hy vir my blomme of sê ‘kyk Ouma, die blommetjie gaan amper blom’. Die kind se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was so knap om die huis ook. Gewas, gestryk, alles. Hy was mal oor kosmaak en huishoudkunde,” vertel Sarie.

Sy sê Hein was uiters liefdevol. “Hy het maklik drukkies gegee en sou by my sit of vir my ’n koppie tee maak. Ek weet nie. . . my hart is aan flarde,” sê sy.

Hein se familie vertel hy was liefdevol en saggeaa
Hein se familie vertel hy was liefdevol en saggeaard.

Sy ma, Sandra van Reenen, vertel Hein het “af-vlerk mense” gehelp. “Mense wat geselskap of liefde nodig het. Hy het hulle oor hul ontferm. Daar is ’n vrou op die dorp, Jenny Loots. Sy is eintlik oud genoeg om my ma te wees maar Hein het amper daagliks by haar gaan kuier. Haar kleindogter was so lief vir hom. Die arme dogtertjie. Hy het so vriende van alle ouderdomme. Hy sou altyd spot en sê tannie Jenny is sy ‘ou tannie girlfriend’,” sê Sandra.

Sy vertel Hein het al sy verhoudings ernstig op geneem en as jy sy vriend was, het sy kant in die verhouding gebring. “Hy is sentimenteel, die kind van my. Die goed wat belangrik in die lewe is, waaraan jy moét waarde heg, was vir hom belangrik.”

Hoërskool Reitz het ook dié roerende huldeblyk gedeel.


Die skool se Facebookblad word oorstroom deur medelye en almal vertel hoe Hein se sagte geaardheid hulle harte geraak het.

Sandra sê die polisie is nog besig met hulle ondersoek na die dood van Hein. “Ons weet nog nie of ’n saak oop gemaak gaan word nie.”

Die polisie in Reitz was nie onmiddellik beskikbaar om kommentaar te lewer nie, en dit sal bygewerk word.

  • Hein se gedenkdiens word Vrydag 21 Augustus om 11:00 vanuit die NG Moederkerk in Reitz gehou.