Lisa-Marie Beyers by haar pa, Pieter. Foto: Verska
Lisa Marie Beyers by haar pa, Pieter. Foto: Verskaf

Vir sowat anderhalf jaar daarna het dit goed gegaan, tot sy in April verlede jaar verwerpingsprobleme begin ontwikkel het. Haar ouers vertel roerend van haar hernude stryd, en hoe dapper hul lieflingdogter enduit was.

Pieter Beyers is meestal aan die woord toe ons met die ouerpaar gesels die aand ná Lisa se dood tuis op Robertson. Maar die woorde kom vir hom baie moeilik.

Al was dit nie onverwags nie, kon niks hom en Lana regtig eindelik voorbrei op die verlies van hul oudste kind nie wie se moed en omgee vir ander ten spyte van haar eie stryd soveel mense aangegryp het.

“Ons mis haar ongelooflik . . . die huis is leeg,” vertel hy terwyl die emosie hom telkens oorweldig en snikke soms deur sy bors skeur.

Lisa het in Desember 2018, kort ná haar ingewikkelde oorplantingsoperasie, en toe weer ’n jaar daarna, aan Huisgenoot vertel hoe haar daaglikse bestaan danksy ’n lewe-gewende orgaanskenking verander het.

Hoe wonderlik dit was om nie meer heeltyd te voel asof sy deur ’n strooitjie probeer asemhaal nie . . . en al die dinge te kon doen wat sistiese fibrose haar ontneem het: van minder as 19%-longfunksie kort voor haar operasie in die Groote Schuur-hospitaal tot 84% twee maande daarna, tot 95% ’n jaar daarna.

Van ’n werklikheid waar sy, teen haar gr. 11-jaar, feitlik permanent suurstofbystand moes hê en uitgerekte behandelingsregimes soggens en saans om haar longe van sistiese fibrose se kenmerkende klewerige slym skoon te kry . . . na die gewaarwording dat haar liggaam heeltemal van asemnood verlos is, en dat sy sodanig herstel het dat sy “alles kon doen”.

Saam met haar ma, Lana, boetie, Nelius, en sussie, Karlien, tydens Huisgenoot se besoek einde 2018. Foto: Jacques Stander
Saam met haar ma, Lana, boetie, Nelius, en sussie, Karlien, tydens Huisgenoot se besoek einde 2018. Foto: Jacques Stander

Sy het nog trots ’n foto van haar by haar nuwe motor met haar rybewys gewys; die pretdraf-, toutrek-, tennis- en perdrygeesdriftige wat ook nasionale kleure in karate verwerf het maar kort voor haar oorplanting te siek was om verder deel te neem. Sy wou nog haar swart gordel verwerf en oorsee gaan deelneem, en sy het soveel ander planne gehad.

Lisa-Marie Beyers baie trots op haar bestuurslisen
Lisa by haar motor met haar rybewys. Foto: Verskaf

Maar in April verlede jaar het sy skielik probleme met haar skenkerlonge begin ontwikkel.

Pieter vertel: “Omdat haar immuunstelsel voortdurend onderdruk is deur die medikasie wat sulke oorplantingpasiënte moet neem, het ons haar natuurlik baie goed opgepas teen covid. Maar toe sy in April begin sleg voel, moes ons haar Groote Schuur toe invat (waar sy ook die oorplanting ondergaan het).

“Ons was nog baie bekommerd omdat dié hospitaal 'n hoofkwartier vir covidbehandeling in die Kaap is en sy in so ’n hoërisiko-groep was. Maar ons kon nietemin nie anders nie.

Pa Pieter by haar in die hospitaal in 2018. Foto: Verskaf
Pa Pieter by haar in die hospitaal in 2018. Foto: Verskaf

“Dit blyk toe dat sy ’n kwaai toestand van oorplantingsverwerping ontwikkel het. Daar’s basies twee soorte verwerping en sy het albei gehad. 

“Hulle het toe met intense behandeling begin en met dokters oorsee gekonsulteer. Hulle het alles probeer, van die sterkste teenverwerpingsmedikasie . . . en in ’n stadium het hulle ook haar bloed uit haar liggaam getap, teenliggaampies uitgefiltreer en haar bloed weer teruggetap. Dit was ’n baie pynlike proses.

"Sy was byvoorbeeld 14 dae in die hospitaal, toe huis toe en toe weer hospitaal toe. Dit was baie traumaties vir haar. Die dokters het hul bes gedoen, maar kon nie (die verwerping) keer nie.

“Van April, Mei, Junie af het haar longfunksie stelselmatig gedaal, tot ongeveer 25% teen November.

“Sy moes weer permanent suurstof kry. Ons het eers vir haar ’n draagbare masjientjie gekry sodat sy nie tot haar kamer beperk sou wees nie en nog kon rondbeweeg, maar dit was ’n onkeerbare afwaartse spiraal en mettertyd was die mobiele masjien se suurstofvoer ook nie meer voldoende nie, en moes sy aan ’n vaste staanmasjien gekoppel word.

“Dit was vir ons almal baie erg, maar dit was duidelik dat sy weer op die oorplantinglys geplaas moes word. Dit was al wat haar kon red.

“En sy het steeds baie hard gewerk om haar gesondheid en gestel op so ’n vlak te hou dat, sou ons so bevoorreg wees om weer ’n geskikte skenker te kon kry, haar liggaam dit sou kon verduur en sy die oorplanting sou oorleef.

“En Lisa het regtig hard probeer, sy het enduit probeer veg, sy’t hard baklei,” vertel Pieter, met die pyn wat opnuut deur hom ruk. “Maar haar liggaampie het eindelik ingegee; sy was net te moeg. Sy het geweldig gewig verloor, was later ’n skadu van die mens wat sy was.”

Lisa-Marie en haar hondjie, Popcorn. Foto: Jacques
Lisa en haar hondjie, Popcorn. Foto: Jacques Stander

Sedert Oktober moes Lisa die meeste van haar tyd in die bed deurbring.

“Maar deur dit alles het sy steeds ge-smile as ons by haar kamer instap. Haar gesig het opgehelder, sy was altyd bly om ons te sien.

“Ek en Lana het die laaste ruk baie nagte by haar deurgebring. Lana was elke dag by haar om haar te versorg, te help eet, medikasie te gee.

“Ek moes werk, maar het oor naweke snags saam met haar deurgebring en andersins soveel moontlik tyd saam met haar deurgebring. En dit was maar hoe ons lewe was. Ons het 'n baie noue band met ons dogter gehad.

“Ons het geweet wat kom, en sy het geweet wat kom. En sy het baie vrede gehad, sy’s ’n baie gelowige mens.

“En eendag toe ek vir haar sê ek’s baie jammer dat ek nie haar pyn kan dra of verlig nie, dat ek as pa nie so my werk kan doen om haar te beskerm nie toe sê sy: ‘Dis oukei, Pappa, dis die paadjie wat die Here my gegee het.’ ”

Onder die talle geliefdes wat Lisa agterlaat is haar kleinboet, Nelius, en sussie, Karlien. “Hy is net 11, ’n baie fynbesnaarde kind. Eenkeer, toe ek vir Lisa Psalm 23 voorlees en nie verder kon nie, het hy ingekom, die Bybel net stil by my gevat en dit vir haar klaar gelees.

“En Karlientjie, wat sewe word, het ’n prent geteken van ons huis. Bokant die huis is haar sussie, en bo haar ’n engel wat haar kom haal . . .”

Daar’s ook Zach Verster, aan wie Lisa in September verloof geraak het.

“Dit was op my en Lana se huweliksherdenking en vir ons ’n groot verrassing. Hy is ’n stil, kalm kind, soos sy wys vir sy jare, en hy was wonderlik met haar, hoe hy met haar gewerk en haar vertroos het. 

“Ons kon ook sien hoe lief sy vir hom was in hoe sy hom in video-clips op haar foon vashou.”

Lisa was besonder lief vir diere en veral verknog aan haar mopshondjie, Popcorn. “Hy het haar pal opgepas toe sy voor haar operasie so siek was, en nou weer. En meer onlangs het ons ook vir haar die tefie gekry was sy so graag wou hê. Sy het dikwels met Twixie in haar arms geslaap en Popcorn ook op die bed.”

En Popcorn soek nou oral na sy nooi, vertel Pieter bewoë.

“Weet jy, ek vang myself ook dat ek byvoorbeeld in die tuin uitstap, en al weet ek sy’s nie meer daar nie, hoop dat ek haar op die trappies sal sien sit. Ons sit nou hier in haar kamer op haar bed, en ek mis haar kop op die kussing. Haar kamer is leeg, die huis is leeg. Ons mis haar ongelooflik baie . . .”

Voor sy laas jaar te siek geraak het, was Lisa nog betrokke by praatjies om orgaanskenking en bewustheid rondom sistiese fibrose te bevorder.

“Dit was vir haar baie belangrik, ook omdat sy self soveel waardering gehad het vir die skenker wat haar ekstra tyd gegun het.

In haar eie skoonheidsterapie-salon wat sy van die huis af bedryf het. Foto: Jacques Stander
In haar eie skoonheidsterapie-salon wat sy van die huis af bedryf het. Foto: Jacques Stander

“En selfs teen Oktober het sy nog kans gesien om met haar suurstofmasjientjie en al haar gradering vir haar swart gordel, haar 1ste dan, te gaan aflê en sy het dit geslaag.”

Hulle is diep dankbaar jeens almal, van vriende, kennisse, skoolmaats en onderwysers tot tientalle Afrikaanse kustenaars en motorfietsklubs tot ’n aanlyn radiostasie wat ’n tydgleuf aan haar gewy het, wat deur gebede, boodskappe en videoboodskappe, insluitend liedjies spesiaal vir haar, na hul kind uitgereik het, benadruk Pieter en Lana.

“Ons kon sien hoeveel dit vir haar beteken het. 

“Haar liefde vir mense, haar omgee vir ander, dat sy ten spyte van haar uitdagings altyd ’n bok vir sports was, en haar deursettingsvermoë sal ons altyd bybly.”

Op Facebook het Pieter en Lana ook dié afskeidsboodskap geplaas: Ons engel Lisa dans tussen die engele in ons Vader se troonkamer . . . Daar is geen pyn nie. Haar aardse stryd is verby. Ons gaan jou baie mis, skat. Breathe Free! 

En nou sê Pieter: “Sy het baie gely teen die einde. Dis ’n wrede, wrede siekte. Haar liggaam moes baie hard werk vir elke asemteug.

“Maar nou is sy vry . . .”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe