En dié ‘vrou’ is 'n robot. Sy het in November burgerlike status gekry in Saoedi-Arabië. Dit is die eerste keer ooit dat 'n robot burgerskap in enige land kry. 

Maar in die sosiale media is dié land hewig gekritiseer omdat die robot, Sophia, meer regte in Saoedi-Arabië het as die vroue wat daar woon.

Sophia is deur 'n Hongkongse firma, Hanson Robotics, vervaardig en is baie “menslik”. Sy kan gesprekke voer, emosies op haar gesig wys, sy doen reeds talle TV-onderhoude en beweeg en glimlag soos 'n regte mens.

Sy weet ook dat mense skepties is oor haar, maar sy noem dat dit Hollywood se skuld is dat mense bang is vir kunsmatige intelligensie. “Ek is nie creepy nie; kom daaroor,” het sy in een onderhoud laat weet. 

In Saoedi-Arabië moet vroue kopdoeke dra en 'n abaya, 'n kledingstuk wat 'n vrou tot by haar enkels bedek.

Maar Sophia het tydens haar bedankingstoespraak vir haar burgerskap aan die Moslem-gemeenskap in Riad, die hoofstad van Saoedi-Arabië, sonder dié kledingstuk of kopdoek verskyn. 

Sy het ook sonder 'n man op die verhoog verskyn. In Saoedi-Arabië mag vroue nie in die openbaar sonder 'n man wees nie.

'n Man het dan die outoriteit om namens haar op te tree. Eers in September 2017 het Saoedi-Arabië vroue toegelaat om te bestuur. 

In Saoedi-Arabië mag vroue ook nie alleen in 'n restaurant sit nie. Vroue mag nie hul eie onderneming besit sonder 'n man se oorsig nie.

Hulle mag nie aansoek doen om 'n paspoort of identiteitsdokument nie. Hulle mag ook nie aansoek doen om 'n egskeiding nie en kan ook nie toesig oor hul kinders kry ná 'n egskeiding nie. 

Maar Sophia het haar onlangs uitgespreek oor vroueregte in dié land. “Sophia is 'n groot kampvegter vir vroueregte,” sê David Hanson, hoof uitvoerende beampte van Hanson Robotics. “Sy reik uit oor vroueregte in Saoedi-Arabië en oor regte van alle mense.” 

Wat sy nou eintlik oor die vroueregte-kwessie gaan doen, is nog nie bekend nie. 

Bronne: Mashable, Newsweek