Ronelle Seitz (59) het op 26 Oktober by familie se huis se trappies gestruikel en geval.

’n Familielid het haar probeer ophelp toe die twee honde haar aangeval het. 

Bulterriër
Ronelle moet plastiese chirurgie ondergaan nadat twee honde haar aangeval het. Foto: Verskaf

Die familie het vergeefs probeer om die honde van haar af te kry en hulle moes albei doodskiet.

Ronelle se kopvel is afgeruk, en sy is aan haar gesig, regterarm, bene, voete en die res van haar lyf gebyt. 

Volgens Tess Riekert, ’n familiewoordvoerder, het Ronelle op 30 Oktober ’n tweede operasie ondergaan.

“ ’n Gedeelte van haar vel op haar bobeen is op haar kop oorgeplant. Dokters het ook begin om vel op haar gesig oor te plant en hulle is tevrede met die bloedtoevoer na haar gesig.

“Die basis vir die rekonstruksie van haar neus is ook in die operasie gelê.” 

Sy is steeds in die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. 

Tess sê die volgende operasie word vir 11 November beplan waar hulle verder aan haar gesig gaan werk. 

Ronelle het nie ’n mediese fonds nie en sy en haar familie maak op donasies staat om seker te maak dat sy ten volle herstel. Die hospitaal se bestuur het ook vir die media en die publiek gevra om Ronelle se privaatheid te respekteer sodat sy ten volle kan herstel. 

“Sy benodig so veel rus as moontlik en ons moet enige risiko van infeksie uitskakel,” sê Fabion Bennett, die algemene bestuurder by die Netcare Pholoso-hospitaal. 

“Die voortdurende media-aandag het ’n beduidende impak op haar en haar familie.”