Haar pa en broer, albei bekende Kaapse sakemanne, en hul boekhouer is skuldig bevind aan altesaam meer as 300 klagte van bedrog, vervalsing en uitreiking en versuim om inkomstebelastingopgawes in te dien.

Tammy se pa, Thomas, is tronkstraf van drie jaar opgelê. Haar broer, Tom-Ross, het vier jaar opgeskorte tronkstraf gekry en is deur die hof aangesê om R615 592 aan die SAID terug te betaal. 

Tom-Ross (35) is ook vir 18 maande onder huisarres geplaas en gemeenskapsdiens vir vier uur per week vir die duur van sy straf. Tom-Ross het in 2011 ’n platinumprys gekry toe hy as een van Suid-Afrika se top-100 entrepreneurs aangewys is.

In sy pleitooreenkoms word beweer dat hy nie van die begin af geweet het van die bedrogspul nie, maar toe hy daarvan uitvind, het hy deel daarvan geword en saam met sy pa vals eise ingedien. Hy het skuld beken en is "vol berou" oor sy optrede. 

Tom-Ross is skuldig aan bedrog. Foto: Facebook
Tom-Ross is skuldig aan bedrog. Foto: Facebook

Hul boekhouer, Ivor, het ook vier jaar opgeskorte tronkstraf gekry en is vir 18 maande onder korrektiewe toesig geplaas, wat huisarres en vier uur per week se gemeenskapsdiens insluit vir die duur van sy straf.

Ivor (38) is in Franschhoek gebore en is “diep berouvol oor sy gedrag en het aansienlike stres gely as gevolg van die aanklagte,” lui sy pleit- en vonnisooreenkoms.

Tammy-Anne, van die Paarl, is ’n aktrise, rolprentmaker en TV-aanbieder wat deesdae in Los Angeles woon. Sy was onder meer die aanbieder van Roer! op kykNET.

Die beskuldigdes se bedrogskema het in September 2008 tot November 2011 geduur waartydens hul optrede tot ’n verlies van R615 592 in SAID-inkomste gelei het. Hulle het bedrieglike BTW-eise aan SAID ingedien.

Volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het hulle vervalste koopooreenkomste, fakture en afleweringsnotas aan die SAID ingedien om die BTW-eise te bewys en verifieer.

“Hul beslote korporasies wat hulle as ’n front gebruik het om SAID te bedrieg is Sontala Wholesale and Retail 4, CAT business Suppliers, GDO Distributors and Suppliers 10 en Fortuin Investments,” noem die NVG.

Thomas was insolvent ten tyde van die misdade. “Hy het dit gedoen om homself en sy familie, hul geregistreerde beslote korporasies en hul wedersydse boekhouer te verryk tot die nadeel van SAID,” sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG. 

Hy sê hulle verwelkom die vonnis. “Ons troos ons ook daaraan dat die hoofoortreder uit die gemeenskap verwyder word in terme van die direkte tydperk van gevangenisstraf wat opgelê is,” sê Eric.

Hy het bygevoeg die ondernemings is nie meer geregistreer nie en kan dus nie meer handel dryf nie en die geld wat van SAID gesteel is, is terugbetaal deur Tom-Ross as deel van sy pleit- en vonnisooreenkoms. Ivor sal ook by die nasionale belastingpraktisynsraad aangekla word, sê Eric.