Dian (Didi) Terblanche (18) is elke 48 uur teater toe gevat om sy wonde skoon te maak en te behandel, volgens die Hero Burn Foundation se Facebookblad. Die organisasie bied ondersteuning aan brandslagoffers en hulle families.

Volgens ’n verteenwoordiger van die organisasie was Dian en sy pa, Dieter, besig om ’n brand op hul plaas net buite Reitz te bestry toe die wind draai en die vlamme Dian oorval het.

Dieter het in die voorval ’n ernstige brandwond aan sy arm opgedoen. “Dian se regterarm moes weens die wonde geamputeer word,” sê ’n verteenwoordiger van dié groep aan Huisgenoot.

Hy was kaptein van Hoërskool Reitz se eerste rugbyspan.

“Rus in vrede, pragtige held Didi,” lees ’n inskrywing op die Hero Burn Foundation se Facebookblad.

“Jy sal deur so baie mense gemis en liefgehê word. Ons vra dat almal aanhou bid vir Didi se ouers, broers, grootouers en die res van die familie en vriende bid. Ons innige meegevoel. Ons rou saam met julle,” lui die inskrywing.

Sy ma, Riana, het nog nie kans gesien om oor haar gesin se groot hartseer te praat nie.

Boodskappe van ondersteuning en simpatie stroom in op sy ma se Facebookblad. 

“Baie sterkte vir julle as gesin en familie. Mag Hy julle vertroos en versterk in die moeilike tyd. Ons bly bid vir julle. Baie liefde,” lui een van die boodskappe.

“Mag Jesus julle optel en baie styf vashou,” skryf nog ’n vriendin.

“Ek hou Didi styf vas in my hart. Rus sag in Jesus se arms,” skryf ’n ander.

Medelye stroom ook in op Dieter se Facebookblad.

Dian laat sy ouers, grootouers en twee broers, TJ en Paul, agter.